Familie en vriende van die vermoorde Benetoh Wyngaardt op 24 Maart voor die hof.

‘Geregtigheid vir pa en vredemaker’ van Mount Pleasant in Hermanus


Verlede jaar se Kerstyd is iets wat die familie en vriende van die 26-jarige Benetoh Wyngaardt wil vergeet.

Dié gewilde inwoner van Mount Plea- sant in Hermanus is op 7 Desember 2025 in die buurt doodgesteek nadat hy glo net meer wou uitvind oor ‘n onderonsie wat in die straat gebeur het.

Volgens ‘n ooggetuie het hy daardie dag gehoor van ‘n bakleiery en wou net meer weet. “Benetoh was altyd die vredemaker en wou net die bakleiery oplos. Min het ons geweet dit sou tot sy dood lei,” het die ooggetuie vertel.

Volgens dié getuie het Benetoh van die toneel af weggestap toe die verdagte hom met ‘n mes doodgesteek het. “Ons almal was so geskok toe dit gebeur. Niemand het dit verwag nie.” Benetoh is op die toneel dood.

Volgens konst. Ndakhe Gwale, ‘n woordvoerder vir die Wes-Kaapse polisie, word ‘n moordsaak ná die voorval in Sweetpeastraat, Mount Pleasant, ondersoek. “ ’n 35-jarige vrou is dieselfde dag nog in hegtenis geneem,” het Gwale bevestig.

Eliziaan Antonie het aanvanklik op 9 Desember in die Hermanus-landdroshof weens die moord op Benetoh verskyn. Sy is op 17 Desember op borgtog van R1 000 vrygelaat. Die saak is toe tot 24 Maart uitgestel.

“Terwyl sy lekker saam met haar fami-lie Kersfees kon vier, het ons gerou,” sê Benetoh se familie. Sy familie en vriende het verlede Dinsdag (24 Maart) voor die hof met plakkate byeengekom en geregtigheid geëis.

“Benetoh was ‘n mensemens wat nie konflik gesoek het nie. Hy het by SupaQuick gewerk en het twee kinders gehad, vir wie hy gelewe het. Ons kry swaar, hy word elke dag gemis,” sê ‘n vriendin.

Benetoh se ma, Bonita Wyngaardt, sê haar lewe het ná haar seun se skielike dood in ‘n handomkeer verander.

“Dit was so onnodig; ek kom nie oor sy dood nie. Nadat ons weer in die hof was, het dit vir my gevoel of al die ou wonde weer oopgekrap word,” sê Bonita. Sy vertel ook dat sy vir sielkundige hulp gaan om die verlies te verwerk.

Antonie se moordsaak is weer uitgestel – dié keer tot 2 Junie.

• Intussen het ‘n Hermanus-inwoner ‘n pleidooi op Facebook geplaas waar sy inwoners nooi om deel van ‘n vreedsame optog vandag (8 April) te wees. Sy vra in die video dat mense teen seksuele geweld teen vroue en kinders in Hermanus moet opstaan. Die optog begin om 07:30 by Gateway-sentrum.Die pleidooi volg nadat ‘n 42-jarige sakeman van Hermanus verlede jaar in Junie in hegtenis geneem is op drie aanklagte van verkragting, seksuele voorbereiding en blootstelling van ‘n minderjarige aan pornografie.

“Dit gaan ook oor ander sake wat tans in Hermanus aan die gang is, soos die IT-spesialis wat vir kinderpornografie in die hof verskyn het en die gastehuiseienaar en instrukteur wat weens verkragting aangekla word. Dan praat ons nie eens van al die ander vroue en kinders wat te bang is om ‘n klagte by die polisie aan te meld nie.”

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article