TygerBurger

Hartzenberg wil as David in kykNET-drama ‘Beter as gister’ stereotipes afbreek

Enrico Harzenberg
Enrico Hartzenberg op die stel van kykNET se weeklikse drama, ‘Beter as gister’.
TygerBurger

Hartzenberg wil as David in kykNET-drama ‘Beter as gister’ stereotipes afbreek


Stilsit is min vir Sarepta se kreatiewe gees, Enrico Hartzenberg.

Hy kan vele hoede dra — skrywer, teaterskepper, akteur, filmmaker, inhoudskepper … maar jy gaan hom nie sommer in ‘n boksie druk nie.

Bewus van sy herkoms, wil hy sy gemeenskap “represent” en terselfdertyd stereotipes afbreek.

Tans is Hartzenberg te sien in Beter as gister, ‘n nuwe weeklikse dramareeks van 13 episodes op kykNET.

Wil inspireer

Hy speel David, ‘n jong professionele man wat die bestuur van ‘n bemarkingsmaatskappy oorneem nadat die eienaar en grootbaas (gespeel deur Frank Rautenbach) in ‘n ongeluk was.

“Hy bestuur die maatskappy en is in die storie om ‘n struikelblok te wees vir Marco (gespeel deur Neels van Jaarsveld),” vertel hy.

Enrico Harzenberg
Enrico Hartzenberg tydens die verfilming van kykNET se weeklikse dramareeks, Beter as gister, wat tans elke Dinsdag om 20:00 op DStv kanaal 144 wys.

Hartzenberg het die rol baie geniet. “Ek wil altyd rolle speel wat my uit my gemaksone kry. As ‘n kind wat in ‘n wendyhuis grootgeword en 7de Laan gekyk het, na mense soos Paula… Ek het myself gesien in ‘n kantoor. Ek is baie lief om hoëstatusrolle te speel.”

Hy vertel David is baie kompeterend, gefokus en hardwerkend. “Hy sal enigiets doen om iemand uit sy pad te kry, want sy einddoel is om die grootbaas in die maatskappy te wees.”

Hartzenberg wil doelbewus wegbly van enige stereotipes rondom bruinmense. “Daai ‘representation’ vir bruinmense…” Dit is wat vir hom belangrik is — om ander te inspireer en sienswyses te verander.

Die terugvoer wat hy gekry het nadat hy ‘n uittreksel van sy vertolking as David op sosialemedia gedeel het, is goed ontvang en dit spoor hom aan. “Mense in die bedryf het ook gesê hulle is trots op my.”

Ervaring

Dit was sy eerste groot rol vir ‘n TV-drama en as ‘n jong akteur moes hy homself op stel herinner dat bekende akteurs in daardie oomblik daar sy kollegas was.

Hy het lof vir sy mede-akteur Neels van Jaarsveld. “Hy het baie ‘space’ gehou vir my en was oop vir samewerking. Ons sou woorde vir mekaar voorsê en mekaar net praat deur die ‘scene’.

Enrico Hartzenberg en Neels van Jaarsveld (Marco).
Enrico Hartzenberg saam met mede-akteur, Neels van Jaarsveld (Marco in ‘Beter as gister’).

Van Jaarsveld was oop vir voorstelle en Hartzenberg kon ook baie by hom leer, soos ‘n mentor.

Daar gaan baie aan op stel en om gefokus te bly, is nie altyd maklik nie. Om tot agt tonele op ‘n dag te verfilm wat nie altyd volgens die verloop van die storie geskiet word nie, vat kophou. “Ek het so ‘n klein boekie waarin ek al my notas gemaak het.” Tussen tonele deur was daar nie juis blaaskans nie en selfs tydens middagete sou die regisseurs met die akteurs praat. Tydens kostuumwisseling sou Hartzenberg gou sy notas nagaan.

Die regisseur Rene van Rooyen het gehelp om ‘n kalmte te skep voor verfilming. “Kudos vir Rene — sy is regtig ‘n goeie regisseur. Ek sou voorstelle maak en sy sou dit nie net afskiet nie.”

Professioneel uitbeeld

Hy wou seker maak David is nie ‘n stereotipe nie. “Een van die goed waaraan ek myself moes herinner was dat David nie aggressief kon raak teenoor Marco nie – ‘no way’, want hy is ‘n jongman in ‘n ‘formal setting’.

“My groot ding is dat jong bruinmans ‘represented’ moet voel (in ‘n korporatiewe omgewing). Daar is nie baie rolle soos daai om ‘n groot ‘scene’ te maak in ‘n ‘company’ nie. Die rol moet sê: ‘we do belong in these spaces’.”

Hy wou David professioneel uitbeeld sonder te veel emosie. “Hy (Marco) werk onder my en dis dit. David is Marco se baas; ek gaan hom nie sag of aggressief speel nie; ek gaan hom baie outoritêr speel, want dit is wat die rol van hom vereis.”

Die reeks is in Augustus verlede jaar verfilm en het op 30 Junie op kykNET begin wys. Buiten Van Jaarsveld en Rautenbach sluit die rolverdeling Edwin van der Walt, Elton Landrew, June van Merch, Rolanda Marais en Jill Levenberg in.

Liefde is Rooi

Hartzenberg se produksiemaatskappy, Hartzenberg Films, was oor die laaste paar jaar verantwoordelik vir verskeie kortfilms soos Mr. Isaacs, Sister Dinges, After Quiet en Ou Ses: Elke Move Tel, wat as die Heart & Hustle-antologie in sommige Ster-Kinekor-teaters speelkans gekry het.

Oor wat voorlê, is hy veral opgewonde oor die film, Liefde is Rooi, se debuut in September, met onder andere Lee-Ann van Rooi en Abduragman Adams.

Liefde is Rooi film poster
Liefde is Rooi, die film sal in September te sien wees.

“Dit was my heel eerste ‘baby’ wat ek ooit geskryf het,” sê hy oor sy teaterstuk wat hy in matriek (2014) geskryf het en in 2018 vir die Stellenbosch-woordfees aanvaar is.

Een ding is seker, hou hom maar dop, want hierdie storiemaker se storie(s) is nog lank nie uit nie.

LEES OOK: Groot verskeidenheid plaaslike stories wag by 14de kykNET Silwerskermfees

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article