Enrico Hartzenberg se nuutste rolprent, Liefde is Rooi, sal van Donderdag 24 September in sekere Ster-Kinekor-teaters as deel van ‘n Erfenismaand-program vertoon word.
Die rolprent is ‘n verwerking van die eerste professionele verhoogstuk deur Hartzenberg, wat in Sarepta, Kuilsrivier, grootgeword het. Die stuk was in 2018 by die Stellenbosch Woordfees op die planke en het hom ‘n feesbenoeming vir Beste opkomende kunstenaar besorg. Hartzenberg het die skermweergawe onafhanklik gefinansier en deur sy produksiemaatskappy Hartzenberg Films vervaardig.
“Liefde is Rooi is so persoonlik vir my,” het Hartzenberg gesê. “Die storie het na my toe gekom toe ek op die rand van my ouma se bed gesit en saam met haar tee gedrink het. Sy het my eerste tweedehandse laptop vir my gegee en al wat ek kon sien, was ‘n jong seun wat sy twee susters van ‘n generasievloek probeer red.”
Geheime en geheue
Liefde is Rooi gaan oor ‘n familieraaisel wat die rouproses, herinneringe en vergete geheime ondersoek. Die fliek volg Prudence, die jongste van drie broers en susters, wie se wêreld deur die skielike dood van haar ouers op sy kop gekeer word.
Terwyl die familie hul verlies verwerk, raak Prudence onrustig oor haar broer James, wat waarsku “grief doen slegte dinge aan die memory“. Sy begin in die familie se verlede delf en word gedwing om te vra wat sy onthou en wat aan haar vertel is.
Die rolverdeling sluit Meggan-Lee Johnstone, bekend vir haar werk in Netflix se Blood & Water, Sanchia Davids, wat as Miss Thursday in Netflix se One Piece verskyn het, en Joshua Vraagom, wat in Noem My Skollie gespeel het, in.
Die gesoute akteurs Abduragman Adams en Lee-Ann van Rooi verskyn ook. Nuwelinge wat hul buiging maak, sluit in Ameer Noordien (in die musiekwêreld bekend as Young OG CPT), Terriano Duimpies (Temple Boys), Diego Adams en Fiki Orzim. Ethan Patton, wat in Noem My Skollie as Bompie verskyn het, is ook te sien.
Vertonings
Die rolprent word as deel van die Liefde is Rooi-antologie gewys wat met My Best Friend open.
Die vrystelling volg op Hartzenberg Films se vorige Heart & Hustle-antologie by Ster-Kinekor, waar verskeie vertonings uitverkoop was.
Die fliek draai van 24 September af by Ster-Kinekor-teaters in die V&A Waterfront, N1 Stad, CapeGate Somerset Mall en Garden Route Mall.
LEES OOK: Hartzenberg wil as David in kykNET-drama ‘Beter as gister’ stereotipes afbreek



