Worcester Standard & Breederivier Gazette

Hartseer ná jong assistent-wynmaker van Tulbagh sterf

Wyle Jaheim Kock
Worcester Standard & Breederivier Gazette

Hartseer ná jong assistent-wynmaker van Tulbagh sterf


“Hy was my alles. Dit voel ek wil nie meer lewe nie.”

So sê die bedroefde ma van die assistent-wynmaker en rugbyspeler, wyle Jaheim Kock (24), van Tulbagh, wat voorverlede Vrydag (26 Junie) in die Tygerberg-hospitaal oorlede is. Dit volg drie maande nadat Jaheim deur ‘n kennis op die R44-pad by Tulbagh raakgery is.

Elzette Kock (41) sê sy is verpletter deur haar seun se dood. Hy was die oudste van vier kinders.

Jaheim het ten tyde van sy dood as assistent-wynmaker by Saronsberg Wine Cellar in Tulbagh gewerk. Hy het ook vir die Tulbagh-rugbyklub uitgedraf.

Volgens Elzette was Jaheim en sy vriende op 1 Maart, die oggend van die ongeluk, van Tulbagh onderweg na Wolseley om ‘n kennis tuis te gaan aflaai.

Kort nadat haar seun die kennis by sy huis afgelaai het, het dié jong man besluit om met sy pa se motor saam met Jaheim-hulle terug Tulbagh toe te ry.

Op pad terug het Jaheim se motor op die R44-pad sonder brandstof gaan staan. Sy ma vertel die jong man en vriende het toe verder gery Tulbagh toe om ‘n sleeptou te gaan haal. Volgens Elzette het die jong man haar seun en ‘n vriend, wat saam met hom buite sy (Jaheim se) motor gestaan en wag het, met die terug- keer raakgery.

Dokters by Ceres-hospitaal het Elzette meegedeel haar seun se bekkenbeen is gebreek. Jaheim is dieselfde dag na die Tygerberg-hospitaal oorgeplaas. Jaheim se vriend, wat sy been in die ongeluk gebreek het, is twee dae later uit die Ceres-hospitaal ontslaan.

Jaheim het etlike operasies in die Tygerberg-hospitaal ondergaan. Elzette het die heeltyd by haar seun langs sy hospitaalbed gewaak.

Elzette het emosioneel geraak en in trane uitgebars toe sy Jaheim se laaste oomblikke met Standard Breederivier Gazette deel.

Jaheim was op die dag van sy heengaan aanvanklik in ‘n diep slaap. “Toe hy wakker word, toe vra ek hom ‘waar was jy dan nou gewees?’ Hy het geantwoord met ‘Mammie, ek was by die huis. Mammie moenie worry nie.’ Ons het mekaar toe omhels.”

Volgens Elzette het Jaheim haar gevra om hom op sy bed op te skuif. Sy en sy pa (Elton Page) het hom toe gemaklik gemaak. Elzette sê in daardie stadium was Jaheim se rugby-spanmaats ook in die vertrek.

“Hy (Jaheim) het my styf gedruk en my ‘n klop op my skouer gegee. Omdat die kamer in daardie stadium vol besoekers was, het sy pa na buite gegaan.

“Jaheim wou toe weet ‘Mammie, waar is my pa?’ Toe sy pa terug in die kamer is, toe gee Jaheim hom ‘n handdruk, terwyl hy my met sy ander arm omhels.”

Volgens Elzette het drie dokters kort hierna by Jaheim se hospitaalkamer ingestap. Hulle het haar seun se besoekers gevra om die vertrek te verlaat omdat hulle in privaat met haar en sy pa wou gesels.

“Hulle (die dokters) sê toe vir ons, ons sal ‘n besluit moet maak, want Jaheim het baie pyn en hy ly.

“Nog voor ek en sy pa enige besluit kon neem, toe trek Jaheim my aan die hand. Toe ek omdraai om hom te sê ons praat gou met die dokters, toe blaas hy sy laaste asem in my gesig uit. Die dokters sê toe sy hart het gaan staan.

“Ek gaan alles van my seun mis.”

Kapt. FC van Wyk, ‘n polisiewoordvoerder, sê die Tulbagh-polisie het ‘n saak van roekelose en/of nalatige bestuur aanhangig gemaak nadat twee voertuie op 1 Maart omstreeks 06:40 op die R44, Tulbagh, in ‘n ongeluk betrokke was. Hy sê die polisie kan bevestig dat twee jong mans van onderskeidelik 25- en 24-jaar oud vir ernstige beserings in ‘n mediese fasiliteit opgeneem is.

Volgens Van Wyk word die omstandighede rondom die ongeluk nog ondersoek.

Hy sê die polisie kan verder bevestig dat die 24-jarige man op Vrydag 26 Junie in die hospitaal oorlede is. Volgens hom ondersoek die polisie nou ‘n saak van strafbare manslag.

Die polisie vra enigeen met inligting oor die voorval om die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 te skakel of om anoniem van die polisie se MySAPS mobiele toepassing gebruik te maak.

◘ Jaheim se begrafnisdiens vind eerskomende Sondag (12 Julie) 13:00 in die Tulbagh-stadsaal plaas.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article