Die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) het op Donderdag 24 September ‘n omvattende verslag oor beweerde grootskaalse korrupsie, tendermisbruik en finansiële wanbestuur binne die Departement van Verdediging en Militêre Veterane (DoD), asook as die staatsbeheerde wapenvervaardiger Denel, aan die Parlement voorgelê.
Die voorlegging is deur Leonard Lekgetho, SOE-hoof, aan die portefeuljekomitee gemoeid met Verdediging en Militêre Veterane gedoen.
Die verslag ontbloot hoe honderde miljoene rande vermors is op sagteware wat nooit gebruik is nie, ongemagtigde medisyne-aankope en onreëlmatige batebestuurkontrakte.
Sagteware-aankope omseil mededingende tenderproses
Luidens die SOE-ondersoek het die departement tussen 2016 en 2018 Microsoft-sagtewarelisensies van sowat R467,6 miljoen aangekoop sonder om ‘n mededingende tenderproses te volg.
Die departement het nooit voorsiening gemaak in die begroting vir die lisensies nie, en die sagteware is nooit deur die departement gebruik nie. Die SOE het op 30 April 2025 ‘n bevel van die Spesiale Tribunaal verkry om ‘n kontrak met SoftwareOne van R257,5 miljoen nietig te verklaar. Sowat R46,2 miljoen in kontant is deur ‘n skulderkenning (AoD) verhaal.
Altesaam 41 sake is na die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en die batebeslagleggingseenheid verwys, terwyl 23 sake vir dissiplinêre optrede verwys is.
Skandale in Covid-19-pandemie belig
Die verslag belig ook verskeie skandale wat tydens die COVID-19-pandemie en daarna plaasgevind het.
Die weermag het R33,4 miljoen betaal vir ‘n eerste besending Interferon Alpha 2B-medisyne uit Kuba. Die medisyne was nie by Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte geregistreer nie en die Militêre Bevelsraad het geen mandaat gehad om die aankoop goed te keur nie. Die Pretoriase Hooggeregshof het gelas die medisyne moet na Kuba teruggestuur word, maar die departement het tot dusver nie die R33,4 miljoen verhaal nie.
Die SOE oorweeg regstappe om die geld via die Spesiale Tribunaal te verhaal.
Nog ʼn ondersoek toon persoonlike beskermende toerusting (PBT) is teen buitensporige pryse en deur korrupte verhoudings met SANDF-beamptes aangekoop. Die SIU het geldwassery-pogings onthul en 33 sake na die NVG verwys. Die pensioen van ‘n gewese SANDF-beampte is ook bevries.
By Denel en binne die weermag se batebestuur is verdere ernstige onreëlmatighede gevind: ‘n IT-sekuriteitskontrak is deur die voormalige uitvoerende hoof (GCEO) alleen aan Telspace toegeken, waarvoor R4,6 miljoen as vooruitbetaling gedoen is sonder dat ‘n verslag ingedien is. Telspace is in 2023 gelikwideer en die enigste direkteur het na Griekeland verhuis. Die saak is na die NVG verwys.
‘n Kontrak vir voorraad- en batebestuur is gesamentlik aan twee entiteite vir R922 miljoen toegeken. Die diensverskaffers het vir slegs 18 maande van hul vyfjaar-kontrakte gewerk, en die departement het ‘n oorbetaling van R70 miljoen gedoen. Die SOE poog om R680 miljoen te verhaal en die kontrak nietig te laat verklaar.
Kubersekuriteitsrisiko’s oopgevlek
Een van die mees kommerwekkende waarnemings deur die SOE is dat senior beamptes van die departement van verdediging, insluitend die sekretaris van Verdediging, persoonlike Gmail-rekeninge vir amptelike kommunikasie gebruik het.
Dié praktyk stel sensitiewe staatsekuriteitsdokumente en kritiese data aan ernstige kubersekuriteitsrisiko’s bloot.
Daarbenewens het die SIU opgemerk die departement is traag om dissiplinêre stappe te doen en ondersoekspanne ervaar ernstige vertragings ‘n gebrek aan samewerking en swak rekordbestuur.





