Die Paarlse Grant Williams is gereed om sy oomblik te gryp. Die blitsige skrumskakel het sy kans verdien om vir die Springbokke teen Italië hierdie Saterdag te begin in wat beloof om ‘n opwindende botsing in Gqeberha te wees.
Die veelsydige Williams, wat ook as vleuel kan speel, pas perfek by hoofafrigter Rassie Erasmus se voorkeur vir spelers wat in verskeie posisies kan speel. Met vyf skrumskakels wat veg vir die gesogte nommer 9-trui, was kompetisie nog nooit so fel in die Rugbywêreldbeker-kampioene se span nie.
Geveg vir die skrumskakel-trui versterk
Die skrumskakel-posisie bly die mees omstrede plek in die Springbokke-opstel. Twee-keer Wêreldbeker-wenner Faf de Klerk, ten spyte daarvan dat hy oor die hoof gesien is vir verlede jaar se Europese-toer, het sy terugkeer vanaf die bank gemaak tydens Suid-Afrika se onoortuigende 42-24 oorwinning oor Italië in Pretoria verlede naweek.
Cobus Reinach sal in Gqeberha op die bank wees, terwyl opkomende sterre Jaden Hendricks en Morne van den Berg, die kwintet van mededingers voltooi. Van den Berg het veral beiindruk verlede Saterdag deur twee drieë te druk teen Italië.
Die belowende nuweling sal egter Saterdag se wedstryd misloop aangesien Erasmus sy rotasiebeleid implementeer om al 45 spanlede oor drie wedstryde hierdie seisoen te evalueer.

Willie le Roux nader aan eeu-mylpaal
Veteraan heelagter, Willie le Roux, staan op die rand om net die agtste Springbok te word wat 100 Toetse bereik. Die mylpaal sal 12 jaar na sy debuut teen Italië in Durban kom.
“Willie was ‘n steunpilaar vir ons die afgelope paar jaar en ‘n fantastiese speler,” het Erasmus gesê. “Ons is opgewonde om hierdie ongelooflik prestasie saam met hom te beleef. Ek twyfel nie dat hy die span voor sy eie prestasie sal stel nie.”
Die 35-jarige le Roux is onder 11 veranderinge aan die begin-vyftiental wat gesukkel het teen Italië in Pretoria.
Kolisi se besering-bekommernisse en span-rotasie
Kaptein Siya Kolisi bly steeds langs die kant met ‘n Achilles probleem, hoewel Erasmus volhou dit is voorkomend eerder as ernstig.
“Dit was ‘n moeilike besluit om Kolisi te rus, maar ek dink dis ‘n wyse besluit om hom nog ‘n week te rus,” het die afrigter verduidelik. “Dit is nie ‘n ernstige besering nie, maar jy weet hoe so ‘n besering is – as jy dit nog ‘n week rus kan dit net beter wees vir die speler.”
Italië soek historiese deurbraak
Italië-afrigter Gonzalo Quesada het strategiese veranderinge gemaak terwyl die Azzurri hul eerste oorwinning ooit oor Suid-Afrika op tuisbodem jag.
Gqeberha se winderige uitdaging wag
Die kusstad, Gqeberha, was nie vriendelik teenoor Italiaanse besoekers in die verlede nie, met die Azzurri wat swaar nederlaes van 74-3 en 60-14 in vorige ontmoetings gely het. Saterdag se wedstryd bied vir Italië ‘n kans om daardie verhaal te herskryf teen ‘n Springbok-span wat steeds hul ritme soek.
“Italië is ‘n dapper en taai span en ons weet dat hul vertoning verlede week hulle sal anspoor vir die tweede Toets,” het Erasmus gewaarsku. “Hulle gaan ons hard aanpak en nog ‘n hartstogtelike vertoning lewer. Ons moet na ‘n ander rat skuif.”
Met Georgië wat in die vlerke wag vir die volgende naweek se ontmoeting in Mbombela, weet beide spanne dat Saterdag se uitslag die toon kan stel vir die res van hul onderskeie seisoene.
Die wedstryd teen Italië skop om 17:10 af en sal op beide SuperSport en SAUK uitgesaai word.



You must be logged in to post a comment.