Die Springbok-kaptein, Salmaan Moerat, en hul bystaan-afrigter, Mzwandile Stick, voorspel ‘n epiese stryd teen Italië in die tweede Castle Lager Inkommende Reeks-toets, wat Saterdag by die Nelson Mandelabaai-stadion in Gqeberha plaasvind. Albei beklemtoon dat die Bokke “vuur met vuur moet beantwoord” indien hulle as oorwinnaars vanaf die vld wil stap.
Die Bokke het verlede week hul kragmeting teen die Italianers op Loftus Versfeld oortuigend begin en met 28-3 voorgeloop teen rustyd, maar Italië het kragtig teruggeveg in die tweede helfte. Uiteindelik het Suid-Afrika met 42-24 gewen, tog beskou die span dit as ‘n waarskuwing.
Italië moet nie onderskat word nie
Moerat het verduidelik: “Italië is ‘n fisieke span en dit gaan beslis ‘n groot wedstryd wees. Ons onderskat hulle glad nie. Hulle hoogs passievolle span, veral omdat baie spelers vanaf net twee hoofklubs kom – dit gee hulle samehorigheid. Hulle setspel is sterk, hul agterspelers het kwaliteit, en hulle het verlede week karakter aan die afbreekpunte getoon. Ons sal dieselfde intensiteit na ons spel moet bring.”
Stick het dié sentiment beaam: “Ons het verlede week uitstekend begin, maar Italië het daarna sterk teruggekom. Dit is duidelik hoe hulle as span gegroei het sedert die Ses Nasies. Daarby beskik hulle oor ‘n gestruktureerde skopspel en gevaarlike buitelyn, wat beteken ons moet verbeter en ons plan effektief uitvoer. Hierdie is slegs ons tweede toets van die seisoen, maar ons weet wat die standaarde vereis.”
Stick het ook verwys na die talle veranderinge in die span en gesê daar is volle vertroue in elke speler: “Ons glo in al ons spelers en elkeen het sy plek verdien. Die bou van diepte in die groep bly vir ons belangrik.”
Hulde aan Willie
Hy en Moerat het spesiale hulde aan heelagter Willie le Roux gebring, wat Saterdag sy 100ste toets vir Suid-Afrika sal speel.
“Dis ‘n enorme prestasie,” sê Stick. “Ek het Willie leer ken gedurende my sewes-dae – hy is ‘n buitengewoon slim rugbyspeler. Baie verstaan nie die waarde wat hy inbring nie, maar binne die groep word dit baie waardeer.”
Moerat het bygevoeg: “Toe het grootgeword het ek gesien hoe Willie vir Boland en Paarl speel. Dat hy 100 keer vir die Bokke uitgedraf het, getuig van sy besondere talent.”
Stick het die wedstryd in sy tuisdorp, New Brighton in die Oos-Kaap, as ‘n emosionele eer beskryf: “Rugby hoogtepunte hier is skaars, so dit is vir ons, en vir die ondersteuners, ekstra spesiaal. Ons hoop om ‘n besondere wedstryd vir Willie, die nuwelinge – Asenathi Ntlabakanye, Cobus Wiese en Ethan Hooker – en vir die hele land te lewer.”
Moerat het ook die ongelooflike ondersteuning van plaaslike aanhangers beklemtoon: “Die opwinding is tasbaar – mense wag ure buite ons hotel net om ‘n Bokkie te sien. Die stadion behoort vol te wees, met ‘n fantastiese atmosfeer.”
Die wedstryd begin om 17:10, en sal regstreeks op SuperSport en SABC 2 uitgesaai word.





