Rentekoers daling met 0.25% verwlkom.
Die Reserwebank het vandag aangekondig dat rentekoerse met 0,25% sal daal.

Die Monetêrebeleidskomitee (MBK) het vandag aangekondig dat rentekoerse met 0,25% sal daal, wat die repo-koers na 7% en die prime-leenkoers na 10,5% bring.

Dit beteken byvoorbeeld dat iemand met ‘n verband van R 1.5 million ongeveer R255 per maand kan spaar.

REMAX Suider-Afrika beskou vandag se aankondiging deur die MBK as ’n welkome stap na die herlewing van ekonomiese aktiwiteit en die herstel van verbruikersvertroue.

“Hierdie verlaging sal waarskynlik dien as ’n broodnodige katalisator vir transaksie volumes, veral in die bekostigbare en middelmark-sektore. Die mark is steeds pryssensitief, maar hierdie koersverlaging kan belangstelling in die eiendommark laat herleef,” sê Adrian Goslett, Streeksdirekteur en Hoof-uitvoerende Beampte van REMAX Suider-Afrika.

Goslett voeg by dat hoewel hierdie 0,25%-verlaging beskeie mag lyk, dit ’n positiewe stap is na die herstel van die koers omgewing wat voor die pandemie bestaan het.

“Terug in Januarie 2020 was die repo-koers ongeveer 6,5%, en hoewel ons nog heelwat bo daardie vlak is, bring vandag se besluit ons stapsgewys nader. Dit is ’n bemoedigende sein dat die Reserwebank moontlik na ’n meer groei-vriendelike houding draai, wat kan help om opgehoopte aanvraag in die huisemark vry te stel,” verduidelik hy.

Huisemark toon veerkragtigheid

Ten spyte van breër ekonomiese uitdagings het die huisemark ’n mate van lewenskragtigheid behou. Huispryse het versterk en verkoopvolumes bly verwagtinge oortref, veral binne die REMAX SA-netwerk.

Goslett sê dat hul geregistreerde verkopesyfers met 12,5% toegeneem het in vergelyking met verlede jaar (teen einde Junie), en hul totale eenhede verkoop het met 6,5% gestyg.

Optimistiese vooruitsigte

“Ek bly optimisties oor hoe hierdie jongste rentekoersverlaging die plaaslike huisemark sal beïnvloed en verwag om aktiwiteit verder te sien versterk in die maande wat volg,” sluit Goslett af.

Die verlaging bring verligting vir huiskopers en eiendomseienaars wat sedert 2022 met stygende rentekoerse geworstel het. Ekonome verwag dat verdere verlagings gedurende die res van die jaar moontlik is, afhangende van inflasiepatrone en ekonomiese groei.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article