Voorlaaste uitgawe van Noordwester.
Die vorlaaste uitgawe van Noordwester. FOTO: Verskaf

CALVINIA – Die Noordwester-koerant se stem in Calvinia en die Hantam gaan ná dekades nie meer gehoor word nie en getroue lesers gaan nie meer deur die koerant kan blaai nie.

Dié koerant, wat in 1917 gestig is en vir 108 jaar deel van die hartklop van Calvinia en omliggende dorpe was, gaan sy deure sluit. Die laaste uitgawe is 26 September 2025.

Onder die toegewyde leiding van oom Frans Hugo, die eienaar en redakteur wat reeds 93 jaar oud is, en sy ewe lojale eggenote tannie Maxie Hugo (82) het die Noordwester vir jare nie net nuus verskaf nie, maar ook die mense van die Hantam en omliggende gebiede met mekaar verbind.

Oom Frans en tannie Maxie Hugo voor die Noordwester se kantoor. Foto: Verskaf

In ‘n mediaverklaring vertel Jan Palm, VF Plus-raadslid van die Hantam-plaaslike munisipaliteit, dat die koerant amptelik in 1917 deur Cyril Hall, ‘n prokureur, begin is. In 1980 het oom Frans, soos hy bekend is, die koerant oorgeneem. Hy het self die drukwerk behartig en berigte geskryf.

Die Messenger wat sedert 1876 in Victoria-Wes verskyn het, asook die Oewernuus wat sedert 1916 in Prieska verskyn het, was deel van die Noordwester en is nou ook deel van die geskiedenis.

Die plaaslike gemeenskap sal veral die verlies aanvoel omdat dit vir almal ‘n stem gegee het en ‘n belangrike bron van nuus was, sê Palm.

Die egpaar Hugo se harde werk, liefde en opregte toewyding aan die gemeenskap het die koerant uitgebou tot ’n trotse gemeenskapsinstelling.

Die voorblad van die eerste Noordwester in Desember 1916. Foto: Verskaf

Die Noordwester het ’n noue verbintenis met die landbougemeenskap gehad met verhale wat boere se uitdagings en suksesse belig het. Verder was daar nuus van godsdienstige aard, sportverslaggewing en kritiese kommentaar.

“Die VF Plus is jammer dat so ‘n geskiedkundige publikasie, net soos talle van die land se groot en bekende publikasies, eindelik die knie voor ‘n moderne, elektroniese era moes buig,” sê Palm.

” ‘n Koerant soos die Noordwester was meer as net ‘n nuusblad, dit was soos ‘n geliefde vriend vir al sy lesers en die egpaar verdien opregte lof en dank vir hul lewenstaak.”

Ná 45 jaar waarin oom Frans nog nooit ‘n tekort aan woorde gehad het om sy koerante te vul nie, het dit opgeraak toe hy oor sy emosie hieroor gevra is: “Dit voel so onwerklik. Ek het nie woorde om dit te beskryf nie.”

LEES OOK – SPESIAL UITGAWE: Paarl Post word 120-jaar

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article