TygerBurger

Gemeenskap, provinsiale regering loof SAPD vir beslaglegging van R10 miljoen se dwelms

Richwood Vuurwapens
Die 9mm pistole waarop daar beslag gelê is.
TygerBurger

Gemeenskap, provinsiale regering loof SAPD vir beslaglegging van R10 miljoen se dwelms


Die Bothasig-gemeenskapspolisiëringforum (GPF) in Kaapstad het die arrestasie van ‘n 29-jarige man en die beslaglegging van R10-miljoen se dwelms die afgelope week verwelkom.

Die Wes-Kaapse polisie se misdaad-intelligensie eenheid het Sondag 19 Julie by ‘n woonstel in Sylviastraat, by die De Zicht-woonstelkompleks in Richwood toegeslaan waar hulle op talle vuurwapens, dwelms en ammunisie beslag gelê het. Een verdagte is in verband hiermee op die toneel in hegtenis geneem.

Die GPF, waarvan Richwood deelvorm, het die polisie se misdaad-intelligendsie en teen-bende-eenheid geloof vir die werk wat gedoen is en ook almal wat by die intelligensie-gedrewe operasie betrokke was.

Sukses

“Die vonds van sewe onwettige vuurwapens, oor ‘n duisend patrone en dwelms met ‘n straatwaarde van R10 miljoen is ‘n reuseprestasie.

“Hierdie soort operasies stel inwoners gerus dat intelligensie-gedrewe polisiëring vrugte afwerp. Hoewel een arrestasie nie alleenlik georganiseerde misdaad uitroei nie, demostreer dit dat wetstoepassing misdadige netwerke aktief ontwrig en dat dit gevaarlike wapens uit ons gemeenskappe verwyder,” sê Mario Borchards, GPF-voorsitter.

Hy sê die gemeenskap se vertroue groei wanneer inwoners sigbare oprtrede, professionele ondersoeke en ‘n suksesvolle uitkoms soos hierdie self gewaar.

“Bende-verwante misdaad strek veel verder as net na dié wat daarby betrokke is. Dit raak families, ondernemings, en die breë gemeenskap. Ondernemings ly as gevolg van diefstal, intimidasie, en toenemende sekuriteitskostes, terwyl inwoners in vrees en onsekerheid leef. Onwettige vuurwapens en dwelms sper geweld aan wat na enige buurt kan oorvloei.”

Borchards sê hoewel Bothasig oor die algemeen as ‘n veilige gemeenskap geag word, is dit nie geïsoleerd van georganiseerde misdaad oor Kaapstad heen nie. “Hierdie arrestasie dien as a herinnering dat misdadige netwerke hulself enige plek kan vestig as gemeenskappe te gemaklik raak.”

Hy sê die sukses deur die polisie beklemtoon die belangrikheid van intelligensie-gedrewe polisiëring, maar voeg by dat langterym sukses ‘n vennootskap tussen die polisie en die gemeenskap verg.

Richwood Dwelms
Daar is ook op verskeie soorte dwelms by die woonstel beslag gelê.

Veiligheid

Borchards sê hiervoor makeer hul gemeenskap;

  • Intelligensie-gedrewe ondersoeke;
  • Hoë-sigbaarheid polisiëring en geteikende operaries;
  • Goeie samewerking tussen die polisie, die Stad Kaapstad, buurtwagte, privaat-sekuritietsmaatskappye en die GPF;
  • Inwoners wat verdagte aktiwiteite gou aanmeld;
  • Belegging in misdaadvoorkomingstegnologie soos kringtelevisie-kameras in geïdentifiseerde brandpunte.

Misdaadvoorkoming is almal se verantwoordelikheid, sê Borchards. “Die gemeenskap se bereidwilligheid om verdagte aktiwiteite aan te meld, verskaf dikwels die intelligensie wat tot hierdie soort suksesvolle operasies lei.”

“Die ondersoek is steeds aan die gang, so ek wil nie spekuleer oor sake voor die hof nie. Wat ek wel kan sê is dat dié operasie die waarde van intelligensie-gedrewe polisiëring, en die sterk vennootskap tussen wetstoepassing en die gemeenskap beklemtoon.”

Die 29-jarige verdagte is steeds in aanhouding. Hy het 20 Julie in die hof verskyn en verskyn weer op Woensdag 29 Julie in die Goodwood-landdroshof vir borgaansoek.

“Ten slotte, wens die GPF die polisie geluk met die belangrike deurbraak. Ons moedig inwoners aan om bedag te wees, en om aan te hou om verdagte gedrag aan te meld, en ook om gemeenskapsveiligheidsinisatiewe te steun. Saam, deur sterk vennootskappe en aktiewe gemeenskapsdeelname, kan ons ons gemeenskap veiliger vir almal maak.”

Richwood Ammunisie
Die patrone wat die polisie ook die betrokke dag in die woonstel gevind het.

Vonds

Kapt. Frederick van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder, sê die woonstel was glo as ‘n bergplek gebruik. Hy sê altesame sewe ongelisenseerde 9mm-pistole en 17 magasyne, sowel as 1 030 verskillende kaliber patrone en ‘n verskeidenheid soorte dwelms is gevind en op beslag gelê.

Die Wes-Kaapse departement van polisie-oorsig en gemeenskapsveiligheid het ook die polisie — spesifiek die misddad-intelligensie-eenheid en teen-bende-eenheid — geloof vir die beslaglegging.

“Deur die sleutel-bergplek te sluit, het wetstoepassingbeamptes plaaslike bende-sindikate wat in die metro werksaam is, ‘n knou toegedien. Die departement spoor die polisie aan om hiermee voort te gaan, en meer geteikende, misdaad-intelligensie-gedrewe operasies oor hoë-risiko gebiede in die provinsie heen uit te rol,” sê Anroux Marais, minister van polisie-oorsig en gemeenskapsveiligheid.

Die Richwood-buurtwag het die inhegtenisneming en beslaglegging van die vuurwapens en dwelms verwelkom.

Die saak word deur speurders van die polisie se teenbende-eenheid ondersoek.

LEES OOK: Dwelms, vuurwapens en ammunisie by woonstel in Kaapse buurt gevind

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article