ATLANTIS – Die People’s Process het vandeesweek hul memorandum en petisie met byna 15 000 handtekeninge aan die bestuur van Subraad 1 oorhandig.
Volgens die memorandum moet die verkoop van die historiese Hartebeeskraal Thusong-sentrum teengestaan word.

Die groep eis dat hul besware formeel op rekord geplaas word, dat die voorgestelde proses gestaak word en dat korrektiewe bestuur- en remediërende stappe oorweeg word eerder as om die gebou te verkoop.
Hulle vra ook dat die openbare bate, wat bedoel is vir maatskaplike ontwikkeling en dienslewering, beskerm moet word.
Volgens die memorandum, wat Theunis Mack gister (Donderdag 19 Februarie) voorgelees het, is die Thusong-sentrum lank reeds deur die gemeenskap waardeer as ’n sentrale en toeganklike punt vir noodsaaklike regeringsdienste, veral vir inwoners wat staatmaak op openbare vervoer en maatskaplike bystand, en vir diegene wat weens ouderdom, inkomste of gestremdheid afhanklik is van toeganklike dienste.
Histories het die sentrum kritieke openbare dienste soos Binnelandse Sake, Sassa en ander maatskaplike en arbeidsverwante dienste gehuisves, wat dit vir inwoners moontlik gemaak het om toegang tot verskeie regeringsfunksies op of naby een plek te verkry.
Hierdie model verminder aansienlik die koste, tyd en administratiewe las wat op reeds kwesbare huishoudings geplaas word.
Die onlangse ontwrigting en effektiewe verwydering van die dienste van Binnelandse Sake uit die Thusong-sentrum het wydverspreide verwarring veroorsaak.
Dienste wat voorheen vyf dae per week beskikbaar was, is verminder tot beperkte beskikbaarheid – soms so min as twee dae per week.
Die afgelope paar weke kon inwoners nie duidelike, konsekwente inligting bekom oor wanneer of waar die binnelandsesake-dienste bedryf word nie.
Dit is een maar een van die griewe. Nog een is dat inwoners in lang rye moet staan terwyl hulle onseker is die spesifieke diens waarvoor hulle wag, wel gelewer gaan kan word.
Die groep braak ook gal daaroor dat bejaardes en ander wat totaal afhanklik is van die dienste, dikwels tevergeefs opdaag, wat verdere finansiële druk op hulle plaas.

Volgens Allison Adams, woordvoerder van die People’s Process, het inwoners in Desember verlede jaar begin om die verkoop van die historiese gebou teen te staan. Volgens Adams is die doel van hul veldtog om te verseker dat die sentrum ’n publieke bate vir die huidige en toekomstige geslagte bly.
Die People’s Process het raadslede versoek om binne 14 dae skriftelike terugvoering te gee.
Volgens Allister Lightburn, voorsitter van Subraad 1, sal die memorandum na die Stad Kaapstad se afdeling vir publieke deelname verwys word.






You must be logged in to post a comment.