Paarl Post

Franschhoek, omliggende gebiede sonder krag weens voortslepende brande

'n Boom het Sondagaand 11 Januarie 'n Eskom-lyn op die Wemmershoekpad buite Franschhoek getref. Foto: Tiaan Papier
‘n Boom het Sondagaand 11 Januarie ‘n Eskom-lyn op die Wemmershoekpad buite Franschhoek getref. Foto: Tiaan Papier

FRANSCHHOEK – Tegniese spanne is na Franschhoek ontplooi te midde van ‘n reuse-kragonderbreking nadat ‘n brandende boom Sondagaand 11 Januarie op ‘n belangrike kraglyn by die Topiary-wynlandgoed op die Wemmershoekpad geval het.

Benewens dié skade spook tegniese spanne ook om verskeie substasies en transformators te herstel wat weens die voortslepende veldbrande in die omgewing onklaar geraak het.

Reginald Pheiffer, burgemeesterskomiteelid vir infrastruktuur by die Stellenbosch-munisipaliteit, waaronder Franschhoek val, het Maandagoggend in ‘n Facebook-inskrywing gesê die brandende boom het op ‘n 66 kv- lyn geval.

Hy sê ‘n harde ontploffing is Sondagaand in die gebied gehoor en die aanvanklike vermoede was dat nog ‘n transformator in die voortslepende brand verwoes is.

Pheiffer het egter beeldmateriaal op sy sosiale media gedeel wat wys hoe die boom die kraglyn tref en die hele Franschhoek in donker gelaat is.

Hy het bevestig dat tegniese spanne reeds besig is om die omvang van die skade te beraam, maar dat daar in dié stadium nog geen tydlyn vir die herstelwerk is nie.

“Die kragtoevoer na die gebiede by die Drakenstein-gevangenis is reeds herstel. Aan die kant van Wemmershoek moet dit nog herstel word. Ek sal julle in op hoogte hou deur die loop van die dag,” sê Pheiffer.

“Vandag gaan ’n lang dag wees. Almal doen hul bes om dienste te herstel, skade aan eiendomme en infrastruktuur te voorkom en lewe en bestaansmiddele te beskerm. Kom ons ondersteun mekaar, dit was ’n frustrerende naweek vir ons almal in die vallei,” het hy verder gesê.

Navraag is gerig aan Eskom asook die Stellenbosch-munisipaliteit om vas te stel presies watter gebiede deur die kragonderbreking geraak is en sal bygevoeg word sodra terugvoering ontvang is.

Brandbestryders spook al sedert verlede Woensdag (7 Januarie) om die vuur wat vermoedelik in die Langrug-omgewing uitgebreek het in bedwang te bring.

Die vuur het teen Maandag in die rigting van die Du Toitskloof-berge gebrand.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article