Die jaarlikse Waterblommetjiefees, wat ongeveer 10 jaar oud is en een van die Drakenstein-vallei se hoogtepunte onder kos- en wynliefhebbers is, keer op Saterdag 6 September terug en beloof om ‘n paradys vir die fynproewer te wees.
Toegang is gratis, met feesverrigtinge wat om 08:00 begin.
Die drie wynplase wat as deel van hiérdie fees besoek kan word, sluit in Windmeul Kelder, Rhebokskloof en Domaine Brahms almal buite die Paarl.
Die fees val ook saam met Windmeul se maandelikse naweekmark, waar besoekers vars plaasprodukte, soos onder meer waterblommetjies, kan aanskaf.

“Die waterblommetjie (ook bekend as Cape Pond Weed, Water Hawthorne of vleikos) is ‘n inheemse lekkerny wat slegs in die Boland in die Wes-Kaap voorkom. Dit word net vir ‘n kort tydjie elke jaar geoes, wat dit ‘n gesogte bestanddeel maak. Dit word gebruik in tradisionele geregte soos die bekende waterblommetjiebredie en die KhoiKhoi het dit ook vir mediese doeleindes gebruik omdat dit ryk aan verskeie vitamiene is,” volgens die Waterblommetjiefees se webtuiste.
Windmeul Kelder
Begin die dag by Windmeul Kelder, die stigter van die fees, met die maandelikse mark, waar jy ‘n stewige ontbyt kan geniet, deur die stalletjies kan loop en vars produkte kan koop. Kyk ook hoe die deelnemers in die potjiekoskompetisie mee- ding. Geniet ‘n waterblommetjiebredie- en-wyn-paring tussen 10:00 en 12:00, met die resep van verlede jaar se wenners saam met die 2023 Pinotage of vanjaar se Chenin Blanc.
Spesiale aanbiedinge op Windmeul Wyne is beskikbaar by die proelokaal. Fiksheidsentoesiaste kan inskryf vir die Run the Vines-staproete, ‘n maklike 5 km-, ‘n 10 km- of die meer uitdagende 17 km-roete. Daar is ‘n spesiaal ingerigte speelarea vir kinders met ‘n springkasteel, gesigverf en ballonvou. Die Ou Meul Bakkery gaan sy heerlike steak-en-waterblommetjietiepasteie en ook vars waterblommetjies verkoop.
Rhebokskloof
Feesgangers wat die Rhebokskloof-wynlandgoed besoek, kan hulself bederf met waterblommetjie-geïnspireerde tapas, voorgesit saam met vyf wyne by die El Picoteo-restaurant. Die koste beloop R295 per persoon en kaartjies kan op Dineplan bespreek word. Vyf wyne uit sy Flatrock- en Rhebokskloof-reekse sal met ‘n verskeidenheid tapas gepaar word, soos waterblommetjie-tempura, waterblommetjie-en-lam-spanakopita, waterblommetjie-en-vark-skenkelsop, waterblommetjie-, halloumi- en olyfsosaties asook ‘n waterblommetjie-en-beesvleispoffertjie met gekaramelliseerde uie.

Rugbyliefhebbers hoef nie bekommerd te wees nie, omdat die Springbokke se kragmeting teen die All Blacks op ‘n grootskerm uitgesaai sal word, wat onderdak sal wees vir ingeval dit reën.
Die maandelikse mark bied heerlike eet- en drinkgoed. Die Rhebokskloof-stalletjie sal ‘n verskeidenheid disse aanbied wat geïnspireer is deur die bestanddeel van die dag, soos ‘n waterblommetjie-lamsbredie, ‘n slaai met waterblommetjies, asook ‘n waterblommetjie-hoenderpaella. ‘n Springkasteel en grasperke sal sorg vir vermaak vir die kinders. MTB-entoesiaste kan om 08:00 saam met Paarl Trails aansluit vir ‘n begeleide fietsrit op die skilderagtige landgoed. Afstande wissel van 20 km- tot 50 km-roetes.
Domaine Brahms
Domaine Brahms beloof ook vermaak vir oud en jonk, met ‘n trekkermuseum, die alombekende Toeka-winkel asook ‘n koffiewinkel. Die jongspan kan trekkerritte geniet, asook ‘n verskeidenheid plaasdiere, wat bokke, hoenders en kalkoene insluit.

Waterblommietjiebredie, -pasteie en -burgers op roosterkoeke sal verkoop word, bedien saam met Domaine Brahms se bekende wyne, wat jaarliks na Japan uitgevoer word.






You must be logged in to post a comment.