PRETORIA – ‘n Historiese samewerkingsooreenkoms, gemik daarop om Afrikaanse teater en uitvoerende kunste opnuut ’n prominente plek op die Staatsteater se groot en glansryke verhoë te gee, is op 12 Junie amptelik deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en die Suid-Afrikaanse Staatsteater (SAST) bekendgemaak.
Die Staatsteater – een van die grootste teaterkomplekse in die Suidelike Halfrond – was vir dekades ná sy opening in 1981 die spilpunt van glans, aansien en ’n teaterbelewenis sonder gelyke. Die unieke vennootskap tussen die FAK en die SAST vorm deel van ’n omvattende strategie om Afrikaanse gehore by dié “grande dame” terug te verwelkom.

Die ooreenkoms kom nadat die SAST na die FAK en die Voortrekkermonument uitgereik het om met die ontwikkeling en bemarking van ’n volhoubare Afrikaanse aanbod te help. Voorlopige gesprekke het begin nadat die Staatsteater van die merkwaardige groei en verbeterings op die Voortrekkermonument-terrein kennis geneem het.
Versterking van vennootskappe van diverse kulturele erfenis
“Die samewerking met die FAK en die Voortrekkermonument is ’n belangrike stap in die versterking van vennootskappe wat Suid-Afrika se diverse kulturele erfenis vier, bewaar en bevorder,” sê Shane Maja, uitvoerende hoof van die SAST.
“Ons glo die ooreenkoms skep ’n wonderlike geleentheid om toegang tot die Afrikaanse kuns- en kultuurlandskap te verbreed, terwyl ons brûe bou tussen instellings wat ’n gedeelde verbintenis met storievertelling, erfenisbewaring en nasiebou het. Ons sien geweldig uit na die ontwikkeling van programme wat enersyds ons gedeelde geskiedenis eerbiedig en andersyds toekomstige geslagte met die transformerende krag van die kunste inspireer,” sê Maja.
Inisiatief dra by tot toename in teatergangers na middestad
Die Staatsteater het onlangs ’n omvangryke projek in samewerking met die Suid-Afrikaanse Reserwebank en die Stad Tshwane van stapel gestuur om die gebied rondom die teater op te knap en te beveilig. “Ons sien reeds die vrug van hierdie herlewingsinisiatief in die toename in teatergangers na die middestad,” sê Maja.


Hoewel die persepsie die afgelope paar jaar posgevat het dat die Pretoriase middestad nie ’n gewilde of veilige bestemming vir teatergangers is nie, is die Staatsteater se bestuur en sy vennote vasbeslote om dit die nek in te slaan deur ’n veilige, professionele en wêreldklaservaring vir besoekers te skep.
“Die FAK sal ’n sleutelrol speel om hierdie boodskap aan die Afrikaanse gemeenskap oor te dra. Die FAK het ’n sterk en lojale vriendebasis reg oor die land. Dié gevestigde netwerk kultuurliefhebbers gaan aktief by die nuwe teaterinisiatief betrek word,” sê Sallas de Jager, die FAK se nasionale hoof van taal, kuns en musiek.
“Die samewerkingsooreenkoms strek egter veel wyer as hulp met inhoudskepping en die bemarking van produksies. Die hartklop van die projek is om ’n kultuur van teaterbywoning te laat herleef en by ’n nuwe geslag te laat vlamvat. Ons wil hê mense moet, soos van ouds, uitsien na ’n deftig-aantrek-aand by die Staatsteater. Ons bou nie net nuwe gehore nie – ons bou vertroue, tradisie en verdiepte kulturele deelname.”
Dinamiese Afrikaanse program word ontwikkel
Kragtens die vennootskap word ’n dinamiese Afrikaanse program ontwikkel wat gevestigde kunstenaars, nuwe stemme en verskillende kunsvorme insluit. Hoogtepunte in die eerste siklus van die ooreenkoms sluit in die komiese stuk My boetie se sussie se ou; die drama As die tuig skawe; die gewilde Afri-Duetfees; die eenmanstuk Reünie deur Frank Opperman, uit die pen van Dana Snyman; die groep Klopjag se 25ste herdenkingskonsert; vertonings deur Spoegwolf; asook die klassieke uitvoering Kruis van die Liefde uit die pen van die bekroonde komponis Franco Prinsloo.
LEES OOK: FAK bring hulde aan “Onse Mimi”
“Die samewerking fokus ook nie slegs op die verhoog nie. Die FAK en die Staatsteater gaan die hele besoekerservaring na ’n splinternuwe vlak neem,” sê De Jager. “Dit sluit in die ontwikkeling van voorportaalaktiwiteite, uitstallings, musiek, verversings en ander elemente wat elke besoek aan die teater in ’n kulturele gebeurtenis omskep.
“Vir albei organisasies gaan dit oor meer as kaartjieverkope. Dit gaan oor die hervestiging van ’n kulturele belewenis in ’n besonderse teaterruimte, die versterking van gemeenskapsvertroue, en die vestiging van die Staatsteater as ’n bestemming waar Afrikaanse kuns, musiek, drama en opera weer op wêreldklasvlak floreer,” sê hy.
Skep van inklusiewe artistieke tuiste
Maja stem saam en voeg by dat die Staatsteater daartoe verbind is om die ryk diversiteit van Suid-Afrika se kulturele en taalerfenis te weerspieël.
“Die uitbou van ons Afrikaanse aanbod is deel van ons breër visie om ’n inklusiewe artistieke tuiste te skep waar alle gemeenskappe hul stories, tale en kreatiewe uitdrukking op ons verhoë kan sien.
“Die FAK is reeds vir 97 jaar ’n fakkeldraer van taal, kultuur en geskiedenis. Voeg hierby die Staatsteater se verbintenis tot uitnemendheid in die uitvoerende kunste en wêreldklasverhoë, en jy het ’n vennootskap met ’n toekomsbouvisie én ’n unieke geleentheid om ’n blink nuwe era vir Afrikaanse teater in te lui,” sê De Jager.







You must be logged in to post a comment.