Weslander

Eland Huis vir Gestremdes funksioneer sonder lisensie, ouers eis dat raad onmiddellik uittree

Die Eiland Huis vir Gestremdes is 'n bekende nie-winsbejagte organisasie in die Weskus. Foto: Danie Hefers
Die Eiland Huis vir Gestremdes is ‘n bekende nie-winsbejagte organisasie in die Weskus. Foto: Danie Hefers

WESKUS – Die bekende Die Eiland Huis vir Gestremdes in St Helenabaai se lisensie om as gesondheidsorgverskaffer vir 2026 te funksioneer, is nie hernu nie. Die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid en Welstand het dié skokkende stand van sake by dié Weskus-fasiliteit by navraag aan Weslander bevestig.

Volgens die departement bestaan daar tans belangrike nakomings- en beleidskwessies en herinstelling kan slegs oorweeg word sodra volle nakoming van hierdie vereistes bereik is. “Die departement gaan voort om direk met ouers in gesprek te tree om geïdentifiseerde risiko’s te kommunikeer en moontlike tussentydse reëlings te bespreek. Indien toestande nie binne die afsienbare toekoms tot die vereiste standaarde verbeter nie, sal die departement oorweeg om pasiënte te verwyder en na ‘n ander fasiliteit oor te plaas.”

Bekommerde ouers en voogde van inwoners van Die Eiland Huis eis al geruime tyd dat die fasiliteit se raad onmiddellik uittree. Hulle beweer dat Die Eiland Huis se huidige bestuur en raadslede nie gekwalifiseer is om dit te bestuur nie.

Volgens ‘n verteenwoordiger van die ouers het die algemene bestuur van die fasiliteit merkbaar agteruitgegaan en het hulle op 26 Maart vanjaar ‘n derde formele mosie van wantroue teen die huidige bestuursraad ingedien, gebaseer op klagtes van roekeloosheid en verwaarlosing.
Ouers is ook bekommerd oor die finansiële bestuur van Die Eiland Huis.

Beide die Wes-Kaapse Departement van Maatskaplike Ontwikkeling en Departement van Gesondheid en Welstand het by navraag bevestig dat hulle klagtes oor Die Eiland Huis ontvang het, waarna ‘n gesamentlike ondersoek uitgevoer is.

Die Eiland Huis in die Midwest-woonbuurt in die dorp is ‘n residensiële sorgfasiliteit vir individue met erge geestelike en fisiese gestremdhede. Dit is in 2005 deur Jimmy Duncan gestig. Hy is in Julie 2024 ná ‘n kort siekbed oorlede. Volgens ouers het Duncan se dood ‘n beduidende leemte gelaat.

Die parkeerarea voor Die Eiland Huis in St Helenabaai. Foto: Danie Hefers
Die parkeerarea voor Die Eiland Huis in St. Helenabaai. Foto: Danie Hefers

In ‘n skrywe aan Weslander beweer die ouers en voogde dat die bestuursraad verskeie kere ingelig is van beweerde voorvalle van onder meer nalatigheid, maar dit word volgens die ouers oënskynlik onder die mat gevee. “Ouers word aangesê om te vergewe, te vergeet en nie daaroor te praat nie.”

Ouers beweer daar heers tans ‘n kultuur van teistering, intimidasie en vergelding by Die Eiland Huis.

Volgens die ouers is Die Eiland Huis ‘n vereniging wat geregistreer is as ‘n nie-winsgewende organisasie met ‘n vereniging van lede. “Die grondwet vereis dat die raad ten minste ses bestuursraadslede moet hê, wat voorgestel en verkies moet word deur die lede van die vereniging. Die raad voldoen reeds sedert 2024 nie aan die vereistes nie en word tans met net drie lede bedryf.”

Die ouers beweer voorts dat die raad blykbaar weier om die agenda en notule van ‘n beweerde “geheime” vergadering aan die lede van die vereniging en ouers te verskaf. Die ouers beweer dat die grondwet op dié vergadering verander is en dat bestuursraadslede hulself voorstel en verkies.
“Hulle doen aan hulself verantwoording en het die stemreg van ouers en lede verwyder. Die huidige bestuur en bestuursraadslede is nie gekwalifiseer om Die Eiland Huis te bestuur nie en al die raadslede se ampstermyne het reeds verstryk.”

Volgens ouers het hulle reeds drie mosies van wantroue ingedien en is hulle klagtes herhaaldelik by die bestuursraad aangemeld. “Ons het selfs sekere sake by eksterne liggame, insluitend beherende staatsdepartemente en die Menseregtekommissie, aangemeld. Ons pogings word konsekwent geïgnoreer of afgeweer.”

Ouers eis nou onder meer dat die huidige raad onmiddellik uittree. Volgens die ouers se verteenwoordiger, wat verkies om anoniem te bly, wat namens die ouers en voogde met Weslander gepraat het, heers daar ‘n gevoel van desperaatheid en ernstige kommer oor die voortbestaan van Die Eiland Huis.

“Skriftelike klagtes by die provinsiale Departemente van Gesondheid en Maatskaplike Ontwikkeling het niks opgelewer nie. ‘n Vergadering by Die Eiland Huis in Maart vroeër vanjaar, waar ouers, die raad en verteenwoordigers van die departement teenwoordig was, moes ‘n terugvoeringsessie vir ouers wees. Dit het toe nie gebeur nie. Die raad en departement het bloot gesê ons moet ‘vergeet, vergewe en van vooraf begin’. Die departement besef duidelik nie die erns van die situasie nie. Die ouers en voogde beoog nou om ‘n prokureur te kry om hulle te help met ‘n hofbevel om die raad te verwyder.”

Weslander het beide provinsiale departemente per e-pos gekontak vir kommentaar oor die ouers se kommer en bewerings.

Volgens die kantoor van Jaco Londt, die Wes-Kaapse Minister van Maatskaplike Ontwikkeling, dateer die klagtes na Julie 2025. Hy sê verskeie stappe is egter wél geneem, wat onderhoude met raadslede, bestuur, personeel en ouers/voogde in Augustus 2025 insluit.

Volgens Londt is aanbevelings gemaak en is ‘n diensleweringsverbeteringsplan (SDIP) in Augustus 2025 aan die organisasie voorgelê. “‘n Vorderingsverslag is in Februarie 2026 aangevra, terwyl ‘n terreinvergadering op 26 Maart gehou is om die implementering van die aanbevelings en SDIP op te volg, en om die pad vorentoe te bespreek.

“Die raad, personeel en ouers/voogde was teenwoordig. Aksiestappe het ‘n ooreenkoms deur alle partye om saam te werk om probleme aan te spreek, insluiting van ouers op die raad, die ontwikkeling van ‘n klagteprosedure deur die raad en bestuur en gereelde vorderingsopdaterings wat aan beide departemente voorgelê moet word, ingesluit.”

Volgens Londt kan sy departement aanbevelings maak en leiding gee oor sekere bestuursake, maar het hulle nie ‘n mandaat om in arbeidsverwante aangeleenthede in te gryp of om raadsaanstellings te maak nie.

Die kantoor van Mireille Wenger, die Wes-Kaapse Minister van Gesondheid en Welstand, het bevestig dat die departement ‘n gesamentlike ondersoek met die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling gedoen het, nadat klagtes oor Die Eiland Huis in Julie 2025 ontvang is.

Volgens Wenger lei haar departement sedertdien deurlopende toesig-, ondersoek- en betrokkenheidsprosesse wat daarop gemik is om bestuur te versterk en nakoming van kliniese standaarde by die fasiliteit te verseker, en daar word tans in die basiese mediese en maatskaplike sorg van inwoners voorsien.

“Ons is bewus van die kommer wat deur ouers geopper is rakende Die Eiland Huis vir Gestremdes en neem dié kommer oor die veiligheid en gehalte van sorg van pasiënte ernstig op. Verskeie bestuurskwessies by die fasiliteit bly egter onopgelos, maar aangesien Die Eiland Huis ‘n onafhanklik besit en bestuurde fasiliteit is, is die departement in hierdie verband beperk tot die maak van aanbevelings.”

Volgens die departement word deurlopende monitering ondersteun deur onaangekondigde weeklikse terreinbesoeke, terwyl daaglikse welstandverslae vir elke inwoner aan die departement voorgelê word.
Weslander het Die Eiland Huis vir kommentaar oor die ouers en voogde se aantygings en bewerings genader.

Die Eiland Huis het verkies om met ‘n prokureursbrief te reageer. Volgens Tiaan du Plooy van Ebersöhns Prokureurs het hulle kliënt, Die Eiland Huis, kennis geneem van die ernstige bewerings in Weslander se skrywe aan Die Eiland Huis.

“Om die privaatheid en waardigheid van inwoners en personeel te beskerm, is ons kliënt nie in ‘n posisie om persoonlike mediese besonderhede van enige individu met derde partye of die media te bespreek nie. Ons kliënt is nie van plan om op elke bewering of paragraaf in julle brief te reageer nie en dit moet nie enigsins as erkenning van skuld op enige van die bewerings vertolk word nie.”
Volgens die prokureursbrief pas sy kliënt streng interne protokolle toe wat betref administrasie en medikasie, wat in lyn is met toepaslike gesondheidsorgregulasies.

“Enige aantygings van wanbestuur of nie-nakoming word ernstig opgeneem en hanteer in ooreenstemming met behoorlike proses. Waar kommernisse geopper word, word dit formeel ondersoek deur die toepaslike strukture, insluitend eksterne owerhede waar nodig.

“Ons kliënt ontken enige suggestie dat sake onder die mat gevee word en benadruk dat deursigtigheid en die welstand van inwoners sentraal bly in hulle operasies. Ons kliënt het reeds betrokke geraak met die relevante regulerende liggame om voldoening aan toepaslike standaarde te verseker en sal voortgaan om ten volle saam te werk met betrokke owerhede.

“Om twyfel te vermy, sal ons kliënt nie kommentaar lewer op deurlopende interne prosesse of enige saak wat die onderwerp van regsgedinge mag wees nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article