Noordkaap Bulletin

Ekapa: Minister fokus op ondersoek wyl vakbond strafregtelike stappe eis

Minister Gwede Mantashe besoek Ekapa
Minister Gwede Mantashe en David Msiza, inspekteur van myne. FOTO: Charné Kemp
Noordkaap Bulletin

Ekapa: Minister fokus op ondersoek wyl vakbond strafregtelike stappe eis


Met nog twee liggame wat Maandag omstreeks 02:00 in die Du Toitspan-diamantmyn by Joint Shaft in Kimberley gevind is, is die oorskot van al vyf die mynwerkers wat op 17 Februarie ná ‘n ondergrondse modderstorting vermis geraak het, na die oppervlak gebring. Die eerste liggaam is op Maandag 9 Maart gevind, en nog twee op Sondag 22 Maart.

Met dié wending kan familielede, vriende en kollegas van die vyf werknemers van Ekapa Minerals afskeid neem ná weke se angs en onsekerheid.

Intussen gaan die geregtelike ondersoek na die vernietigende modderstorting voort.

Oud-Ekapa mynpersoneel staan in rye om hul koopbewyse van R3 000 elk van die Kantoor van die Premier te ontvang. FOTO: Charné Kemp

Ook het die sowat 1 200 mynwerkers wat hul werk verloor en Februarie-salarisse ingeboet het nadat Ekapa op 25 Februarie aangekondig het dat aansoek om likwidasie gedoen word, Vrydag hul kruideniersware-koopbewyse van R3 000 elk van die Kantoor van die Premier begin ontvang. Die proses is Maandag voortgesit.

Amptenare van die departement van arbeid het ook begin om werkloosheidsversekeringseise te verwerk.

Oorsaak van ‘ongewone modderstorting’ ondersoek

Intussen het ‘n debat tussen die minister van minerale en petroleumhulpbronne, Gwede Mantashe, en die National Union of Metalworkers of South Africa (Numsa) ontstaan. Terwyl Mantashe klem lê op wetlike prosedures en die myn se finansiële herstel indien ʼn koper te voorskyn kom, fokus die vakbond op die dringende behoeftes van werkers en eise vir geregtigheid.

Mantashe het Maandag met sy besoek aan die myn en vergadering met mynbestuur aan joernaliste gesê die hoofinspekteur van myne lei ‘n volledige ondersoek om die oorsaak van die “ongewone modderstorting vir ‘n diamantmyn” vas te stel.

LEES OOK: Ekapa-likwidasie: Werknemers voel oorgelaat aan eie lot; pensioene bevries

Dié onvoorspelbare en massiewe modderstorting het die vyf mans sowat 890 meter ondergronds vasgekeer nadat ’n gewelddadige stroom modder in die tonnels ingestroom het. Die verskynsel, wat dikwels met ’n kragtige lugstroom gepaard gaan, word in mynverslae as vreesaanjaend beskryf wat alles in sy pad wegvee.

Volgens die minister is die doelwit vir mynbou-veiligheid steeds “geen leed”. Hy sê die geregtelike ondersoek behoort binne drie maande voltooi te wees.

Die inspekteur en polisie is besig met die ondersoek en outopsies word as deel daarvan gedoen. Die families is in kennis gestel.

“Ek het van die begin af geëis dat geen likwidasie-gesprekke mag begin voordat alle liggame gevind is nie om ‘n herhaling van die Lily-myn-tragedie (waar sommige mynwerkers steeds ondergronds is) te voorkom. Met dié ramp tien jaar gelede is foute deur my voorganger begaan wat ek nie gaan herhaal nie.”

Minister Gwede Mantashe besoek Ekapa
Lerato Mohatlane, Numsa-vakbond-woordvoerder. FOTO: Charné Kemp

Hy sê die myneienaars, en nie die staat nie, moet die volle finansiële verantwoordelikheid vir die begrafnisse van die slagoffers dra.

Mantashe sê die Ekapa-maatskappy kan nie sy finansiële verpligtinge nakom nie.

“Die likwidasie is ‘n geleentheid vir ‘n nuwe, groter eienaar om die bate oor te neem en werksgeleenthede te stabiliseer. As die nuwe eienaar groter as Ekapa is, sal daar weer werksgeleenthede ontsluit word,” sê Mantashe.

Voorval gelykstaande aan ‘misdaad’

Lerato Mohatlane, vakbond-woordvoerder, sê die voorval is gelykstaande aan ‘n “misdaad.”

“Ons eis dat die verantwoordelikes in hegtenis geneem word. Die departement moet optree. Ons het bewyse van ernstige nalatigheid, insluitend waarskuwings oor prosedures en ander kwessies lank voor die voorval plaasgevind het. Ons het dokumente wat toon dat die myn nie aan veiligheidsregulasies voldoen het nie.”

Mohatlane en die werkers eis dat die myn as ‘n misdaadtoneel hanteer word en dat veiligheid van werkers bo winste gestel word.

Intussen is 1 200 mynwerkers sonder werk.

“Hulle is sedert Februarie sonder salarisse, maar ons as vakbond het verskeie oorwinnings behaal. Die Kantoor van die Premier het R10 000 aan elk van die vyf families van die gestorwe mynwerkers toegestaan, en koopbewyse van R3 000 word aan alle werkers versprei. Die Momentum Voorsorgfonds het ingestem om werkers toegang te gee tot 50% van hul spaargeld in hul pensioene.”

Deur die verkryging van Artikel 48-briewe, word werkers beskerm teen swartlys-registrasie by banke en kan hulle vir nuwe werk soek sonder om hul pensioene te benadeel.

Intussen berei die vakbond voor vir die hofsitting van 17 April om die likwidasie-proses amptelik teen te staan.

Die Ekapa-mynterrein op Maandag 23 Maart. FOTO: Charné Kemp

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article