Misdaad NovaNews
Vyf mans is in verband met die moord van ‘n man in Cloetesville in hegtenis geneem.

Vyf vas ná bende-verwante skietvoorval, moord in Cloetesville


Vyf mans is in verband met die moord van ‘n man op Vrydag 21 Augustus in hegtenis geneem.

Volgens die Cloetesville-polisie word die moord steeds ondersoek. Die polisie het omstreeks 13:25 ‘n klag van ‘n skietery in Kudustraat in dié buurt ontvang.

Met hul aankoms op die toneel is polisiebeamptes meegedeel dat ‘n persoon geskiet is en by ‘n nabye verlate woning ingehardloop het.

Die plaaslike polisiewoordvoerder, AO Zenobia Sedeman, het bevestig die oorledene is in die badkamer van die betrokke woonstel gevind. “Beamptes het die man sittend in die woonstel se badkamer aangetref.”

Die slagoffer het verskeie skietwonde aan sy gesig, rug en lyf gehad en is deur nooddienste op die toneel dood verklaar.

“Die omstandighede rondom die skiet- voorval is nog onbekend. Die voorval hou egter verband met bendegeweld,” het Sedeman bevestig.

LEES OOK: Ses geskiet in Cloetesville – een dood

Gemeenskap help

Volgens André van der Westhuizen, voorsitter van die Cloetesville/Idasvallei-gemeenskapspolisiëringsforum, kom skietvoorvalle algemeen in die buurt voor.

Hy sê die inhegtenisnames ná verlede Vrydag se moord mag help om vertroue tussen die gemeenskap en polisie te bou, en dat inhegtenisnames moontlik gemaak word indien lede van die publiek inligting verskaf.

“Arrestasies kan slegs uitgevoer word indien daar opvolgbare leidrade is. Dit is nie bekend hoe en wie die inligting verskaf het nie. Die feit dat [Vrydag se voorval] in die daglig gebeur het, is ‘n teken van die vlak van disrespek vir mense se lewens en die diepgewortelde indruk dat bendelede onaantasbaar is.”

Tog sê Van der Westhuizen die feit dat die gemeenskap gemobiliseer het om verdagtes aan te keer, stuur ‘n duidelik boodskap uit dat geweld nie verder geduld sal word nie. Die vyf verdagtes wat in verband met die voorval in hegtenis geneem is, is onderskeidelik 17, 18, 20, 21 en 31 jaar oud.

Die polisie doen ‘n beroep op enigiemand met inligting oor die voorval om die bevelvoerder van die Cloetesville-polisiekantoor, lt.kol. Monique Fortuin, by 082 411 2911 te skakel.

LEES OOK: ‘Nuwe begin vir Cloetesville’

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article