Ashley Wynand
Sjef Ashley Wynand (36) in sy element in die kombuis waar hy sy hartstogtelike “onthoukos” voorberei. Hy maak Saterdag 25 April sy drome-restaurant by Elgin Vintage Ciders plaas in Grabouw oop.

Die sjef Ashley Wynand (36) se lang gekoesterde droom word Saterdag 25 April ‘n werklikheid wanneer hy sy eie restaurant op die Elgin Vintage Cider-plaas in Grabouw open.

Die bistro-tipe restaurant beloof om ‘n unieke eetervaring te bied wat op nostalgiese “onthoukos” gegrond is – geregte wat mense sal terugneem na ouma en mamma se dae.

Wynand van Pniël se liefde vir kos het op ‘n baie jong ouderdom begin. “As kind was ek baie nuuskierig as my ouma en my twee mammas kosgemaak het. Ek het daar en dan geweet kos is my eerste liefde. Ek kon op sewejarige ouderdom al ‘n pot tamatiebredie maak,” vertel hy.

Ashley Wynand
‘n Nuwe bistro-restaurant open op die Elgin Vintage Cider-plaas in Grabouw, waar sjef Ashley Wynand van hierdie naweek klante met sy nostalgise kookkonsep – rustic yet comfort – sal betower.

Ná sy studies by Boland College Stellenbosch (2011 to 2013) het Wynand vir ‘n spyseniersmaatskappy begin werk, waar hy die geleentheid gehad het om vir bekendes soos pres. Cyril Ramaphosa, Justin Bieber en Bon Jovi te kook.

“Ek het al vir van bekendes tot die haweloses gekook en elke keer is dit vir my net ‘n plesier. Om my restaurant op op die ouderdom van 36 te kan open, is net ‘n seën,” sê Wynand.

Televisie-roem

Wynand het onlangs op die gewilde kulinêre werklikheidsprogram Drukkoker op VIA (DStv-kanaal 147) verskyn, waar vyf sjef-entrepreneurspare meeding om ‘n belegging van R300 000 vir hul voedselonderneming te wen.

“Drukkoker was wonderlik. Ek is mal daaroor om voor die kameras te wees en sosiaal te verkeer, en om dus met vervaardigers soos Nina Swart en Zandri Douglas te werk, was net amazing!” vertel hy opgewonde.

Die konsep van Wynand se restaurant sal “rustic yet comfort” wees.

“Ek is ‘n nostalgise sjef. Onthoukos laat my hart klop. Mense kan smaakvolle, diep-lekker watertanddisse geniet wat hulle sal ­terugneem na hul ma en ouma se dae toe,” verduidelik hy.

Tans werk Wynand ook aan ‘n kookboek met die titel Onthoukos, met al sy resepte wat deur familieresepte geïnspireer is en wat hy oor die jare by familie en vriende geleer het.

Gemeenskapsbetrokkenheid

Wynand het ‘n sterk ondersteuningsnetwerk, met sy pa, Andy, as sy bestuur­der. “As konsultant-sjef het ek my hande vol, maar ek het ‘n baie goeie bestuurspan agter my.”

As ‘n inwoner van Pniël lê dit naby aan sy hart om aan sy gemeenskap terug te gee – veral die jeug. “Ek is dol oor plaaslike produkte, dus sal my bestanddele sal uit die vallei wees.”

Wynand streef ook daarna om eendag sy eie kookskool te open om jongmense met talent te help om dit te ontwikkel.

Volgende op Wynand se lys is sy eie kookprogram en die publikasie van sy kookboek. “Ek is mal daaroor om met mense te werk,” vertel hy.

Hoewel hy erken dat die grootste risiko van ‘n eie restaurant die onsekerheid is of mense sal kom, die kos sal geniet en sal terugkom, is hy vol vertroue oor sy aanbod.

“Die plaaslike gemeenskap is so ondersteunend en opgewonde. Dis regtig ­amazing om die ondersteuning van my mense te sien – my mede-Stellies-gemeenskap,” sê Wynand dankbaar.

Die restaurant open komende Saterdag (25 April) op die Elgin Vintage Cider-plaas in Grabouw. Wynand belowe dat iets geheims vir die eerste klante wag – “Dit gaan asemrowend wees.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article