Kyk | Stellenbosser se krisant die beste gekroon by nasionale skou in Pniël

krisanteskou pniël
Die beste blomme van die krisante-skou wat die afgelope naweek in Pniël aangebied is . Foto: Yaël Malgas

Blomkwekers en blomliefhebbers het Saterdag 9 Mei weer in Pniël byeengekom – die keer vir die nasionale krisantskou wat deur die nasionale krisantvereniging aangebied is.

Die kwekers, van Pniël tot Wellington, het vanjaar meer as 1 000 blomme vir die skou ingeskryf.

Die organiseerder, Richard Williams, was agter skerms en op die vloer gesien, waar hy ook krisante ingeskryf en ‘n paar pryse losgeslaan het.

krisanteskou pniel
Besoekers het die afgelope Saterdag die prag (en harde werk) van krisante by die nasionale krisantskou in Pniël se plaaslike kerksaal bewonder. Foto: Yaël Malgas

‘Soos ‘n kind’

Die groot Stellenbosch-wenner was Trevor Abrahams wat onder meer die prys vir die beste blom ontvang het. Gevra wat die wenresep vir die beste blom is, het Abrahams gesê krisante moet soos kinders hanteer word.

“Nes ‘n kind voeding, versorging en ondersteuning nodig het, so het asters dieselfde nodig,” vertel hy.

Krisante neem nege maande om te blom. Dus vergelyk kwekers gewoonlik hul blomme met kinders.

“Jy moet seker maak om die plante teen siektes en goggas te beserm. Jy moet altyd jou oog op die toestand van die blomme hou. Dit is baie werk, maar daar is baie liefde daarin.”

Abrahams sê net soos hy trots op sy kinders is, is hy trots op sy blomme.

krisanteskou pniel
Die Stellenbosser Trevor Abrahams spog met die toekenning vir die beste blom van die skou. Foto: Yaël Malgas

Oortref verwagting

Die nasionale skou het talle kwekers van die Wes-Kaap gelok. Die geleentheid word elke vier jaar gehou en volgens die vereniging se voorsitter, Michael le Cordeur, bied dit ‘n geleentheid vir kwekers om op ‘n hoër vlak te kompeteer.

“Die vlak van die inskrywings was van ‘n baie goeie kwaliteit. Die getal skoublomme het ons verwagtigings oortref,” sê hy.

La Condeur bieg egter dit bly ‘n uitdaging om nuwe kwekers te lok. In die meeste gevalle het lede, soos La Condeur self, die tradisie van krisantkweek by hul ouers geërf.

Werksessies by skole en gemeenskappe is reeds deur die klubs en verenigings gehou.

Die opmaak van die saal vir die naweek se geleentheid het reeds voorverlede Dinsdag begin.

Williams sê die hy het aanvanklik die kerksaal gereed gemaak vir 600 skoublomme, maar byna dubbel dié aantal krisante is ingeskryf.

Williams het pryse gewen vir beste wit blom en beste groot reflex.

Riewaan Baard het brons gewen vir beste spider- krisant (afdeling B) en Jacobs Daniels vir beste relfex (dekrotief). ‘n Pa en seun, Titus en Noel Simpson, het verskeie toekennings verower, onder meer silwer vir meriete uitstalling en die beste drie blomme.

Bernard Mentoor het met die nasionale vereniging se 1 Bloom Louisa Pocket-toekenning weggestap.

krisanteskou pniel
Die krisantkwekers Bernard Mentoor (links) en Riedwaan Baard by die prysoorhandiging. Foto: Yaël Malgas

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article