Studies conducted across seven Wstern Cape municipalities, revealing a stark reality tht there simply aren't enough affordable homes for the thousands of families in need.
Die Stellenbosch-munisipaliteit het planne om 17 erwe in Idasvallei op veiling te sit vir huiskopers. Credit: Lazy_Bear – stock.adobe.com

In ‘n dorp en buurt waar behuising so skaars soos hoendertande blyk te wees, sal 17 voornemende huiseienaars dalk die kans kry om ‘n erf in Idasvallei te koop.

Op Februarie se maandelikse raadsvergadering het die Stellenbosch-munisipale raad ‘n voorstel bekend gemaak om 17 erwe in dié buurt te verkoop, spesifiek met die oog op aanvullende behuising.

Die erwe, wat deel van Lindida in Idasvallei is, wissel tussen 118 m² en 234 m² groot met die huidige waardasies van die gronde wat tussen R97 977 en R129 529 is.

Volgens raadslid Rozette du Toit, wat die item ter tafel gelê het, is ‘n haalbaarheidstudie van stapel gestuur om te kyk of die erwe geskik sal wees vir behuising en wat die implikasies vir die munisipaliteit sal wees om die grond te ontwikkel vir hierdie doel. “Die grond is nie genoeg vir ‘n behuisingsprojek nie, daarom die voorstel vir aanvullende behuising,” het sy verduidelik.

Jong professionele mense wat vir die eerste keer huis koop blyk die teikenmark vir die erwe te wees met boorlinge van die buurt wat voorkeur sal kry.

Kaart van 17 erwe in Lindida, Idasvallei
Die 17 erwe in Lindida, Idasvallei, wat die Stellenbosch-munisipaliteit beoog om op veiling te plaas vir aanvullende behuising in die buurt. Foto: Stellenbosch-munisipaliteit

Die 17 erwe is erf 11554 tot 11570 in Talanastraat, om die hoek van Lindidaweg.

Volgens die raadsitems sal dit nie nodig wees vir die munisipaliteit om basiese munisipale dienste te verskaf nie. Daar is reeds ‘n stormwatersloot wat tussen die erwe en bestaande huise loop, maar dit sal opgeknap moet word saam met water-, riool-. en stormwaterverbindings.

Die munisipaliteit sal na beraming R1 miljoen moet opdok om die erwe geskik te kry vir verkoop per openbare veiling.

Van die nuwe eienaars sal verwag word om self hul woning binne twee jaar te bou.

Onder die voorskrifte vir die verkoop is dat die erwe apart verkoop word sodat nie net een persoon in besit van al die grond kom nie, het Du Toit verduidelik. “Indien nie al die erwe per veiling verkoop is nie, sal ‘n tweede ronde gehou word wat dan oop sal wees vir alle Stellenbossers om die erwe aan te koop.”

Idasvalleiers wat intussen weggetrek het, maar ‘n erf wil koop, sal geskikte bewys moet kan lewer dat hulle van die buurt is.

Die gebied Lindida is aanvanklik in die laat jare tagtig ontwikkel en in die 1990’s met gedeeltelike munisipale dienste toegerus is. Die erwe wat deur Garden Cities behartig is, is ná voltooiing aan die munisipaliteit terugbesorg en hoewel die erwe nou dienste gehad het, is die ontwikkeling nooit voltooi nie – iets wat eers onder die munisipaliteit se aandag gekom het nadat ‘n oudit van Idasvallei se beskikbare grond gedoen is.

Die voorstel vir die aanvullende behuising sal nou ‘n openbare-deelnameproses ondergaan waar inwoners kans sal hê om kommentaar te lewer.

Raadslid Marius van Stade, van Good, het gesê verantwoordbare bestuur beteken die munisipaliteit moet na die publiek se kommentaar oor die voorgestelde veiling luister. “Ons sien uit na die publieke insae deur die openbare-deelnameproses,” het hy gesê.

Sy party het aangedui hy sal enige kritiek en kommentaar hou totdat die proses voltooi is.

Die PA-raadslid John Andrews het die munisipaliteit gekritiseer oor die grond, wat jare gelede reeds aan die munisipaliteit teruggee is, en nou eers vir behuising benut word.

Die burgemeester, Jeremy Fasser, het gesê die aanvullende behuising is ‘n manier om die behuisingsagterstand te help uit te wis.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article