Skietvoorvalle in Cloetesville neem toe, met die gemeenskap wat vra dat die polisie ingegryp om hul veiligheid te verseker. Credit: CityVision

Plaaslike politici het vandeesweek hul stemme tot die noodkreet van Cloetesvillers gevoeg wat aandring dat daadwerlike optrede teen bendegeweld in Cloetesville geneem word.

Dit volg nadat drie kinders en ‘n man in ‘n bestek van vier dae in die buurt geskiet is.

Die VF+ se JC MacFarlane het Maandag (8 Desember) in ‘n verklaring gesê dit is veral hartseer dat hierdie misdade tydens die 16 Dae van Aktivisme teen Geweld teen Vroue en Kinders plaasvind. “Dit is onaanvaarbaar dat kinders nie eens in hul eie woonbuurt veilig kan speel nie. Hierdie probleem is niks nuut nie. Cloetesville en omliggende gemeenskappe leef al lank onder die juk van bendegeweld. Wat wel duidelik is, is dat die situasie nou handuit ruk en indien dit nie dringend en daadwerklik die hoof gebied word nie, gaan nog meer onskuldige slagoffers sterf,” lui die verklaring.

Die meisie (4) en seun (7) is Sondag (7 Desember) onderskeidelik in die nek en arm getref nadat verdagtes in North End-straat losgebrand het. Die Cloetesville-polisie het daarin geslaag om twee verdagtes in verband met Sondag se skietery, waartydens ‘n volwassene ook raakgeskiet is, in hegtenis te neem.

Volgens MacFarlane moet die polisie gespesialiseerde teenbende-eenhede permanent in Cloetesville en omliggende hoërisiko-gebiede ontplooi.

Intussen het die DA, die regerende party in Stellenbscosch, ‘n petisie begin in die hoop om die waarnemende minister van die SA polisiediens, Firoz Cachalia, te dwing om die Wet op die Suid-Afrikaanse Polisiediens sowel as die Strafproseswet te wysig “om die lewering van polisiëringsdienste te verbeter”. Die partye voer aan indien die wysigings plaasvind, kan munisipale vredesbeamptes gemagtig wees om in ‘n groter verskeidenheid misdrywe beter op te tree. Volgens die DA belemmer dié wette tans vredebeamptes se magte om op te tree.

Die skietvoorvalle in Cloetesville volg dae ná die Stellenbosch-munisipaliteit se n gesamentlike bekendstelling van sy vakansie-veiligheidsinisiatief. Tydens die bekendstelling verlede Woensdag (3 Desember) het die burgemeester, Jeremy Fasser, dit beaam dat gesamentlike optrede deur veiligheidsrolspelers nodig is. “Ons wil veilige strate hê. Ons wil veilige woonbuurte hê. Ons wil hê gesinne moet sonder vrees rondstap,” het Fasser gesê.

Hierdie voortuisig is egter ‘n dag later reeds ontspoor nadat ‘n tiener na bewering in Sylviastraat, Cloetesville, afgemaai is.

Die VF+ voer aan die nasionale en provinsiale regerig moet dringend geld beskikbaar stel vir jeug-voorkomingsprogramme en na-skoolse bedrywighede, wat kinders ’n alternatief vir bendes bied: “Daar is nie meer tyd vir hol beloftes of tydelike optredes wat verdwyn sodra die kameras weg is nie. Dit is tyd vir volgehoue, onwrikbare optrede en verantwoordelikheid op alle vlakke van regering.”

Inwoners word gevra om “saam te staan”, by hul plaaslike buurtwagte aan te sluit en misdrywe anoniem aan die polisie deur te gee.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article