Dit was met applous en ‘n erewag dat AO André Manus die afgelope Maandag (31 Augustus) die Stellenbosch-polisie gegroet het ná byna vier dekades van diens as polisiebeampte.
Manus (60) was verbonde aan die Kaapse Wynlande se eenheid vir misdaadintelligensie.
Só gevestig is Manus se netwerk dat sy kollegas gespot het hulle sal ‘n kennisgewing by die Stellenbosch-polisiekantoor moet plaas om die gemeenskap te laat weet hy het afgetree. “Ek gaan alles van die polisiediens mis,” vertel Manus.
LEES OOK: GALLERY: Stellenbosch police members honoured

Jare van ervaring
Dié Somerset-Wes inwoner is sedert 1999 deel van die plaaslike misdaadintelligensie, maar wou aanvanklik ‘n dominee word.
“As kind is een van my vriende doodgesteek en later is my swaer deur ‘n polisiebeampte aangerand en geskiet. Daar was toe ‘n sentiment dat almal in die polisie sleg is, maar ek wou mense wys om ‘n polisiebeampte te wees beteken om in diens van jou gemeenskap te staan.”
Met hierdie visie is Manus in 1988 na die polisiekollege.
Sy loopbaan het hier in Stellenbosch begin en hy was lid van die span wat destyds die Cloetesville-polisiekantoor geopen het.
Hy was ook ‘n ruk lank in Soweto, Johannesburg, gestasioneer. Dit was hierna dat hy by die intelligensie-eenheid aangesluit het.
Inligting gewerf
“Jy moet goeie menseverhoudings kan bou, bereid wees om te gaan waar niemand anders wil gaan nie en jy moet aanpasbaar wees,” verduidelik Manus oor sy werk.
Die werf van inligting en bevestiging van feite was deel van sy daaglikse take.
Manus was lid van die spanne wat gewerk het om hoëprofiel-sake te ondersoek, soos die Van Breda-moorde en die Matie Jesse Mitchell wat op sy verjaarsdag in die dorp doodgesteek is.
Sy noue samewerking met Stellenbosch se speurders het ook gelei tot die inhegtenisneming van twee verdagtes drie dae nadat Piet de Koker (77) op Saterdag 17 Januarie in die Papegaaiberg-begraafplaas vermoor is.
“Daar was so baie tonele, gevalle van selfdood… maar God dra jou deur. Dit gebeur dat mense byvoorbeeld polisiebeamptes op ‘n ongelukstoneel sien lag, maar dit is net ‘n manier om wat ons sien te verwerk. Ons grap nie oor wat gebeur nie, maar om te lag is gesond,” sê Manus.

Sterker geloof
Tog is daar dae wanneer gehuil word. Manus sê ná ‘n onlangse reeks moorde in Kayamandi is hy huis toe met ‘n swaar hart en het gebid vir krag om dit te verwerk wat hy op die toneel in die township gesien het.
Manus se geloof het in 2015 selfs sterker geword nadat kolonkanker by hom gediagnoseer is.
“Dit was ‘n Vrydag toe die dokter my monsters vir toetse weggestuur het. Die volgende Maandag bel iemand my vir hulp – ‘n man het homself toegesluit met ‘n byl in die huis, want hy wil nie na die rehabilitasiesentrum gaan nie,” onthou hy,
“Ek is soontoe om met hom te praat en op die yskas was ‘n berig oor sy ma wat borskanker gehad het en hoe sy uiteindelik genees is. Ek het met hom oor die kanker gepraat, alles waardeur sy ma is, en hy is uiteindelik na die rehabilitasiesentrum.”
Manus sê kort ná dié voorval het die dokter met die slegte nuus geskakel.
Maar Manus meen hy moes daardie dag die beriggie op die yskas gesien het, want daar is toe bewys dat sy toestand geneesbaar is.
Dit was ook die begin van sy “naweek-werk” om kos aan minderbevoorregtes in sy tuisdorp uit te deel. “Daar is niks soos ‘n dankie van mense wat werklik waardeer wat jy doen nie,” meen Manus.
Hy vertel ‘n dankie, “God bless you” en glimlagte wat hy sien deur sy gemeenskapswerk laat hom mens voel.
Sy raad aan enigeen wat die blou uniform wil dra is eenvoudig: “Wees tot diens vir jou gemeenskap.”
LEES OOK: Photos | Thanksgiving service in Ida’s Valley a nod to ones who serve






You must be logged in to post a comment.