Pniël is vanaf môre (Vrydag 20 Februarie) die enigste plek om te wees, met die jaarlikse Adam Small-fees wat by die Pniël-museum begin.
Vanjaar se fees bied iets vir almal met besprekings, opvoerings en historiese terugblikke oor die Dwarsriviervallei en meer.
Volgens Janine Myburgh van die Pniël Erfenis- en Kultuurtrust word ‘n groot gedeelte opgedra aan wyle dr. Diana Ferrus – nie net vanweë haar bydrae tot die Afrikaanse letterkunde nie, maar ook haar betrokkenheid by die fees sedert die stigting.
Die eerste fees om Adam Small, die digter, skrywer, politikus en akademikus, se lewe en nalaten- skap te vier, is in Februarie 2017 aangebied.
Vrydag se program vind in die plaaslike museum se teetuin plaas.
Hier kan besoekers uitsien na onder meer ‘n bespreking oor die tennisster Davy Samaai, hoor van die Stellenbosser Pieter Hough wat gesels oor sy memoires en My Death Defying Miracle, en ‘n hoogtepunt van die fees, “Diana Ferrus and her contribution to the ongoing formation of a Camissa African identity” deur Michael Weeder.
LEES OOK: Cloetesviller skryf sy lewensverhaal
Vir diegene wat meer wil weet oor die geskiedenis van die Dwarsrivier is daar “Kylemore historiese oorsig” aangebied deur prof. André Keet en die Kylemore-inwoner Ralph Jacobs.
Saterdag se program is propvol en dit vind in die Pniël Congregational Kerk en die kerksaal plaas.
Die oggend begin met die akademikus Darryl Earl Davids se “Doggone Days”.
Die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) bied ‘n Adam Small 90 Opvoering aan, ‘n spesiale produksie van Small se werke wat ook by die KKNK te sien sal wees. Small sou vanjaar in Desember 90 jaar oud geword het. Hy is in 2017 oorlede.
Die bekende joernalis en kommentator Heindrich Wyngaard kyk terug op Small se nalatenskap en dié van Jakes Gerwel in “Adam en Jakes: Wie is hul Afrikaanse gespreksgenote vandag?”.
In die gewilde VVA Ommietafel-gesprek sal die paneel kyk na “Hoe gaan dit by die Afrikaanse huis van radiostasies, plaaslik en internasionaal”.

Die gesoute joernalis Julian Jansen gesels later oor sy boek Die moord op Deveney Nel.
Saterdagmiddag sluit af met hulde aan die digter Diana Ferrus, met gedigte deur die Mengelmoes en Pniël-digters.
LEES OOK: Suid-Afrikaanse literêre reus Diana Ferrus (72) oorlede
Later die aand is dit musiek wat die praatwerk gaan doen. Tribal Echo sal die gehoor vermaak met ‘n skemerkonsert in die Pniël-museum se teetuin wat om 19:00 begin.
Frazer Berry, Deniel Barry en Earl Witbooi se musiek sal nuwe lewe gee aan Small se gedigte met hul toonsetting van bekend gedigte.
Plaaslike musiekmakers sal ook op die verhoog wees.
Sondag begin die laaste feesdag soos oudergewoonte met ‘n kerkdiens, met eerw. Michael Weeder wat die feesprediker vir die geleentheid is.
Na die erediens en ‘n koffiepouse is Wyngaard weer aan die woord met ‘n kykie na vanjaar se komende munisipale verkiesing in die bespreking “Plakkate, kandidate & ‘n stem vir gemeenskappe”.
Die Elias Nel-groep sluit die amptelike verrigtinge af met Psalms in Gariep Afrikaans.
Moenie hierdie naweek die fees misloop nie – alle vertonings en besprekings is pasella.
Kaartjies vir die skemerkonsert beloop teen R50. Stuur ‘n epos na pnielmuseum@gmail.com om ‘n kaartjie te bespreek.
• Vir die volle feesprogram, besoek https://www.adamsmallfees.co.za/.





You must be logged in to post a comment.