‘n Skool gestig deur die gemeenskap wat sy splinternuwe astrobaan vir die skoolgemeenskap beskikbaar stel …
Dít was die sentiment van die Dorothea Spesiale Skool se skoolhoof, Anthea Williams, op Dinsdag 4 Augustus by die amptelike opening van die skool se spesiale nuwe astrobaan, die Ivan’s Community Arena.
Dié nuwe gerief is met die hulp van verskeie plaaslike vennote geskep. Die Open Play-stigting, Training4ChangeS en die Stellenbosch-sportakademie het almal hand bygesit om die projek moontlik te maak.
LEES OOK: Dorothea Spesiale Skool-juffrou wen nasionale toekenning

Spesifiek toegerus
Volgens Marco Botha van die Open Play-stigting was die bou van die baan nie beplan nie, maar met die hulp van verskeie ondernemings en skenkers kon die skool se ou netbalbaan in ‘n gepaste baan vir die skoolkinders omgeskep word.
Danksy oorblywende kunsgras van ‘n projek en ‘n skokabsorberende mat van ‘n ander kon die verskaffer beide teen ‘n goedkoper prys aanbied.
“Hierdie oppervlak is spesifiek vir Dorothea se leerders toegerus – leerders wat mobiliteitsprobleme het. Hierdie baan het ook onverwagte voordele van hierdie baan vir leerders,” sê Botha.
Danksy die hulp van die Open Pay-stigting se netwerk kon die baan, met die waarde van sowat R1 miljoen, vir ‘n derde van die prys ingerig word.

Ter herdenking
Dorothea is in die 1980’s gestig nadat die behoefte vir ‘n skool vir gestremde kinders geïdentifiseer is.
Een van hierdie oudleerders was wyle Ivan Adams, na wie die astrobaan vernoem is. Adams is in 2021 oorlede – dae voor sy 56ste verjaarsdag.
Joan Abrahams, ‘n familielid by wie Ivan tot met sy dood gewoon het, onthou dat beide Adams se ouers by die skool betrokke was.
“Die familie mis hom nog baie. Hy was byvoorbeeld baie lief vir sleutels en het altyd jou sleutels gevat sodra iemand by die huis inkom. Soms het hy die sleutels weggesteek en dan was dit ‘n groot gesoek, maar sulke dingetjies is waarvoor ons hom sal onthou,” sê Abrahams.
Nou bied die baan Dorothea se leerders die kans om te ontwikkel, sê Williams.

Stem van hoop
“In die stilte is daar altyd ‘n stem van hoop. Ons is nie sommer net nog ‘n skool nie – hierdie skool is een met ‘n Godsverhaal . . . Ons strewe vir ons leerders is gehalte-onderrig in die klaskamer en nou ook op die baan. Maar om die beste geleenthede vir ons leerders te skep, het ons volhoubare vennote nodig en dit is presies wie hierdie projek ‘n werklikheid gemaak het,” vertel Williams.
Sy spoor almal aan om hul ore en harte altyd vir die stille stem van hoop oop te hou, waar hulle hulle ook al bevind.
Benewens die baan het die skool ook sporttoerusting by die plaaslike raadslid Elsabé Vermeulen (wyk 16) ontvang.
Na afloop van die amptelike opening en die seremoniële lintknip het die groot pret begin. Leerders het op hul nuwe baan aan speletjies deelgeneem en die ouer kinders het in netbal- en sokkerwedstryd kragte gemeet.
LEES OOK: Dorothea school embraces e-learning




You must be logged in to post a comment.