Inwoners va Mountain View, Jamestown het Dinsdag (2 Desember) munisipale kontrakteur verhoed om wendyhuise op te rig vir gesinne wat glo van 'n plaas in Jonkershoek afgesit is. Foto: Yaël Malgas
Inwoners va Mountain View, Jamestown het Dinsdag 2 Desember munisipale kontrakteur verhoed om wendyhuise op te rig vir gesinne wat glo van ‘n plaas in Jonkershoek afgesit is. Foto: Yaël Malgas

Inwoners van Mountain View, Jamestown, het Dinsdag 2 Desember ‘n stokkie gesteek voor die Stellenbosch-munisipaliteit se plan om vier wendyhuise in hul buurt op te rig.

Die onstoke inwoners sê beamptes van die munisipaliteit het voor 09:00 reeds met planke opgedaag om die strukture op te rig.

Teen 15:30 het inwoners steeds gekeer dat die kontrakteur en sy werkers die wendyhuise bou, in aanskou van munisipale wetstoepassers.

Inwoners va Mountain View, Jamestown het Dinsdag (2 Desember) munisipale kontrakteur verhoed om wendyhuise op te rig vir gesinne wat glo van 'n plaas in Jonkershoek afgesit is. Foto: Yaël Malgas
Inwoners va Mountain View, Jamestown het Dinsdag 2 Desember munisipale kontrakteur verhoed om wendyhuise op te rig vir gesinne wat glo van ‘n plaas in Jonkershoek afgesit is. Foto: Yaël Malgas

Eikestadnuus het met ‘n inwoner gesels wat reg langs die oop stuk grond woon waar die wendyhuise opgerig sou word.

“Ek sê toe vir hulle: ‘Nee, hier is waar my kinders speel’. Ons het niks kennis vooraf gekry dat hier hokke [wendyhuise] kom nie. Ons hart is met die mense wat hier moet intrek, maar dit is ook nie reg nie. Ons bly maar uit die hele besigheid,” het die man, wat anoniem wou bly, verduidelik.

Altesaam 12 mense het vermoedelik verwag om Dinsdag in Jamestown in die munisipale noodbehuising in te trek nadat hulle van ‘n plaas in Jonkershoek afgesit is. ‘n Hof het intussen beveel die Stellenbosch-munisipaliteit moet alternatiewe behuising aan die gesinne bied.

Een van die gesinne het glo twee gestremde kinders.

‘Wat van ons eie mense?’

“Die munisipaliteit wil hier wendyhuise oprig terwyl ons mense in agterplase woon – ons mense vir wie hulle nie behuising wil gee nie! Die gemeenskap weier dat dit sal gebeur.

“Hulle kan nie net vreemde mense hier kom sit nie. Wat van ons eie mense?” wou Amanda Visser, ‘n inwoner en gemeenskapsleier, weet.

‘n Mede-inwoner, Eben Galant, deel die sentiment en sê vir te lank “dump” die munisipaliteit mense van ander oorde in Mountain View. Hy sê die munisipaliteit se verduideliking dat dit slegs tydelike behuising is, is ‘n leuen, aangesien mense permanent in die noodbehuising woon.

Benewens die ongelukkigheid oor die bestaande tekort aan behuising vir Mountain View-inwoners, die gebrek aan kommunikasie van die munisipaliteit af en wat inwoners meen die misdaad wat saam met nuwe intrekkers kom, sê hulle die grond waarop die munisipaliteit die wendyhuise wou oprig, is nie geskik vir inwoners nie.

“Hier is niks elektrisiteit en water nie. Wat sou hierdie mense maak? Hoe gee jy vir mense met gestremde kinders ‘n blyplek sonder basiese dienste?” vra Galant.

Op die November- munisipale raadsvergadering is ‘n item, “Informal settlements, evictions, and proposed temporary relocation to Jamestown Mountain View”, onttrek.

Die item handel juis oor die munisipaliteit se planne om die Jamestown Mountain View- tydelike hervestigingsgebied uit te brei en permanent te maak as deel van die munisipaliteit se gebeurlikheidsplanne vir wanneer noodbehuising aan inwoners verskaf moet word.

Kapsie teen plan vir noodbehuising

‘n Groep van meer as 72 belangstellendes het egter voor die raadsvergadering op Woensdag 26 November kapsie gemaak teen die munisipaliteit se plan en die item is aan die agenda onttrek.

Die groep plaaslikes voer aan die noodbehuising wat die munisipaliteit in Mountain View bied, is nie geskik nie en kom nie sy eie basiese vereistes vir noodbehuising na nie.

Volgens die raadsitems verwag die munisipaliteit dat minstens 25 huishoudings in Januarie 2026 uitsettingsbevele sal ontvang, wat sal beteken die munisipaliteit sal minstens hierdie huishoudings van behuising moet kan voorsien.

Die munisipaliteit erken die noodbehuisingskema in Jamestown het sy kapasiteit bereik. Saam met Mountain View het die munisipaliteit voorheen inwoners in Klapmuts en La Motte, Franschhoek, in noodbehuising gehuisves.

In hul skrywe aan die munisipaliteit waarsku die groep insae is nie aan die gemeenskap gevra oor die hervestigingsgebied se uitbreiding nie.

Nes Mountain View-inwoners, kla die groep van die misdaad waaronder nabye buurte deurloop, die gebrekkige toestand waarin inwoners moet leef asook die negatiewe uitwerking wat die uitbreiding op die waarde van nabye eiendom en inwoners se netto-waarde sal hê.

Inwoners wat Dinsdag gekeer het teen die oprigting van die wendyhuise het uitendelik geslaag en die wendyhuise is nie opgerig nie.

Eikestadnuus het by die Stellenbosch-munisipaliteit navraag gedoen oor onder meer wat met die uitgesette gesinne sal gebeur, maar het teen druktyd nie terug voer ontvang nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article