Van der Stel-Evergreens
Die Van der Stel-Evergreens-rugbyklub het ‘n moeilike jaar beleef, maar sal in 2027 in Superliga B moet herbou. Foto: Foto: CS Photography/Argief

Herbou Van der Stel-Evergreens só vir 2027-klubrugbyseisoen

Van der Stel-Evergreens
Die Van der Stel-Evergreens-rugbyklub het ‘n moeilike jaar beleef, maar sal in 2027 in Superliga B moet herbou. Foto: Foto: CS Photography/Argief

Gebruik vanjaar se ervaring as o.20-spelers in Superliga A van die WP-Rugbyunie se kompetisie as boustene vir 2027.

Dit was Saterdag 5 September die boodskap van Granthem Jansen, voormalige skoolhoof van Vlottenburg Primêr, na afloop van die Van der Stel-Evergreens-rugbyklub (VDE) se uitdaagwedstryd teen Kuilsrivier op die Jagtershof-sportterrein, nadat sy oud-leerders wat as eerstespanspelers uitgedraf het, 127-0 verloor het.

Die telbord was nie vanjaar in VDE se guns nie, want voor die liga in April begin het, het die meeste senior spelers en afrigtingspan die klub verlaat en moes die o.20-spelers die res van die jaar die wa deur die drif trek.

Dit was VDE se tweede jaar in die liga en groot verwagtinge is van die klub gekoester om die ervare spanne vanjaar uit hul gemaksone te skud.

VDE het die afgelope vier jaar uit die sones tot in Superliga A gevorder en het verlede jaar sewende op die punteleer geëindig.

LEES OOK: Voormalige Van der Stel-Evergreens-speler draf vir Limpopo Bulls uit

Spelers wat klub dra

Kriekettellings is in SLA teen VDE aangeteken, maar die span het die meeste van hul ligaverpligtinge nagekom, ongeag die tellings.

Die spelers wat die klub gedra het, kom uit die junior strukture van o.10 tot o.18 wat deur Denzil Esau, Gert Booysen, Riaan Timmie en Stefan van der Hoven in plek gesit is.

Dit is ‘n bewys dat die junior strukture op ‘n gesonde grondslag gebou is, want nie net het drie van die o.20-spelers – Byron Snel, Jeffwin Wesso en Deandre Bouwers – provinsiale debute vanjaar vir ander provinsies gemaak nie, maar het Alicia Arries weer die Suid-Afrikaanse vrouespan teen Fidji en Nieu-Seeland verteenwoordig.

In sommige ligaverpligtinge het van die o.20-spelers drie wedstryde gespeel, ‘n bewys van hul lojaliteit teenoor die klub waar hulle hul eerste rugbyspore as kannetjies getrap het.

Jansen noem dat hy baie trots is op sy oud-leerders, want van hulle was landloopatlete en nou hou hulle nie net die skool nie, maar ook VDE se naam hoog in die taaiste liga.

Insinking beleef

“Ek het die wedstryd kom kyk en was verbaas oor die hart en toegewydheid wat die jong spelers teen Kuilsrivier gewys het, om nie terug te staan om die groot spelers grond toe te bring nie.

“Ek moet erken hul asem het soos die wedstryd gevorder het, opgeraak, maar hulle het nie moed opgegee nie. Die telbord was lankal teen hulle, maar dit het nie verhoed dat hulle nog steeds hul werk op die veld gedoen het nie.”

Jansen, ‘n losvoorspeler in sy speeldae, het vir drie provinsies onder die destydse SA Rugbyunie – OP, Griekwas en City en Suburban – uitgedraf, voor hy ook die Saru-trui oor sy kop getrek het.

“VDE se spelers het my laat terugdink aan my speeldae, toe jy elke Saterdag wou speel, ongeag wie jou teenstanders was, want jy wou jou teen die bestes toets,” sê Jansen.

“In sommige gevalle was jy Dawid teen Goliat, maar vir jou het dit oor rugby gegaan. My oud-leerders gee my weer hoop vir rugby, want vandag se rugby is semi-professioneel sedert geld ‘n rol speel. Vir VDE wil ek sterkte toewens vir 2027, want jy kan net verbeter. Hulle moet nou herbou en sterker terugkom, want klubs gaan deur ‘n insinking.”

LEES OOK: Super-league rugby weekend bombs for teams from Stellenbosch

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article