Voormalige Van der Stel-Evergreens-speler draf vir Limpopo Bulls uit

Byron Snell Limpopo Bulls
Byron Snell (20) in die kleure van die Limpopo Bulls.

Voormalige Van der Stel-Evergreens-speler draf vir Limpopo Bulls uit


Byron Snell (20) is die derde speler van die Van der Stel-Evergreens-rugbyklub wat ‘n provinsiale kontrak losgeslaan het.

Hy is tans deel van die Limpopo Bulls-span, waar hy as losskakel gekies is.

Die ander twee Van der Stel-Evergreens (VDE)-spelers met provinsiale kontrakte is DeAndré Bouwers by Griekwas en Jeffwin Wesso by die Griffons.

LEES OOK: Spelers van VDE kry kontrakte

Van der Stel-Evergreens
Byron Snell (regs) saam met die Ulster-speler Juarno Augustus (middel) en sy voormalige Van der Stel-Evergreens-spanmaat Zaakir Bazier. Die foto is tydens Augustus se 2025-besoek aan die Van der Stel-sportgrond in Stellenbosch geneem.

‘n Ma se opofferinge

Snell het as kaalvoet-seun in VDE se o.10-span gespeel en deur die klub se ouderdomstrukture gevorder totdat hy verlede jaar op losskakel vir die eerste span in Superliga A uitgedraf het.

Vanjaar het hy by die UXI-Akademie aangesluit en tot met sy vertrek noorde toe vir Villager se o.20’s uitgedraf.

Oor sy insluiting in die Limpopo Bulls sê hy dat hy bly is hy kry die kans om sy talent op ‘n hoër vlak te wys. “Die opofferinge wat my ma, Irma Snell, deur die jare gemaak het en steeds doen, is ek baie dankbaar voor.

“Sy is die een wat in my geglo het, aangemoedig het om my drome na te jaag en my bygestaan het as ek ‘n skeet of besering opgedoen het. Ek weet dit was nie altyd vir haar maklik nie en wil vir haar en die Man van Bo dankie sê; vir God vir my talent en dat Hy altyd Sy hand oor my hou om nie ernstige beserings op te doen nie,” sê Snell.

Produk van Stellenbosch

Hoewel hy op nommer 10 uitdraf, is sy held die voormalige Springbok-heelagter van Hermanus, Gio Aplon.

“Jy kan boeke skryf oor sy talent, want voor Cheslin Kolbe was daar Gio Aplon. Ek gebruik sy aftrappe en swaai van heupe om my deur klein gapings te wikkel. Hy was uitstekend met teenaanvalle vanaf die laaste vesting. Ek gebruik dit as deel van my mondering,” vertel Snell.

“Ek is ‘n rugbyproduk van Stellenbosch, het by die Laerskool Eikestad begin, daarna my loopbaan by Paul Roos Gimnasium op skoolvlak afgesluit voordat ek verlede jaar ‘n senior speler by VDE was. VDE het my gehelp om in my rugby te groei en om ervaring op te doen. Ek het in hul sisteem grootgeword en die vier wedstryde vir die eerste span verlede jaar was die kersie op die koek,” sê hy.

Snell was vir 12 jaar ‘n lid van die klub en hy onthou hoe hy as jongeling vroeg op ‘n Saterdagoggend dikwels op ‘n veld met ryp gespeel het. Sy droom is om, terwyl hy nog jeug aan sy kant het, as veelsydige speler by ‘n groter unie aan te sluit.

Rugby ‘n spansport

“Om ‘n veelsydige speler te wees, moet jy maar jou tyd opoffer om jou vertroud te maak met die verskillende posisies in die agterlyn. Dit is ook belangrik dat jy na jou liggaam kyk, die regte dieet volg en weg bly van alkohol en dwelms.

“Om ‘n spanspeler te wees, moet jy toegewyd wees aan jou medespelers en afrigters, want rugby is ‘n spansport. My grootste droom is om êrens in Europa te gaan speel, ervaring van rugby in die Noordelike Halfrond op te doen en dan met genoeg kennis terug te keer Suid-Afrika toe vir die gesogte Boktrui,” sê Snell.

Nou fokus hy op sy rugby by die Limpopo Bulls en wag om sy debuut te maak.

Sy boodskap aan sy spanmaats by VDE, saam met wie hy tot verlede jaar gespeel is, dat hulle moet vasbyt. “Ek weet dit gaan vanjaar moeilik met julle, maar onthou die comeback is ver beter as die setback wat julle nou ervaar.

“VDE sal weer opstaan en ‘n krag word. Ons het nie verniet vanaf die streekskompetisie tot in Superliga A gevorder nie. Dit is julle tweede jaar in Superliga A, iets wat min gevestigde spanne of spelers agter hul name kan skryf. VDE kan net weer herbou en weer hul stem dikmaak; ek glo in julle.”

LEES OOK: Alle oë op VDE ná nederlaag teen Hamiltons

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article