Die jaarlikse inklusiewe, musiekkonsert die HearUs-feeskonsert word op 5 September deur die Dare4Life-organsie by die Endler-saal aangebied.

HearUs-musiekfees help dowes om kogleêre inplantings te kry

Die jaarlikse inklusiewe, musiekkonsert die HearUs-feeskonsert word op 5 September deur die Dare4Life-organsie by die Endler-saal aangebied.

‘n Musiekkonsert wat gehore sal betower en pasiënte kan help hoor, vind volgende maand in die Endler-saal plaas.

Die jaarlikse HearUs-feeskonsert wat deur die Dare4Life-organisasie aangebied word, vind op Saterdag 5 September plaas.

Volgens dr. Sucari Vlok, ‘n radioloog van Morton & Partners, het die idee vir die konsert gekom nadat prof. Leon Janse van Rensburg, buitengewone professor in Radiologie aan die Universiteit Stellenbosch, haar in 2019 vir hulp gevra het om geld in te samel vir HearUs.

Vlok was toe ‘n konsultant by die Tygerberg-hospitaal. “Hy het geweet ek is baie lief vir musiek en ek het oor die jare verskeie geldinsamelingskonserte gereël,” onthou sy.

Die Covid-pandemie het egter die planne vir die geldinsameling in die wiele gery, maar in 2022 het die twee se paaie weer gekruis.

Dr. Leonard Heydenrych, ‘n oftalmoloog en korneale oorplantingschirurg en musikant, en prof. Mario Nell, destydse direkteur van die Endler-saal, het ook hul vaardighede gedeel en saam is die HearUs-konsert geskep.

Nell se enigste voorwaarde om die konsert in die Endler-saal te hê, was om dié geleentheid te gebruik om die Stellenbosch-jeugorkes te laat herleef. Die jeugorkes het in 2007 doodgeloop ná die dood van Lona Antoniadis.

In 2023, tydens die eerste HearUs-konsert, het die nuwe Stellenbosch-jeugorkes opgetree. Onder leierskap van Reghardt Kühn en later ook Stuart Martin het die Stellenbosch-jeugorkes verskeie hoogtes bereik.

LEES OOK: An orchestral fusion to raise funds at Stellenbosch’s Endler Hall

HearUs konsert
Die jaarlikse inklusiewe, musiekkonsert die HearUs-feeskonsert word op 5 September deur die Dare4Life-organsie by die Endler-saal aangebied.

Die doel met die musiek

Vlok vertel kogleêre inplantings is “ontsettend duur” en die opbrengs van die jaarlikse konsert is nie eens genoeg om een pasiënt met ‘n nuwe inplanting te help nie.

Benewens die duur inplanting beloop die koste van die beplanningsondersoeke, wat verskeie skanderings insluit, die chirurgie en die instandhouding van die inplanting duisende rande.

‘n Unilaterale kogleêre inplanting wissel tussen R385 000 en R500 000 per pasiënt en ‘n bilaterale inplanting (vir albei ore) kan tot meer as ‘n miljoen rand beloop. Daarmee saam het pasiënte verskeie terapieë nodig nadat die inplating gedoen is.

Diegene wat finansiële hulp kort, word deur hul dokter ondersoek. Die dokter lê ‘n verslag aan die HearUs-raad voor en indien suksesvol, word geld beskikbaar gestel.

‘n Konsert vir die geskiedenis

Vanjaar se konsert is veral ‘n spesiale geleentheid aangesien HearUs, wat deur Daneel en Santie van der Walt, en Fanie de Villiers gestig is, vanjaar 25 jaar bestaan.

Die drie het die organisasie gestig nadat hul kinders kogleêre inplantings ontvang het.

Nou help die organisasie minder- bevoorregte volwassenes en kinders. “Dit beteken die wêreld vir hierdie pasiënte wat andersins in ‘n wêreld van stilte sou moes leef, waar eensaamheid en isolasie, die onvermoë om te kommunikeer en uitsluiting die norm word.

“Dit is ook 40 jaar gelede toe die eerste kogleêre inplanting in Suid-Afrika by Tygerberg-hospitaal deur dr. Derrick Wagenfeld van die US, in samewerking met die oudioloog Lida Müller en hul span, gedoen is.

“Ons kyk terug op onderskeidelik 40 en 25 jaar en vier die nalatenskappe van visionêre mense wat die platforms help bou het en spanne wat saam met hulle die platforms in stand gehou het om mense die geskenk van gehoor te gee,” vertel Vlok.

Die multidissiplinêre kogleêre inplantingspan by Tygerberg-hospitaal is die oudste in die land, wat ‘n kombinasie van pasiënte in die staats- en privaatsektor. Hier is sedert 1986 in die omgewing van 1 200 nuwe inplantings gedoen.

Vanjaar se HearUs-konsert verwelkom Martin, die Stellenbosch-jeugorkes, Heydenrych en die Heydeburg-simfonieorkes, asook verskeie musikante onder meer violis Piet de Beer, tenoor Thandolwethu Longo en pianis Kate Allwood, wat self ‘n kogleêre inplanting het.

Die voormalige Mej. SA, Mia le Roux, ook ‘n ontvanger van ‘n kogleêre inplanting, maak ook ‘n verskyning.

Om die konsert meer toeganklik te maak vir persone met kogleêre inplantings word ‘n induksielus-klankstelsel in verskeie rye van die Endler-saal op die aand ingestel. Hierdie stelsel beteken dat mense met gehoorapparate en inplantings die pragtige, suiwer musiek kan geniet.

Kaartjies vir die HearUs-feeskonsert by die Endler-saal op 5 September is nou aanlyn by Quicket te koop.

LEES OOK: The Winelands Philharmonic Orchestra builds bridges through music

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article