christie noble
Wyle rugbyster en politikus Christie Noble.

Groot rugbygees van Stellenbosch oorlede


Geskiedenismaker, politikus en aktivis was net ‘n paar van die hoede wat Christie Noble gedra het, maar vir Stellenbossers was hy grootliks ‘n rugbyman.

Die Cloetesville-gebaseerde Blakes-rugbyklub het Vrydag (6 November) bevestig Noble is vroegoggend na ‘n kort siekte oorlede.

Noble (63), wat van ‘n rugbydinastie kom, het ‘n lang verbintenis met dié klub gehad. “Vandag treur ons oor die verlies van iemand wie se lewe en teenwoordigheid deel sal bly van die herinneringe van diegene rondom hom. Alhoewel woorde nooit die pyn van die verlies van ‘n geliefde ten volle kan verwoord nie, besef ons dat dit ‘n ongelooflik moeilike tyd is vir familie, vriende en almal wat na aan hom was,” het die Blakes se bestuur op hul sosiale media geskryf.

Noble het destyds naamgemaak as deel van die Haaie se Curriebeker-triomf van 1990 en die destydse linkervleuel het later ook bekendheid verwerf vir sy werk as breier, onder meer vir sy susterskind JP Pietersen.

“Al vier ons broers het rugby gespeel. Dit was John, wyle George, ek en dan Christie. Ons het ook drie susters gehad, met een wat ons reeds verlaat het,” verduidelik ouer broer Aubrey. Saam het Aubrey en Christie destyds geskiedenis gemaak as die eerste “gekleurde” spelers wat in die 1980’s vir ‘n klub in Frankryk gaan speel het in.

Dit was by die einste Cloetesville-klub waar die Noble-broers rugby begin speel het as deel van die o.7-span. Vandaar het hulle deur die jare tot op seniorvlak beweeg en op net 18 jaar oud was Christie reeds vir die klub se eerste span gekies.

“As afrigter het hy dissipline en respek afgedwing. Die grootste werk wat hy agtergelaat het, is sy werk met juniors en die vele jong spelers, insluitend my eie seun Dusty, wat hy help brei het,” sê Aubrey.

Saam met sy vrou, Beverley-Lynn, het Christie ook in 2013 die Christie Noble Fixer Fitness-stigting ná sy rugbyloopbaan begin. Met hul gratis oefensessies het die paartjie gewerk om veral bejaardes in Cloetesville aktief en fiks te help hou.

LEES OOK: Rugby’s elite ten join forces in new commercial venture 

Benewens sy werk op en langs die rugbyveld het die Cloetesville-boorling ook sy gemeenskapswerk tot in die Stellenbosch-munisipaliteit se raadsaal geneem. Hy was raadslid vir die plaaslike munisipaliteit onder die vaandel van die Good-party. “Ons was verbaas toe hy die politiek betree. Hy het een dag hier met ‘n t-hemp van Good aangekom en ek was nogal verras,” vertel Aubrey.

Volgens die SA Rugby Legends-vereniging is hy Vrydag as ‘n legendariese speler en baanbreker beskryf. “Christie was deel van ‘n ware SA rugbydinastie. Sedert die tyd voor die transformasie van rugby in Suid-Afrika, het die Noble-familie ongelooflike rugbytalent opgelewer,” het die vereniging in ‘n sosiale media-plasing geskryf.

Aubrey sê hy sal sy broer onthou as iemand wat geleef het vir rugby, as ‘n grapjas wat “lekker jou siel kon uittrek” en ook ‘n hardkoppige streep gehad het.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article