Huldeblyke stroom steeds in vir wyle Christie “Kitty” Noble, alombekende geskiedenismaker, politikus en gemeenskapsaktivis.
Die Cloetesville-gebaseerde Blakes-rugbyklub het verlede Vrydag (6 November) bevestig die Stellenbosch-rugbylegende is vroegoggend ná ‘n kort siekte oorlede.
Noble (63), wat van ‘n “rugbydinastie” kom, het ‘n lang verbintenis met dié klub gehad.
“Vandag treur ons oor die verlies van iemand wie se lewe en teenwoordigheid deel sal bly van die herinneringe van diegene rondom hom. Alhoewel woorde nooit die pyn van die verlies van ‘n geliefde ten volle kan verwoord nie, besef ons dat dit ‘n ongelooflik moeilike tyd is vir familie, vriende en almal wat na aan hom was,” het die Blakes-bestuur op sosiale media geskryf.
Charles Williams van Kuilsrivier, junior Springbok- en nasionale keurder, onthou Noble se dae by Blakes. “Ek en Andrew van Wyk het hom al by Blakes, en ek as Coronations-liga se afrigter, geskuif van agtsteman na vleuel, omdat hy baie spoed gehad het. Almal dink Dawie Snyman het hom ‘n vleuel gemaak by WP, maar hy het eers by Blakes en daarna by die liga op vleuel uitgedraf. Christie het vir WP-Liga as agtsteman uitgedraf en ons het Pompies Williams na flank verskuif om plek te maak vir hom op agt,” sê Williams.

Al vier Noble-broers het rugby gespeel, vertel Noble se ouer broer Aubrey. “Dit was John, wyle George, ek en dan Christie. Ons het ook drie susters gehad, met een wat ons reeds verlaat het.”
Saam het Aubrey en Christie destyds geskiedenis gemaak as die eerste “gekleurde” spelers wat in die 1980’s vir ‘n klub in Frankryk gaan speel het.
Dit was egter by die Cloetesville-klub waar die Noble-broers rugby begin speel het, vir die o.7-span. Van daar het hulle deur die jare tot op seniorvlak beweeg en op net 18 jaar oud is Noble vir die klub se eerste span gekies.
‘Hy’t vir teenstaanders hakskene gewys’
Noble het ook vir die Van der Stel-rugbyklub uitgedraf. Met sy uithaler-vertonings en groot spoed het hy die WP-keurders se aandag gelok. Dit was egter sy vertoning as deel van die Haaie se Curriebeker-triomf van 1990 wat sy plek as as ‘n rugbylegende verseker het.
Die destydse linkervleuel het ook bekendheid verwerf vir sy werk as breier, onder meer vir sy susterskind JP Pietersen, oud-Springbok en huidige breier van die Sharks.
“As afrigter het hy dissipline en respek afgedwing. Die grootste werk wat hy agtergelaat het, is sy werk met juniors en die vele jong spelers, insluitend my eie seun Dusty, wat hy help brei het,” sê Aubrey.
Richard Croy, wat saam met Noble vir die WP uitgedraf het, beskryf hom as ‘n lojale spanmaat. “Hy het altyd 100% gegee en was ‘n goeie verdediger. As flank vir die WP en die WP-liga was hy kliphard op die veld en het nie lyf weggesteek nie.
“Sy spoed het gewoonlik die ander flanke geklop en hy het vir hulle hakskene gewys. Wyle Dougie Dyers het hom van losvoorspeler na vleuel verskuif en daar het hy ook skade met sy spoed aangerig. Hy was een van die eerste spelers wat gewoonlik na ‘n wedstryd met die teenstanders gaan praat het en het hulle baie geterg oor hoe hulle net sy hakskene gesien het,” sê Croy.

Saam met sy vrou, Beverley-Lynn, het Christie in 2013 die Christie Noble Fixer Fitness-stigting ná sy rugbyloopbaan begin. Met hul oefensessies het die paartjie gewerk om veral bejaardes in Cloetesville aktief en fiks te help hou.
Benewens sy werk op en langs die rugbyveld het die Cloetesville-boorling ook sy gemeenskapswerk tot in die Stellenbosch-munisipaliteit se raadsaal geneem.
Hy was raadslid vir die plaaslike munisipaliteit onder die vaandel van die Good-party. “Hy het eendag hier met ‘n T-hemp van Good aangekom en ek was nogal verras,” vertel Aubrey.
Ook die SA Rugby Legendes-vereniging het Noble die afgelope week as ‘n legen- dariese speler en baanbreker beskryf.
Quinton Daniels van Strand, sy voormalige spanmaat en die eerste “bruin” speler wat vir die Barbarians op Murrayfield uitgedraf het, onthou hoe sy pad met Noble by die Rapport-toernooi in 1984 gekruis het.
LEES OOK: Rugby ‘rebels’ mark 40 years
“Christie was ‘n goeie rugbyspeler, hy was sterk en het baie spoed gehad. Hy het altyd sy beste op die veld gegee en was onvoorspelbaar, want jy het nooit geweet watter trick hy nou weer op die veld gaan uithaal om sy opponent te klop nie. Ek sal hom altyd onthou as die gentleman op en van die veld af, al was hy ‘n terggees.”
Aubrey sê hy sal sy broer onthou as iemand wat geleef het vir rugby, as ‘n grapjas wat “lekker jou siel kon uittrek” en ook ‘n hardkoppige streep gehad het.
‘n Gedenkdiens word Woensdag 18 November by die Stellenbosch-stadsaal om 18:30.





You must be logged in to post a comment.