Christian Schoeman
Die Universiteit Stellenbosch alumnus en filmmaker Christian Schoeman. Foto: Yaël Malgas

Ná verskeie kortfilms maak Christian Schoeman (26) sy rolprentdebuut met ‘n persoonlike verhaal van verskeie uitbeeldings uit sy lewe wat in Kyk My in My Oë te sien is.

Schoeman is ‘n alumnus van die Universiteit Stellenbosch (US) se dramadepartement en vir sy debuutrolprent het hy inspirasie uit sy eie ondervindings geneem.

“Hierdie is die langste projek wat ek nog onderneem het en dit voel soos golwe. Jy het die idee vir ‘n film en dan begin jy skiet, maar dan is die volgende stap om iets daarmee te doen. Toe ek die loket-plakkaat vir die film opgestel het, het die werklikheid van die projek weer getref,” vertel hy.

Hoewel Schoeman ook op die planke en voor die kamera was, het sy tyd by die US hom geleer om sy vaardighede te diversifiseer. “Indien jy kyk na die loopbaan van meer gevestigde akteurs kan jy agterkom jy moet ‘n ander vaardigheid aanpak. Kyk net na Albert Maritz wat deel was van Kyk My in My Oë, hy het baie variasie in die soort werk wat hy aanpak. Hy doen advertensies, radiodrama, hy werk voor die kamera, maar hy is ook ‘n regisseur in die baie teaterwerk wat hy doen.

“Die ding is, jy moet die werk vat wat die bedryf bied.”

Christian Schoeman
Die Universiteit Stellenbosch alumnus en filmmaker Christian Schoeman. Foto: Yaël Malgas

Uit eie sak betaal

Dit is dus geen verrassing dat Schoeman se vorige projekte onder meer ‘n web-reeks, teater en film, ingesluit het nie.

Hy was onder meer Henry in Die Aunt Sylvie Show, die stem van Suid-Afrika in Trolls 2 en in die web-reeks Kamermaats waar hy die rol van Ivan vertolk het.

Vir sy film was Schoeman deel van die vervaardigingsproses van begin tot einde en het die projek uit sy eie sak betaal.

Hoewel dit beteken het die begroting was nie groot nie, meen hy die kreatiwie vryheid wat dit hom gegee het was beslis ‘n pluspunt. “Ek het nog altyd die begeerte gehad om stories te vertel en ek wou nog altyd films gemaak het. Jy kan vir so lank ‘n plan hê en dit half romantiseer tot waar jy nooit daarby uitkom nie.

“Ek dink dis waar ek vir ‘n lang tyd was – deelgeneem in die toneelstukke by die skool en ek het klomp idees gehad, maar ek het nooit die kamera opgetel om dit te doen nie. Op hoërskool was daar ‘n handjievol projekte.”

Schoeman sê vir hom, soos vir baie ander wat deur die Covid-pandemie geleef het, was dit grendeltyd toe hy besluit het om skouer aan die wiel te sit en sy eie geleenthede te skep.

“Daar was verskeie projekte wat gewag het, maar met die grendeltyd het dit alles verdwyn. Daar was so ‘n gevoel van magteloosheid. En as iemand wat ‘n loopbaan in ‘n kreatiewe veld soek, hoor jy gereeld ‘o, dis net ‘n fase, jy sal dit ontgroei’. Ek het nooit daarmee saamgestem nie en geglo dit sal uitwerk.”

Toe die pandemie egter tref, het Schoeman gedink al die waarskuwings was dalk reg, maar tog het dit hom ook aange-spoor.

Eerlike storie

Kyk My in My Oë is ‘n drama oor ‘n jong outistiese man wat na Kaapstad reis om weer kontak te maak met sy vervreemde pa. Andrew is ‘n saggeaarde man op die outismespektrum, wat tydelik by sy neef Riaan moet intrek. Riaan het sy eie werk- en liefdesuitdagings, en sukkel om met Andrew ‘n sinvolle band te vorm. Tog probeer albei, op hul eie manier, om mekaar te verstaan.

Wanneer Andrew onverwags iemand uit sy verlede raakloop, word hy gekonfronteer met seer wat hy nog nie heeltemal verwerk het nie.

Oor Andrew as neurodiverse karakter verduidelik Schoeman hy wou “net ‘n eerlike storie vertel – een wat mense wys wat dikwels oor die hoof gesien word”. Die rolprent speel onder meer af in Stellenbosch, sy ou tuisdorp, sowel as sy nuwe blyplek – Melkbosstrand.

Die rolverdeling sluit in Maritz, Adri Vivier, Rikus Terblanche, Anya Human, en Schoeman in ‘n ondersteunende rol.

Stellenbossers sal op Woensdag 20 Mei die geleentheid hê om die ou-Matie se film te sien wanneer dit by die Road House Cinema in die Neelsie vertoon sal word. Daar sal ook ‘n vraag-en-antwoord-sessie met Schoeman wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article