KAAPSTAD – Suid-Afrika se speelse, redenaarskompetisie, Nou praat jy!, is terug en mik vanjaar hoër.
Verlede jaar het die kompetisie op die toneel verskyn en hoërskoolleerders oor die land heen uitgedaag om hul monde met mening oop te maak. Én hulle het – hardop, pragtig en in Afrikaans.
‘n Totaal van 22 spanne het aan die eerste aanbieding van die kompetisie deelgeneem, met skole wat al die pad van Graaff-Reinet en Lutzville gereis het om deel te neem.
Nou is Hoërskool Curro Durbanville terug vir rondte twee en vanjaar is die tema “Kyk Noord!” Soos enigeen sal getuig, is noord altyd bo – en dis presies waar die organiseerders die deelnemers se koppe wil hê: op, oë vorentoe, stemme wat dra.

Wat is Nou praat jy!, presies?
Dis Suid-Afrika se vooraanstaande, Afrikaanse redenaarskompetisie, met ‘n verrassende invalshoek: twee sprekers, een toespraak in harmonie aangebied. Vyf tot sewe minute om die beoordelaars te laat vergeet om asem te haal.
Die kompetisie is oop vir Afrikaans huis- en eerste addisionele taalsprekers in twee kategorieë: juniors (graad 8 en 9) en seniors (graad 10 tot 12).
Die toesprake mag oortuigend, vermaaklik of motiverend van aard wees, máár wat hierdie kompetisie werklik onderskei, is die formaat: Twee sprekers wat een vloeiende toespraak lewer, so natuurlik en spontaan asof dit uit een mond kom.
‘n Wentoespraak kombineer sterk inhoud, kreatiewe taalgebruik en ‘n outentieke spandinamika om ‘n boodskap, wat vars en betekenisvol is, oor te dra.
Hoekom dit saakmaak
In ‘n wêreld waar geraas en menings soms oorweldig, is die vermoë om krities te dink, jou eie standpunt te vorm en dit duidelik uit te druk belangriker as ooit tevore. Kompetisies soos Nou praat jy! skep ‘n ruimte vir leerders om presies dit te doen – in ‘n taal wat ryk, divers en diep in die Suid-Afrikaanse identiteit gewortel is.
“Wat hierdie kompetisie onderskei, is dat deelnemers aangemoedig word om hulself in die Afrikaans waarin hulle die gemaklikste voel, uit te druk. Ons wil die taal in al sy vorme hoor – dit erken, vier en die ruimte gee wat dit verdien,” sê organiseerders Joline de Klerk en Maritsa Smit, Afrikaans-onderwysers by Curro Durbanville.
“Platforms soos dié gaan oor meer as net optredes; dit speel ‘n betekenisvolle rol in die bewaring en groei van Afrikaans. Ons leef in ‘n tyd waar jongmense voortdurend hul pad deur ‘n vloed van inligting, menings en stemme aanlyn moet vind.
“Die vermoë om krities te dink, onafhanklike perspektiewe te vorm en dit met selfvertroue en duidelikheid te artikuleer, was dus nog nooit so belangrik nie. Hierdie kompetisie skep ‘n ruimte waar dié vaardighede ontwikkel en uitgedruk kan word.”
Skryf nou in
Hoërskoolleerders word genooi om vir vanjaar se kompetisie in te skryf. Daar is drie maniere om onder die tema “Kyk Noord!” uit te blink:
- Vermaak – vertel ‘n storie in jou eie dialek.
- Inspireer – ontroer die gehoor met die Afrikaans waarvoor jy lief is.
- Redeneer – staan op en praat oor iets waaroor jy omgee.
Die eerste plekke in elke kategorie ontvang R10 000, tweede plek R6 000 en derde plek R4 000. Die wenskool in elke kategorie stap ook weg met R10 000.
Inskrywings sluit Vrydag 8 Mei. Inskywingsvorms is aanlyn op die Hoërskool Curro Durbanville se webwerf verkrybaar, of stuur ‘n e-pos na joline.d@curro.co.za.





You must be logged in to post a comment.