Van vroegoggend tot laatmiddag het inwoners van Tennantville en Cloetesville hul viervoetige vriende na Frieda Moolman en vriende gebring vir die eerste Flea & Tick-uitreik op Saterdag 17 Oktober.
Moolman werk reeds jare lank by Pet Food City Stellenbosch. Sy het onlangs besluit om ‘n helpende hand aan plaaslike diereliefhebbers te gee en het verskeie skenkings bymekaar gemaak om pasella uit te deel.
“Saterdag het my weer laat besef hoe groot die nood werklik daar buite is. ‘n Mens dink jy verstaan, maar wanneer jy dit met jou eie oë sien, tref dit jou diep. Dit laat ‘n mens met ‘n swaar hart, maar ook met ‘n groter vasberadenheid om meer te doen. Ons kan nie alles vir almal doen nie, maar ons kan volgende keer beter beplan, meer mense bereik en nog meer diere help,” sê sy.
LEES OOK: Passie vir diere die dryfveer agter eerste Flea & Tick-uitreik in Cloetesville

Raad en meer
Inwoners soos Damian September en sy sewe maande oue Innocent het raad kom kry oor vlooie, terwyl Kaylene Jacobs wou hoor hoe sy die vlooie van haar twee katte en hond kan weghou.
“Ek het geen probleme met muise nie,” skerts Jacobs, maar sy sê omdat die katte graag rondloop, het sy iets nodig om Misty en Peanut vlooi-vry te hou.
Moolman sê geen van die 98 besoekers het met leë hande weggestap nie en dit is net te danke aan haar wonderlike borge wat dit moontlik was.
“Baie dankie aan elkeen van julle wat Saterdag deel was van hierdie spesiale inisiatief. Julle tyd, omgee en bereidwilligheid om te help beteken vir my ongelooflik baie,” vertel Moolman.
Benjamin August, een van die vrywilligers, sê hy hoop met hul help sal meer inwoners poog om beter na hul diere te kyk. “My liefde vir diere kom reeds van kleins af,” sê hy.
August verduidelik daar was tye wat hy swaar getrek het en dit moeilik was om na sy geliefde troeteldiere om te sien, maar Moolman het ingespring om te help. Hy sê dit is nou sy geleentheid om haar met haar uitreike te help.
Moolman beplan reeds haar volgende uitreik en nooi enigeen wat kan help om ‘n skenking te gee, of selfs hul tyd af te staan.
- Kontak Moolman by 021 883 9332 of stuur ‘n Whatsapp-boodskap na 072 919 1159 om die uitreik te ondersteun.





You must be logged in to post a comment.