“Frieda, jy kan nie die hele wêreld help nie.”
Dit was die woorde van Frieda Moolman se ma, Ryna, maar sy het dit nooit regtig geglo nie. Nou het Moolman besluit om diereliefhebbers in Cloetesville vandeesmaand te help met ‘n gratis Tick & Flea-uitreik.
“My liefde vir diere het lank gelede begin voor ek by Pet Food City Stellenbosch begin werk het,” vertel Moolman (49).
Hier by die plaaslike onderneming ken talle Stellenbossers haar as Frieds wat daagliks help met alles van hondekos uitkies tot die regte pilletjie vind vir troeteldiere se kwale.
LEES OOK: Animal Welfare Society Stellenbosch top animal-care body

Moolman verduidelik sy poog om die projek soveel meer as net ‘n uitreik te maak. “Dit gaan oor diere, maar net soveel oor mense – oor omgee, respek en om iemand se las ‘n bietjie ligter te maak,” verduidelik sy.
Moolman werk sedert 2021 by Pet Food City Stellenbosch. Haar liefde vir diere is reeds van kindsbeen af ingeburger en haar aanvanklike plan was om ‘n veearts te word, of dierewetenskap te studeer, “maar die lewe het ander planne met my gehad”.
Passie vir alle diere
Tog het die liefde vir diere nooit gekwyn nie. Sy het meer geleer van diere en seker gemaak haar werk het met diere te doen. “Voor Pet Food City het ek in ‘n troeteldierwinkel in Noordwes gewerk en gehelp om ‘n paar winkels daar oop te maak. Ek het ook nou saam met Onderstepoort gewerk, op teel-plase, met koi’s en ander visse en op ‘n groot voëlplaas waar ons onder meer macaws, African Greys, ringnekke en ander voëls geteel het. Ek het dus ook baie ervaring van die grootmaak van baba-voëls.”
Moolman het ‘n passie vir alle diere en het jare terug twee vierpotige vriende aangeneem wat steeds ‘n baie belangrike deel van haar lewe is. “Diere is in my hart en in my siel. Vir my is hulle nooit net ‘diere’ nie – hulle is familie.”
Dit was juis hierdie liefde wat Moolman aangespoor het om ander plaaslike diereliefhebbers te help.
Nie net uitdeel en huis toe gaan
“Ek kan nie meer deur die lewe loop met oogklappe aan nie. Ek sien en hoor dinge wat niemand wil sien of hoor nie en wanneer ek dit weet, kan ek nie net my rug draai nie. Ek dink, maak planne, vra mense om hulp en ek probeer uit- vind hoe ek iemand se las ligter kan maak.
“Jaarliks wanneer die warmer somerseisoen begin, sit ons met die groot probleem van bosluise en vlooie. Ek het lank en hard daaroor gedink en het gedink ek wou nie net een dag ‘n paar produkte uitdeel en huis toe gaan nie.”
En daarom die Tick & Flea-uitreik wat ook ‘n opvoedkundige deel het.
Op Saterdag 17 Oktober sal Moolman dus Cloetesvillers help om produkte vir hul troeteldiere reg en veilig te gebruik. Elke troeteldier-eienaar sal ook met ‘n geskenkpakkie wegstap wat onder meer vlooibehandeling, hondekos, wondsalf, bederfies sal bevat.
“Almal wat tydens die uitreik gehelp word, sal opgeteken word en ek gaan daarna weer met hulle in verbinding wees om te hoor hoe dit met hulle en hul diere gaan. Elke geskenkpakkie sal ook ‘n koepon vir hondekos bevat vir daardie tye wanneer die lewe moeilik raak.”
Moolman sê die dag gaan nie oor handouts nie, maar liewer om ‘n pad saam met die betrokkenes te begin stap.
Haar groot droom is om haar uitreikprogram uit te brei en Moolman sê daar is reeds planne om iets soortgelyks in Idasvallei aan te bied.
Kom sit hand by
Sy bedank al haar borge en vennote wat die uitreik moontlik maak. Onder hulle is Chris van die vervaardiger van troeteldierekosse Your Companion en Benjamin August.
“Chris bring jare se kennis en praktiese ervaring saam, terwyl Benjamin uit ons gemeenskap kom. Iets besonders is dat hy sy kennis met sy eie gemeenskap kan deel,” meen Moolman.
Sy nooi gemeenskapslede om hand by te sit volgende Saterdag – of dit is met ‘n skenking, hulp om mense in kennis te stel van die geleentheid of net te kom hallo sê. “My ma se woorde bly my altyd by.”
- Enigeen wat meer oor die uitreik wil uitvind of wil help kan ‘n Whatsapp-boodskap aan Moolman by 072 919 1159 stuur.
LEES OOK: Waak só oor jou dier se gesondheid




You must be logged in to post a comment.