Sifiso Mbatha het die gehoor vermaak met sy tjello-talente. Foto: Yaël Malgas
Sifiso Mbatha het die gehoor vermaak met sy tjello-talente. Foto: Yaël Malgas

Drie Stellenbossers wat vir langer as ‘n dekade skryf en die dorp se erfenis help bewaar, is vanjaar deur die e’Bosch-erfenisprojek, in samewerking met die Stellenbosch-munisipaliteit en Universiteit Stellenbosch, vereer.

Carol Lakay, die stigter van Stellenbosch Magazine, Martin Viljoen, die hoof van media by die Universiteit Stellenbosch (US), en Elsabé Retief, voormalige Eikestadnuus-redakteur, is Woensdag 22 Oktober by die US-museum op die jaarlikse e’Bosch-erfenistoekennings vereer.

Vanjaar se prysuitdeling het die kollig op die werk van rolspelers in die mediabedryf geplaas.

Die ontvangers van vanjaar se e'Bosch-erfenistoekennings is verlede Woensdag vereer.  Foto: Yaël Malgas
Die ontvangers van vanjaar se e’Bosch-erfenistoekennings is verlede Woensdag vereer. Foto: Yaël Malgas

Volgens dr. Sias Mostert van e’Bosch is die organisasie juis geskep om die diverse erfenis van Stellenbosch te bewaar.

“Kultuur wat oor die jare bly staan, word later erfenis. Dit is hierdie erfenis – tasbaar en ontasbaar – wat ons media-toekenningsontvangers help vasvang het,” verduidelik Mostert.

LEES OOK: e’Bosch vereer 8 vir hul bydraes

Viljoen, wat sy loopbaan in kommunikasie as joernalis begin het, help reeds die afgelope 20 jaar om die US, sy personeel en studente se stories te vertel.

Lakay het op haar beurt van kindsbeen af in Cloetesville ‘n liefde vir verhale gehad. “Daar is altyd stories om te deel. Dit is soos ‘n put water wat net uitstroom en nooit ophou vloei nie,” sê sy.

Lakay sê selfs in die oomblikke toe sy gewonder het of sy moet aanhou met die tydskrif, is sy bemoedig en geïnspireer deur die stories wat sy skryf.

Retief is nie net vir haar werk as joernalis vereer nie, maar ook vir haar betrokkenheid by verskeie gemeenskapsorganisasies, insluitend die stigting van e’Bosch.

VERBINTENIS EN VERHOUDINGS

Prof. Deresh Ramjugernath, rektor en visekanselier van die US, meen erfenis behels nie net ‘n terugblik op wat was nie, maar beteken ook om saam voort te bou.

“Die waardes, die verhoudings en die gedeelte ruimtes wat ons as ‘n gemeenskap verbind – in daardie opsig kan ons sê erfenis is lewend; dit groei en verander en weerspieël wie ons besig is om te word. Deel hiervan is hoe ons ‘n gevoel van behoort skep,” verduidelik Ramjugernath.

Hy meen e’Bosch se werk spreek juis tot hierdie verbintenis en poog om die universiteit, die munisipaliteit en veral die gemeenskap nader aan mekaar te bring.

‘ERFENIS DAAGLIKS GEVIER’

Twee van e’Bosch se gevestigde programbestuurders is ook vir hul werk van langer as ‘n dekade met die organsasie vereer.

Glynis Meyer sê haar liefde vir kinders laat haar altyd na e’Bosch terugkeer en sy geniet dit veral om vakansieprogramme vir die jongspan aan te bied.

Elsabe Farao het besluit sy wil kinders en vroue met naaldwerkvaardighede help bemagtig. Dié bobaas-stikster help nou jongmense wat deel is van e’Bosch se programme om alles van kussingslope tot brilsakkies te maak.

“Ná ‘n paar weke kan jy die verskil in die kinders se gedrag sien. Hulle kry selfvertroue en leer om mekaar met respek te hanteer,” sê Farao.

Die raadslid Ndipiwe Olayi het vir die burgemeester, Jeremy Fasser, ingestaan en sê erfenis is nie iets wat slegs in Erfenismaand gevier moet word nie, maar eerder daagliks uitgeleef moet word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article