No Parking Sign Stock Image
‘n Plaaslike entrepreneur van Idasvallei beweer hy word getuister, weens sy bussies wat in Starkingweg parkeer. Foto: Quilia/Unsplash

Die einste bussies wat volgens die Stellenbosch-munisipaliteit onwettig in Starkingweg parkeer word, is Maandag 19 Mei gebruik om die pad te versper.

Cylvin Heynes van CL Heynes Shuttle & Tours verduidelik hy het die straat in Idasvallei “toegemaak” nadat werstoepassingsbeamptes van die plaaslike munisipaliteit hom vir die soveelste keer geteister het as gevolg van “jaloesie” en “anonieme klagtes”.

Verlede Vrydag (15 Mei) was hulle glo in die straat en Maandag weer en hy het twee boetes van R500 ontvang vir twee bussies.

Heynes het dieselfde middag besluit om ‘n bussie dwars oor die straat te parkeer.

“Ek bestuur hierdie onderneming vir 23 jaar en is bekend vir betroubare en goeie diens, maar ek word aanhoudend geteister. Ek is moeg daarvan dat sekere reëls net vir sekere mense geld,” meen Heynes.

Bussies van CL Heynes Shuttle & Tours blokkeer Starkingweg in Idasvallei. Foto: Yaël Malgas
Bussies van CL Heynes Shuttle & Tours blokkeer Starkingweg in Idasvallei. Foto: Yaël Malgas

Grond eens gebruik

Dié entrepreneur het 12 rygoed wat gebruik word vir onder meer toere, om studente en leerders te vervoer.

“Ons bied 24/7 diens en in baie gevalle oornag die voertuie by die bestuurders se wonings, so dit is nooit ‘n geval dat al die busse, bussies of motors hier is nie.

“In sommige gevalle is die bussies op die pad vir dae op ‘n slag. Daarom het ek by die munisipaliteit aansoek gedoen om van die voertuie op die oop stuk grond onder in die pad te parkeer.”

Die grond wat Heynes as parkeerplek wil gebruik was voorheen die einde van die buurt, maar ‘n behuisingsontwikkeling is in die afgelope jare daar gebou.

Die gebied was destyds waar dié behuisingsprojek se kontrakteurs hul tydelike kantore opgerig het en dus is die grond ook omhein en het ‘n ­toegangshek.

Heynes voer aan hy is destyds deur die ontwikkelaar ‘n sleutel gegee en het seker gemaak die hek is gesluit.

Gereelde boetes

Nou, met die projek wat lank reeds voltooi is, parkeer Heynes sy voertuie op die sypaadjies voor en oorkant die hek.

Op hul beurt skryf die munisipale verkeersbeamptes gereeld vir hom boetes uit, omdat hy glo die straat versper en blokkeer met die bussies.

Heynes sê dit is nie die geval nie en dat die hele kopseer opgelos kan word deur die onbenutte stuk grond aan hom te verhuur.

Hy het in 2023 begin met die aansoekproses, maar bieg hy het gesloer. Verlede Januarie is hy deur die wykraadslid, Roy van Rooyen, gekontak om die aansoek te finaliseer.

Die Stellenbosch-munisipaliteit het egter sy aansoek afgekeer.

Heynes sê daar is aan hom verduidelik dié grond is nie gepas nie, omdat daar onder meer elektriese kabels ondergronds is en omdat dit deel van ‘n vleiland is. Intussen is Heynes ook gesê die munisipaliteit beplan om ‘n speelparkie op die grond op te rig.

“Hoe kan hulle ‘n parkie hier oprig indien daar kabels is? Ons weet almal van die seun wat in Klapmuts geskok is… Hoe kan die munisipaliteit kinders hier wil laat speel as my voertuie dan nie eens hier kan staan nie?”

Verskeie inwoners het Maandag by Starkingweg ingedraai op pad huis toe, maar moes omdraai weens Heynes se “opgtog” teen die munisipaliteit. Vele motoriste het hul ondersteuning vir Heynes se optrede uitgespreek.

Eikestadnuus het na die munisipaliteit uitgereik vir kommentaar, maar het geen terugvoering ontvang nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article