Prof. Michael le Cordeur en sy vrou, Sonia, by die krisantuitstalling.
Prof. Michael le Cordeur en sy vrou, Sonia, by die krisantuitstalling van die nasionale krisantvereniging by die onlangse Suidoosterfees.

Verskeie plaaslike krisantkwekers neem komende Saterdag (9 Mei) aan die nasionale krisantvereniging se krisantskou in Pniël deel.

Die skou, wat as die Olimpiese Spele van krisantskoue bekendstaan, word slegs elke vierde jaar gehou. Blomme van hoogstaande gehalte sal vanjaar te sien wees, sê Richard Williams van die Pniël-vereniging en skou-organiseerder.

Volgens die voorsitter van die nasionale krisantvereniging, prof. Michael le Cordeur, is die doel van die skou om alle geaffilieerde klubs die geleentheid te gee om op gelyke voet met mekaar mee te ding. By die geleentheid word ook wenke en nuwe idees uitgeruil, wat tot die ontwikkeling van die krisant-kultuur bydra. Le Cordeur sal ook aan vanjaar se skou in die Dwarsrivier deelneem.

Prof. Michael le Cordeur en sy vrou, Sonia,
Prof. Michael le Cordeur en sy vrou, Sonia, by die krisantuitstalling van die nasionale krisantvereniging by die onlangse Suidoosterfees.

Die oudste klub is die Wellington Krisantvereniging waarvan Le Cordeur al vir langer as vier dekades ‘n lid is. Hy sê die krisant-kultuur is iets wat hy by sy pa, Michael le Cordeur sr., geëerf het. Dit is kenmerkend dat die tradisie van geslag tot geslag oorgedra word.

Die huidige voorsitter van Wellington, Anthony Cavernelis, het ook die tradisie by sy pa, wyle Eric Cavernelis, geëerf, terwyl nog ‘n lid, Clive Matthee, die tradisie by sy skoonpa, Jimmy Louw, geleer het. Laasgenoemde was ‘n gereelde wenner in die dae van die Tweede Wêreldoorlog, van 1939 tot 1945.

LEES OOK: Krisante steel opnuut die kollig

Nog ‘n bekend Wellingtonner, die digter Adam Small, se broer, Bokkie Small, hou die rekord vir die meeste kampioenblomme, naamlik sewe, terwyl Adam en Bokkie se oom Ernest Small in 1937 en 1938 die wenner was.

Gegewe die ryk geskiedenis van kristante en die Small-familie se betrokkenheid, het die nasionale vereniging die nalatenskap van Adam Small by die onlangse Suidoosterfees met ‘n spesiale krisantuitstalling herdenk.

Van die wen-krisante by vanjaar se Kristante-skou wat die afgelope naweek in Pniel aangebied is. Foto:  Yaël Malgas
Van die wen-krisante by die 2025 Kristante-skou. Foto: Yaël Malgas

Benewens die plaaslike kristant-spesialiste van Pniël, Stellenbosch en die nabye Wellington, sal nog skouers van Oostenberg, Atlantis en Ceres die naweek te sien wees.

Die beoordeling van die blomme vind reeds Vrydag (8 Mei) plaas.

Die skou se deure open Saterdag om 09:00 en besoekers sal dan die kans hê om die blomme te besigtig. Daar sal ook stalletjies met kontreikos en kunsvlyt wees. Die skou sal om 12:00 deur die voorsitter van die direksie van die Suidoosterfees en hoof van die VIA-televisiekanaal, Azelia Morkel, geopen word.

Na afloop van die prysoorhandiging sal die blomme van 13:00 tot 15:00 te koop wees. Besoekers word daaraan herinner dat kristante ‘n goeie Moedersdaggeskenk maak. Die skou vind soos oudergewoonte by die Pniël Congregational-kerksaal plaas.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article