Elsabe Vermeulen is weer Cloetesville se raadslid ná vandeesweek se tussenverkiesing.

Is dit ‘n blik op wat op 4 November kom, of is die uitslae van die onlangse tusssenverkiesing spesifiek aan dié buurt?

Die Demokratiese Alliansie (DA) het verlede week Wyk 16 (Cloetesville) aan die Patriotic Alliance (PA) verloor ná die tussenverkiesing verlede Woensdag (28 April). Hoewel Cloetesville nou ‘n nuwe regerende party het, is hul “nuwe” raadslid Elsabe Vermeuelen, wat teruggekeer het na haar pos as raadslid van die wyk nadat sy vroeër vanjaar uit die DA bedank het.

Nou is sy terug in dieselfde stoel danksy die 850 (39,48%) kiesers wat vir die PA gestem het.

LEES OOK: Raadslid nou PA-lid

Volgens die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het slegs 46,51% van die wyk se 4 748 geregistreerde kiesers hul kruisies getrek.

Die DA het die knie gebuig en was in die tweede plek met 31,44% (677 stemme) van die stemme in die wyk. Die blou-party se kandidaat was Niklaas Willemse. Hajiera Arnolds, wat vir die eerste keer gestaan het, het 419 (19,46%) stemme vir Good gekry. Henry du Toit en die ANC het 200 stemme geïn en sewe stemme het gegaan aan Tanya Daniels van die Truth and Solidarity Movement.

Vermeulen het Donderdagoggend vroeg voortgegaan met haar gemeenskapswerk nadat ‘n brand die vorige aand in die buurt uitgebreek het.

“Die ondersteuning van die gemeenskap is bewys van die werk wat gedoen is. Ons sit hier in ‘n rooigebied, met bendegweld en armoede. Dit breek werklik my hart en ek glo met die PA kan daar werklike verandering kom,” het sy gesê.

“Dit voel goed,” sê sy oor die wen onder die vaandal van haar nuwe party.

Vermeulen sê sy het vertroue dat met harde werk die PA “die kettings kan breek” en die buurt vorentoe neem waar sy voorheen gevoel het sy is nie gehoor nie.

Cloetesville tussenverkiesing 28 April 2026
Inwoners van Cloetesville het op Woensdag (28 April) in die wyk se tussenverkiesing gestem. Foto: Yaël Malgas

Raadslid John Andrews, wat tot verlede week die enigste PA-raadslid in die Stellenbosch-munisipaliteit was, sê hy is dankbaar vir die Here vir die seisoen wat nou aangebreek het.

“Die poging van Elsabe om by die PA aan te sluit was ‘n sukses,” meen Andrews. “Indien dit nie vir haar was nie het die DA-regeerde munisipaliteit nooit respek vir [die PA] gehad het nie. Sy het standpunt ingeneem [teen die DA]. Ek, as die enigste PA-raadslid in die 23 wyke, voel trots om vandag te kan sê Elsabe het die besluit geneem om by ons aan te sluit. Ons voel goed en kan net vorentoe kyk.”

Nou maak die OVK en kiesers gereed vir die nasionale munisipale verkiesing wat op Woensdag 4 November sal plaasvind soos aangekondig deur pres. Cyril Ramaphosa.

Eikestadnuus het Woensdag tydens die Cloetesville-tussenverkiesing met ‘n inwoner gesels wat te laat haar adresverandering by die OVK aangemeld het en kon dus nie verlede week stem nie.

Die OVK verduidelik om betyds te registreer of her-registreer vir die nasionale verkiesing kan Suid-Afrikaners www.elections.org.za besoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article