‘n Eenvoudige gesprek by ‘n markie was die vonk wat die vuur aangesteek en ‘n plaaslike leerder se passie vir gemeenskapsdiens en jeugleierskap laat ontbrand het.
Die 16-jarige Daniella Smit van die Hoërskool Stellenbosch, wat nou ‘n lid van die Stellenbosch Junior Stadsraad en die Wes-Kaapse Jeugparlement is, vertel van die lewensveranderende ontmoeting wat haar tot aksie aangespoor het.
“Ek het in 2024 ‘n maatskaplike werker by ‘n markie ontmoet. Ons het aan die gesels geraak en sy het my vertel van die daaglikse uitdagings wat sy in haar gemeenskap ervaar,” sê sy.

“Ek was geskok; ek het net daar besef hoe naïef ek was om te glo dat ons in ‘n perfekte wêreld leef. Dit was die mees ontnugterende gesprek wat ek nog ooit gevoer het.”
Hierdie ervaring het daartoe gelei dat sy na die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, vir ‘n dagbesoek uitgereik het. “Ek het hul vergaderings bygewoon, met die burgemeester self gepraat en my standpunte oorgedra. Dit is waar alles begin het,” vertel sy.
Danielle het in 2025 by die Stellenbosch Junior Stadsraad aangesluit en daarna by die Wes-Kaapse Jeugparlement – ” ‘n stap wat vir my baie opwindend is”.
LEES OOK: Stellenbosch Junior Town Council `to ‘affect real change’
As leerder wat nog haar matriekjaar moet voltooi, erken sy dat die balans tussen skool en leierskap uitdagend kan wees.
“Ek probeer so goed as moontlik byhou en my prioriteite in lyn hou. Dit raak soms ‘n uitdaging, maar ek werk elke dag hard en probeer alles op die mees produktiewe manier in my dag inpas.”
Smit beklemtoon dat die uitdagings, waardeur Stellenbosch in die gesig gestaar word, nie in afsondering opgelos kan word nie.
“Baie probleme wat ons in die dorp ervaar, gaan hand aan hand met die uitdagings wat in die landelike gebiede ervaar word. Dus kan ons nie een in afsondering oplos nie.”
Van die belangrikste probleme wat sy identifiseer, sluit in betroubare en veilige vervoer na en van skole af, veilige en skoon skoolomgewings en algehele gemeenskapsveiligheid.
Hoewel die Universiteit Stellenbosch naby is, beteken dit nie dat toegang tot tersiêre onderwys outomaties is nie. “Ons moet die omgewing skep vir alle leerders om akademies te kan presteer sodat hierdie geleenthede vir hulle ‘n moontlikheid is,” sê sy.

Haar betrokkenheid by gemeenskapsprojekte het klein begin. “Ek het my reis begin deur geldinsameling vir songo.info in Khayamandi te doen, en daardie kinders het diep spore in my hart getrap.”
Sy het ook met die Pebbles Project se vakansieprojek saamgewerk, waar sy verskillende plase se VKO-projekte besoek en vakansie-aktiwiteite met kinders gefasiliteer het.
Een van die opwindendste inisiatiewe wat voorlê, is die Junior Stadsraad se beplanning vir deelname aan die One Young World Summit in November.
LEES OOK: Wynland-leerder gee jeug ‘n stem as deel van Wes-Kaapse Jeugparlement
“Dit sal blootstelling aan wêreldleiers bied, ons kundigheid toets en ons van nuwe maniere om beleid te ontwikkel, leer,” verduidelik Daniella.
Vir die Jeugparlementsittings identifiseer sy drie kernprioriteite: Die gehalte van skole en die ongelyke verspreiding van hulpbronne; die verskaffing van sanitêre produkte vir meisies in arm gemeenskappe; en die daarstelling van veiligheidsnetwerke by skole in ekonomies gemarginaliseerde gebiede.
Daniella se raad aan jongmense is eenvoudig, maar kragtig: “Elke klein aksie maak ‘n verskil; dit hoef nie groot of erg te wees nie. Begin net, want as jy dit eers doen, is daar geen omdraai nie.”
Sy moedig jongmense aan om na plaaslike NGO’s uit te reik. “Moenie bang wees nie, want vrees is jou grootste vyand. As jy voel iets in jou gemeenskap pla, moet jy nie bang wees om op te staan en jou mense te verteenwoordig nie.” Haar slotboodskap is ‘n oproep tot aksie: “Dit is noodsaaklik vir ons dorp om jong leiers te ontwikkel wat Suid-Afrika eendag vorentoe gaan vat.”






You must be logged in to post a comment.