Mountain View in Jamestown, die Riemvasmaak-nedersetting in Wemmershoek en La Motte se ou rioolwerke was van die voorstelle vir moontlike noodbehuising van die Stellenbosch-munisipaliteit.
Die plaaslike munisipaliteit sukkel ‘n geruime tyd om inwoners wat hul woonplek deur uitsettings verloor het, van behuising te voorsien.
Munisipaliteite is regtens verplig om noodbehuising aan uitgesette inwoners te bied, maar pogings deur die Stellenbosch-munisipaliteit om inwoners in onder meer Jamestown en Idasvallei te vestig, is in die wiele gery nadat gemeenskapslede beamptes gekeer het om tydelike behuising op te rig.
Die munisipaliteit is in September 2025 deur die Stellenbosch-landdroshof in kennis gestel van verskeie uitsettings in die munisipale gebied. Sedert Augustus is 90 uitsettings aangeteken met 16 huishoudings wat sedert die begin van die jaar uitgesit is. Volgens die munisipaliteit is bestaande noodbehuisingsgebiede vol en dringende planne moet beraam word om hierdie inwoners te huisves.
In die mees onlangse geval is vier gesinne uit ‘n private eiendom in Idasvallei gesit. Onder diegene wat uitgesit is, was Leticia February, haar gesin sowel as die Andreas-gesin.
Eikestadnuus het berig van die munisipaliteit se poging om die vier gesinne in Kreefgat te plaas en die gemeenskap se teenkanting teen die munisipaliteit se planne (“‘Munisipaliteit faal gesinne’”, 26 Februarie).
Gemeenskapslede het aangevoer die gesinne kan nie op die oop stuk grond aan die einde van Newmanstraat geplaas word nie – deels omdat daar geen elektrisiteit of water is nie. “Die munisipaliteit moes eers die gemeenskap van hul planne in kennis gestel het,” het Roderick Wentzel op Woensdag 18 Maart gesê nadat inwoners en munisipale wetstoepassers gebots het oor die oprig van die tydelike blyplekke.
Een inwoner, Loraine Hannekom, was onder diegene wat kapsie gemaak het oor water, elektrisiteit en riooldienste wat ontbreek het op die stuk grond waar die gesinne sou moes bly. Uiteindelik is geen wendyhuise opgerig nie.
February sê tot nou is daar geen uitsluitsel oor enige behuising nie en vriende het haar intussen ingeneem.
Tesame met die ou rioolwerke, die Riemvasmaak-nedersetting en Mountain View is erwe in Idasvallei, Klapmuts en Cloetesville uitgewys as munisipale grond wat moontlik in noodbehuising ontwikkel kan word. Die munisipaliteit sal egter nou kyk hoe noodbehuising as deel van die Adam Tas-korridor geïnkorporeer kan word.
Dié ontwikkeling is jare lank reeds op die munisipaliteit se boeke. Hiermee saam sal die munisipaliteit ook sy Noodbehuisingsbystandbeleid moet opdateer en ‘n noodbehuisingsoorlegsone skep en die noodbehuisingsplan te finaliseer en in te stel asook die voorstelle van die noodbehuisingsbystand-dokument in werking te stel. “Proaktiewe ingryping is van kritieke belang, aangesien die versuim om dreigende hofbevel-sperdatums na te kom, onmiddellike regsgevolge en bevindings van minagting van die hof inhou,” lui die raadsitem.
Die munisipaliteit se planne om noodbehuising by die Adam Tas-korridor te hê, spruit uit die munisipaliteit se strategie om 10% van alle behuisingsprojekte aan noodgevalle af te staan. Hierdie beleid kan moontlik by behuisingsprojekte in Klapmuts en Mountain View toegepas word. Amptelike gebiede waar noodbehuising ontwikkel sal word, is die munisipaliteit se tweede strategie om uitgesettenes te huisves. In dié geval sal Klapmuts, Wemmershoek, Cloetesville en La Motte ter sprake wees.
Volgens die munisipaliteit kan 454 noodbehuisingseenhede moontlik gebou word indien die 10%-reël vir komende projekte van La Rochelle tot Idasvallei en die Adam Tas-korridor ingestel word.





