netball stock photo
Vyf spelers van die Kingdom Development Projects-netbalspan maak ‘n naam vir hulself. Foto: Glen Carrie/Unsplash

In die hart van Klapmuts, waar baie jongmense daagliks teen uitdagings en beperkte geleenthede moet opstaan, is Kingdom Development Projects (KDP) besig om iets besonders te bou – hoop, dissipline en toekomsleiers.

Vyf van KDP se netbalspelers het onlangs aan die Kaapse Wynland-netbalvereniging se proewe deelgeneem en hul talent ten toon gestel.

Success Hwindinwi en Yournich Scholtz is gekies vir die vereniging se o.19-span wat die streek van Vrydag 24 tot Sondag 26 April in Mosselbaai by die Wes-Kaapse netbalkampioen- skap sal verteenwoordig.

Kingdom Development Projects - netbal
Kingdom Development Projects in Klapmuts se netbalsterre (van links) is Sinazo Magxwalisa, Yournick Scholtz, Success Hwindingwi, Asekho Magxwalisa en Sanalisiwe Nomnquambulo.

Meer as net netbal

Dié twee spelers is deel van die Women & Girls-groep. Hul spanmaats is Sinazo Magxwalisa, Sanelisiwe Nomnqambulo en Asekho Magxwalisa.

Success en Yournich sê die oomblik wat hul name genoem is vir die spanlys voel onwerklik. Die twee het nie die regte woorde om te beskryf hoe dit gevoel het nie.

Hulle sê met soveel talentvolle spelers by die proewe beteken dit baie om lid te wees van die 12 spelers wat gekies is.

Volgens die KDP-stigter, Leticia Pietersen, behels die organisasie meer as net sport. KDP gebruik sport, mentorskap en gemeenskapsontwikkeling om jongmense te leer dat drome moontlik is, maar dat sukses harde werk, opoffering en deursettingsvermoë vereis.

LEES OOK: KDP bring hoop, trots na Klapmuts

Die organisasie bied programme soos netbal, sokker en ‘n naskoolprogram, waar leerders ondersteuning met huiswerk, dissipline, karakterbou en persoonlike groei ontvang.

“Ons bou nie net spelers nie – ons bou jong leiers. Ons leer hulle dat drome belangrik is, maar dat jy bereid moet wees om die werk in te sit om daardie drome te bereik,” sê Pietersen.

Die jong vroue sê die reis gaan oor meer as net hulself en vertel hulle kom van ‘n generasie wat geleenthede het. “Daar is druk, maar daar is ook ‘n doel,” sê hulle.

Die organisasie nooi die gemeenskap, sakelui en belangstellendes om betrokke te raak by sy programme. Ondersteuning, borgskap of donasies vir die sportspanne sowel as die naskoolprogram kan help om die Klapmuts-kinders se lewens positief te beïnvloed.

  • Vir nog inligting, stuur ‘n e-pos na kdp.projects2@gmail.com of skakel Pietersen by
    083 987 3597.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article