Kuns is lank reeds ‘n uitlaatklep vir pyn en ‘n Klapmuts-ma hoop die gedigte wat vanuit haar pyn geskep is, sal ander vroue help.
Isabella Saulus van Klapmuts het ‘n ruk gelede ‘n terugslag in haar huwelik gehad en besef die enigste manier om deur die pyn te werk, is met stilte en die hulp van haar Skepper.
“Die grootste les wat ek geleer het, was dat herstel ná teleurstelling en pyn moontlik is,” vertel sy.
Isabella het besef die beste manier om deur die mallemaai van gevoelens te werk, is om haar gedagtes neer te pen. Hierdie gevoelens het tot vele gedigte gelei wat die ma in haar bundel, Stilte in die geraas, deel.

“Ek het besef dat my gedigte moontlik vroue in dieselfde posisie kan help. Ek het gedink my gedigte het nie net vir my deur die donker tyd gehelp nie, maar kan ook ander vroue minder alleen laat voel en dat hulle kan besef dit wat ek het [die genesing], is iets wat hulle ook kan hê.”
Isabella se strewe om ander te help, is nie nuut nie en die Klapmuts-inwoner help reeds jare lank haar gemeenskap as ‘n veldwerker en streef veral om kinders en jongmense te bemagtig.
Reneal Davids van The Reneal Effect, die uitgewer van Stilte in die geraas, sê vele vroue, veral in die bruin-gemeenskap, het waardevolle verhale om te deel, maar baie keer is hulle te skaam om dit te doen.
Davids sê dit was Isabella se bereidwilligheid om nie te skroom vir foute en tekortkominge nie wat haar beïndruk het.
“Elkeen het ‘n storie, maar nie almal het die moed om daar- die storie die lig te laat sien nie. Tog, deur die bekendmaking, kom mag en vryheid,” sê sy.
Davids het ‘n beroep op skrywers gedoen om hul manuskripte vir moontlike publikasie in te dien. Isabella was een van die talle vroue wat haar skryfwerk ingestuur het.

“Sy het onmiddellik haar hand opgesteek. Skrywers voel baie keer hulle werk so hard aan ‘n projek, maar daar is geen deurbraak nie. Daarom het ek besluit om vier vroueskrywers te help. Isabella het op so ‘n kreatiewe manier oor haar uitdagings geskryf – daar was geen ‘wieliewallie-gedigte’ nie.”
Isabella sê vir haar is God die stilte in die geraas.
“Stilte is wanneer jy Hom kan hoor. Enigeen wat moedeloos is, wat sukkel met wanhoop moet weet dat al is daar niemand in jou lewe wat jou verstaan of kan troos nie, Hy kan. Baie vroue het niemand om mee te gesels nie. Skyf dit neer, gebruik dit as ‘n uitlaatklep vir die pyn.
“Later sal jy besef dit kan genesing bring. My teleurstelling was groot, maar die herstel was die mooiste van alles.”
Dit was ‘n trotse dag vir Isabella se man, Bevan, en die res van haar gesin toe sy onlangs haar digbundel by die Franschhoek-biblioteek bekendgestel het.
Bevan sê sy vrou is ‘n seëning van die Here en hy is daagliks dankbaar vir haar liefde en die inspirasie wat sy bied. “Ja daar was donker dae in ons huwelik en ek praat dit nie goed nie, maar vandag staan ons sterker as gevolg van die ervaring,” vertel hy.
Isabella se dogter, Ilza, het gesê haar hart loop oor van trots, nie net vir haar ma nie, maar vir beide haar ouers.
Isabella sê sy het reeds planne vir haar volgende digbundel en intussen hoop sy haar debuut inspireer ander vroue.
• Kontak Isabella by 078 947 9678 vir ‘n kopie van Stilte in die geraas.







You must be logged in to post a comment.