“Ons slaap nou saans soos babatjies …”
Ná weke van rustelose aande en angstigheid kan Katrina Coetzee (50) en haar gesin rustig slaap nadat die slang in hul dak gevang is.
Eikestadnuus het vandeesmaand berig van Coetzee en haar gesin se probleem met ‘n ongewenste huismaat wat in die dak van hul ou plaashuis gewoon het.
Die familie, wat op ‘n plaas net buite Stellenbosch woon, was raadop omdat hulle oortuig was ‘n slang het hom in die dak tuisgemaak, maar om by die slang te kom, moes die dak heeltemal verwyder word omdat die huis geen solder het nie.
LEES OOK: ‘Slang’ in die dak pla Stellenbosch-gesin
“Ons woon gratis in die huis, omdat my pa destyds op De Hoop-plaas gewerk het. Die plaas is intussen vele kere verkoop en De Hoop is verdeel. Nou is ons verantwoordelik vir die huis se instandhouding. Ons hoop iemand kan ons help met ‘n skenking van dakplate,” het Coetzee vroeër die maand verduidelik.
Verlede Woensdag (18 Februarie) was daar egter vreesaanjaende dog goeie nuus vir die familie – die slang het uiteindelik sy verskyning gemaak en uit die dak na een van die slaapkamers geseil.
“My suster se dogter was besig om haar baba (1 jaar) in een van die slaapkamers aan die slaap te maak. Sy was op die boonste bed van die stapelbed toe sy links kyk en daar was die slang toe. Al wat sy kon doen was afspring en haar kind gryp,” vertel Coetzee.

Coetzee sê gelukkig was haar 81-jarige ma in die kombuis en sy kon vinnig uit die huis.
“Hulle het my by die werk gebel. Ek sê toe hulle moet die kombuis toe maak en ek skakel die slangvanger.”
Die slang, wat deur die plaaslike slangvanger Emile Rossouw as ‘n Kaapse kobra identifiseer is, seil al ‘n maand lank in die plaashuis se dak rond.
Coetzee sê die dae wat die gesin moes luister hoe die slang bo hul seil en rotte vang en vreet, is gelukkig verby.”Ek het ‘n week of twee gelede begin bekommerd raak omdat die rotte stiller was. Ek meen toe as die slang dan nie meer rotte het om te eet nie, gaan hy afkom.”
Coetzee vermoed die slang het reeds verlede Dinsdag in die slaapkamer beland omdat sy daardie aand ‘n geluid “soos iets wat omval”, gehoor het.
Sy was egter te bang om in die donker te kyk wat gebeur het, maar die volgende oggend was sy so bang dat sy nie eens haar skoene wou aantrek nie uit vrees dat die slang dalk in haar skoene was.

Foto: Skermgreep/Stellenbosch Snake Removals
“Dit is ‘n groot verligting, maar ek het steeds vrees in my. Ek het die kommentaar op Facebook gesien [na aanleiding van die berig] en daar was mense wat regte onvaspaste kommentare gemaak het, maar daar was ook mense wat vir my boodskappe van bemoediging gestuur het.”
Coetzee sê sy is oortuig sy het die slang uit sy wegkruipplek gebid.
Aanvanklik het slegs ‘n paar mense die slang in die dak gesien, maar volgens
Coetzee se susterskind en een van die plaaswerkers het die slang soos ‘n volwasse Kaapse kobra gelyk. En dit is presies die slang wat Rossouw en Lijan Harrison, van Lijan Harrison Reptile Rescue, agter een van die klerekaste gevind het.
Rossouw, wat sedert kindsbeen slange aanhou, was oortuig die slang sou die een of ander tyd sy verskyning maak aangesien die sinkdak te warm geraak het vir die slang om permanent daar te lê.
Hy sê die beste ding om te doen wanneer jy ‘n slang sien, is om weg te beweeg, maar tred te hou waarheen die slang beweeg en hulp in te win.






You must be logged in to post a comment.