Leerders van Klapmuts Primêr in die skoolsaal.
Verskeie klasse van Klapmuts Primêr kry onderrig in die skoolsaal.

Ouers, opvoeders en leerders van Klapmuts Primêr eis antwoorde oor die dood van die agtjarige Matthew Baartman en oor hoekom die skool nou sonder elektrisiteit is as Matthew nie doodgeskok is soos aanvaklik gesê is nie.

Onderwysers van die laerskool sê hulle kan geen duidelike antwoorde uit die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKOD) kry oor hoekom hulle lesse van hul klaskamers na die skoolsaal moes skuif nie. Graad R- en graad 1-leerders se klasse is vroeër vandeesmaand na die saal geskuif waar die leerders nou onderrig ontvang.

Eikestadnuus verneem sowat ses klasse is nou saam in die saal. Vyftien klasse is glo nou ontoeganklik met seker klasses wat slegs op ‘n rotasiebasis by die skool is.

Eskom het intussen die elektrisiteitstoevoer na die skool afgeskakel.

Volgens die WKOD is hierdie besluit deur die kragverskaffer gedoen. Kerry Mauchline, ‘n WKOD-woordvoerder, het by navraag gesê geen amptelike verduideliking vir die afskakeling van die elektrisiteit is deur Eskom verskaf nie, maar het verseker die departement werk om klarigheid oor die aangeleentheid te kry.

Sy kon ook nie sê wanneer die toevoer herstel sou word nie. Mauchline kon dus nie bevestig wanneer leerders terug na hul klaskamers sal kan keer nie.

Eskom se besluit volg vermoedelik nadat Matthew op Vrydag 23 Januarie na die plaaslike kliniek gehaas is nadat hy by die skool seergekry het.

Wyle Matthew Cheswin Baartman (8).
Wyle Matthew Cheswin Baartman (8).

Aanvanklike gerugte was dat die seun doodgeskok is terwyl hy water by ‘n buitekraan gedrink het en waar daar ‘n lewendige kragdraad was.

Die WKOD het na afloop van die voorval hierdie weergawe van gebeure ten sterkte ontken.

Mauchline het Maandag (16 Februarie) gesê ‘n assesseringspan van die departement, wat ‘n elektriese kontrakteur ingesluit het, was dieselfde dag van Matthew se dood op die skoolperseel.

LEES OOK: Vrae oor Klapmuts-seun (8) se dood

“Geen bewyse kon gevind word wat die bewering [dat Matthew geskok het] kon staaf nie en die skool het die volgende Maandag heropen,” het Mauchline gesê.

Die skoolgemeenskap is egter nie hiervan oortuig nie.

Volgens Sonja Baartman, Matthew se ma, is sy aanvanklik meegedeel haar kind het geskok. Eikestadnuus het na die Klapmuts-polisie uitgereik vir die jongste oor die ondersoek na Matthew se dood, asook die oorsaak van sy dood, maar het teen druktyd geen terugvoer ontvang nie.

Navrae is ook aan Eskom gerig oor hoekom die elektrisiteit by die skool afgeskakel is, maar geen reaksie is teen druktyd ontvang nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article