Misdaadvoorkoming en gemeenskapsveiligheid in Jonkershoek en Stellenbosch Sentraal het ‘n hupstoot gekry met die onlangse opgradering van die Jonkershoek- spesiale belastingsgebied (JSRA) en die Stellenbosch Improvement and Transformation Initiative (Siti) se beheerkamer.

Veiligheidsbeamptes in die beheerkamer maak seker dat dag en nag ‘n oog oor die buurte gehou word deur middel van ‘n kringtelevisienetwerk, wat by Boland Kollege gehuisves word.

‘n Spesiale belastinggebied is ‘n gebied binne ‘n munisipale gebied waar inwoners instem om ‘n bykomende tarief te betaal vir verbeterings in openbare veiligheid, instandhouding en infrastruktuur.

Veiligheidsbeamptes wat deel is van die JSRA en Siti beman die monitors van die beheerkamer. Foto: Yaël Malgas

‘n Bykomende spesiale belastingsgebied is in Julie in die lewe geroep, met die Siti wat die Stellenbosch-middedorp dek. Veiligheidsbeamptes in vier veiligheidsmotors is tans 24 uur per dag in Jonkershoek en die middedorp bedrywig. Die betrokke beheerkamer is deur die kollege vir R1 per maand aan die JSRA beskikbaar gestel.

Belinda Hattingh, die bestuurder van die JSRA en Siti, sê die instansie is ‘n langstaande vennoot van die JSRA. “Hul toewyding aan die veiligheid en welstand van die breër Stellenbosch-gemeenskap, veral binne ons SRA, word opreg waardeer en is ‘n voorbeeld van prysenswaardige openbare samewerking,” sê sy.

Volgens Jacques van Aswegen, die JSRA-voorsitter, is dit slegs danksy die bloed en sweet van ‘n handjie vol inwoners 15 jaar gelede dat die JSRA uitgebrei het tot wat dit vandag is. Planne is reeds deur die Siti-span gemaak om hul eie uitgebreide kameranetwerk te ontwerp om saam met die gevestigde JSRA-netwerk in die beheerkamer te integreer.

“In die middedorp het ons ‘n unieke situasie, omdat ons nie slegs inwoners het nie. Dit is waar almal hul inkopies doen, kom om te eet ensovoorts, wat beteken ons strukture moet van so ‘n aard wees om almal in ag te neem – dit is almal se plek,” verduidelik Daniel Lutz van Siti.

Rolspelers van beide die JSRA en Siti by die opening van die opgradeerde beheerkamer. Foto; Yaël Malgas

Die twee organisasies het reeds planne om hul netwerk uit te brei. Meer kameras, opgraderings aan die stelsels en ‘n gevorde videobestuurstelsel is in die vooruitsig.

Inwoners kan die beheerkamer deur WhatsApp en Telegram kontak en die publiek word gevra om enige verdagte of misdadige aktiwiteite regstreeks by die JSRA- en SITI-beheerkamernommers aan te meld.

Hattingh bedank al die rolspelers, insluitend die Stellenbosch-munisipaliteit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article