JOHANNESBURG – Vir die Afrika-vasteland en vir Suid-Afrika is dit ‘n historiese geleentheid wanneer die G20-leiersberaad eerskomende naweek plaasvind.
Dié beraad op 22 en 23 November vind vir die eerste keer op die Afrika-vasteland en boonop in Johannesburg onder die roterende voorsitterskap van Suid-Afrika plaas. Hiertydens sal staatshoofde en verteenwoordigers van talle lande en toonaangewende ekonomieë by die Johannesburg Ekspo-sentrum (JEC) te Nasrec byeenkom.
Die Groep van 20 (G20) is ‘n internasionale forum wat in 1999 gestig is, en bestaan uit ontwikkelende en ontwikkelde lande wat poog om oplossings vir ekonomiese en finansiële probleme oor die wêreld heen te vind.
G20 word die “Groep van 20” genoem omdat dit aanvanklik 19 individuele lande plus een groot streeksorganisasie, die Europese Unie (EU), ingesluit het. Toe die Afrika-Unie (AU) in 2023 bygevoeg is, het die totale aantal permanente lede en organisasies 21 geword, hoewel die naam nie verander is nie. Suid-Afrika is die enigste lidland uit Afrika.

Verteenwoordig ongeveer twee-derdes van wêreldbevolking
Die G20-lidlande verteenwoordig 85% van die wêreld se bruto binnelandse produk (GDP), meer as 75% van internasionale handel, en ongeveer twee-derdes van die wêreldbevolking.
Hierdie beraad is begin ná die finansiële krisis wat oor die wêreld heen plaasgevind het met die ineenstorting van die Lehman Brothers-bank. Die bestaande G20-vergadering van ministers van finansies en goewerneurs van die sentrale bank is opgradeer na die vlak van staatshoofde, en die eerste G20-beraad is in November 2008 in Washington DC gehou.
Lande met lidmaatskap is Argentinië, Australië, Brasilië, Kanada, China, Frankryk, Duitsland, Indië, Indonesië, Italië, Japan, Republiek van Korea (Suid-Korea), Mexiko, Rusland, Saoedi-Arabië, Suid-Afrika, Turkye, Verenigde Koninkryk en Amerika, asook die EU en die AU.
Die G20 het nie ‘n permanente sekretariaat of personeel nie en die president- of voorsitterskap roteer jaarliks tussen die lidlande. Samestelling van die agenda vind in oorleg met ander lede en in reaksie op ontwikkelings in die wêreldekonomie plaas. Die voorsitterskap word deur ‘n driemanskap ondersteun wat uit die huidige, vorige en volgende gasheerland bestaan.
Suid-Afrika se voorsitterskap bepaal tema
Suid-Afrika het die G20-voorsitterskap op 1 Desember 2024 opgeneem, en hou dit tot einde November, waarna dit op 1 Desember aan Amerika oorhandig word.
Vanjaar se tema, voorgestel onder Suid-Afrika se voorsitterskap, is “Solidariteit, Gelykheid, Volhoubaarheid”. Die voorspelling is dat vanjaar se G20-beraad veel meer sal fokus op die kwessies van ontwikkelende lande en “Global South” se voorkeursake.

Tydens die Staatsrede van 2024 het president Cyril Ramaphosa gesê: “Ons sal Afrika se ontwikkeling bo-aan die agenda plaas wanneer ons die G20 in 2025 aanbied.”
Suid-Afrika, wat deur die Wêreldbank as die wêreld se land met die meeste ongelykheid aangewys is, het ‘n span kundiges opdrag gegee om wêreldomvattende welvaartsongelykheid te analiseer en oplossings vir die beraad aan te bied.
Die span, gelei deur die Nobelpryswenner-ekonoom Joseph Stiglitz, het ‘n beroep gedoen op die skepping van ‘n tussenregeringspaneel om die “ongelykheidsnoodtoestand” wat 2,3 miljard mense oor die wêreld heen honger laat, aan te spreek.
LEES OOK: South Africa launches Nobel Prize-winning panel to combat global inequality
Die Suid-Afrikaanse regering het R691 miljoen (38,7 miljoen USD) ter voorbereiding van die G20-beraad begroot.
Wat is die besprekingspunte?
Volgens g20.org is daar hoë verwagtinge dat Suid-Afrika ‘n progressiewe, mensgesentreerde, asook ontwikkelingsgeoriënteerde voorsitterskap sal lei. Sy deelname word gelei deur sy vier strategiese buitelandse beleidspilare: nasionale belange, Afrika-agenda, Suid-Suid-samewerking en multilateralisme.
Suid-Afrika sal sy G20-voorsitterskap gebruik om steun te bepleit en mobiliseer vir ontwikkelende ekonomieë in Afrika en “Global South”, voortbouend op die pogings en suksesse van die Indonesiese, Indiese en Brasiliaanse voorsitterskappe om die ontwikkelingsagenda te bevorder. Globale skuldhervorming sal ook aangespreek word.

Suid-Afrika het die volgende vier oorkoepelende voorkeursake vir sy G20-voorsitterskap gestel:
- versterking van weerbaarheid en -reaksie tydens rampe;
- stappe om skuldvolhoubaarheid vir lae-inkomstelande te verseker;
- mobilisering van finansiering vir ‘n regverdige energie-oorgang; en
- benutting van kritieke minerale vir inklusiewe groei en volhoubare ontwikkeling.
Geboikot deur Amerika
Die Amerikaanse president, Donald Trump, het vandeesmaand afgekondig dat geen Amerikaanse amptenaar die beraad sal bywoon nie, en Suid-Afrika se voorsitterskap as ‘n “totale skande” beskryf.
‘n Boikot van Amerika teen die beraad kan Suid-Afrika se agenda ondermyn, maar die Suid-Afrikaanse regering sê hulle sien steeds na ‘n “suksesvolle” beraad uit. Ramaphosa sê Amerika se afwesigheid by die beraad is Amerika se verlies en dat dit nie dié byeenkoms van wêreldleiers op ekonomiese front sal ontspoor nie.
Ramaphosa is ook van mening dat fundamentele besluite op die beraad geneem sal word waarvan Amerika hulself weens die boikot uitgesluit het.
LEES OOK: Ramaphosa dismisses US G20 boycott: ‘Their absence is their loss’
Dié boikot volg op spanning tussen Amerika en Suid-Afrika wat reeds oor etlike maande opbou.
Intussen het die president van Argentinië, Javier Milei, ook aangekondig dat hy nie die beraad sal bywoon nie. Daar is ook bewerings dat Mexiko se president, Clauia Sheinbaum Pardo, dit nie gaan bywoon nie, en so ook China se president Xi Jinping.
Is Johannesburg gereed?
Johannesburg is die tuiste van ongeveer ses miljoen mense. Dit is die ligging van Afrika se rykste vierkantmyl, maar word ook deur verkrummelende infrastruktuur, gebrek aan dienste en chroniese wanbestuur gekenmerk.
Ramaphosa het in Maart teen die verval in die stad uitgevaar en vasbeslote om Afrika se nywerheidskragbron van wêreldverleentheid te spaar, omvattende skoonmaak-aksies en verbeterings geëis. Uitgebreide skoonmaak-aksies is sedertdien in verskeie dele van die stad, en veral in die dele waar die G20-besoekers sal beweeg, aan die gang.
LEES OOK: Johannesburg gets last-minute makeover as G20 leaders arrive
Uiteenlopende menings is hieroor uitgespreek, met die strekking van “te min, te laat” en “oëverblindery” as opsomming van die mees algemene menings.
Intussen is verskeie toerisme-bestemmings in en om Gauteng, en in die res van die land, op die amptelike webwerf van die G20-leiersberaad geplaas.
Veiligheid opgeskerp; verkeersontwrigtings verwag
In ‘n mediaverklaring uitgereik deur Gauteng se provinsiale regering sê Elijah Mhlanga, woordvoerder, dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens in samewerking met ander wetstoepassingsagentskappe kragtige planne gereed het om die veiligheid van alle deelnemers aan die beraad te verseker.
‘n Gekoördineerde en omvattende veiligheidstrategie is ook van toepassing op Gauteng se vier hooflughawens: O.R. Tambo Internasionale Lughawe, Fireblade-lughawe, Lanseria Internasionale Lughawe en die Waterkloof Lugmagbasis.
Mhlanga sê die voortgesette oprigting van geslote kringtelevisie-kameras (CCTV) oor groot dele van Gauteng is deel van die veiligheidsplan.
Motoriste in Gauteng is aangeraai om Saterdag 15 November gereed te maak vir tydelike padsluitings en onderbroke verkeersontwrigtings in dele van Johannesburg. Dit was weens wetstoepassingsagentskappe wat gesamentlike operasies voor die komende G20-leiersberaad opskerp. ‘n Gekoördineerde operasie is vir vanaf 09:00 tot 13:00 beplan.
Snelweë wat na verwagting geraak sou word, sluit in dele van die N1, M1 en N12. Belangrike hoofweg- en stedelike paaie is 5de Straat, Maudestraat, Daisystraat, Rivoniaweg, Graystonrylaan, Katherinestraat, Whiteleyweg, Melrose-boulevard, Athol Oaklandsweg, Oxfordweg ,Glenhoveweg, Jan Smutslaan, Winnie Mandela-rylaan, Hendrik Potgieterweg, Randse Skouweg, Nasrecweg en dele van die Golden Highway.
Dieselfde kan vir die naweek van die beraad verwag word.
- Die minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Ronald Lamola, sal die media om 12:00 op Maandag 17 November inlig oor Suid-Afrika se gereedheid om die G20-leiersberaad aan te bied. Dit vind by die G20-mediasentrum van die JEC by Nasrec plaas.






You must be logged in to post a comment.