Eduan Kruger (40), ‘n voormalige inwoner van Malmesbury en oudleerder van Hoërskool Swartland, het hom in Julie in die konflikgeteisterde gebied op die grens van Thailand en Kambodja bevind. Geweld tussen dié twee lande het op 24 Julie weer opgevlam te midde van ‘n jare lange dispuut oor die grens.
Minstens 12 mense is op die dag dood.
Eduan en ‘n kameraman, wat saam met hom uit Singapoer na Kambodja gereis het, was sowat 20km van waar die geweld uitgebreek het. Hulle was vir werksdoeleindes na ‘n nabygeleë woud onderweg.
Eduan is steeds in Kambodja by ‘n plaaslike distileringsaanleg, waarheen hy en die kameraman op 20 Julie gereis het. Volgens sy pa, Rico Kruger van Malmesbury, was sy seun in daardie stadium onbewus van die situasie wat in die tussentyd vererger het. Spanning oor die grensgeskil, wat eeue gelede begin het, het glo in Mei weer opgevlam nadat ‘n soldaat van Kambodja in ‘n geveg dood is, berig die BBC.
‘n Soldaat van Thailand het in Julie sy been in ‘n landmynontploffing verloor, wat Thailand aangespoor het om sy grensposte te sluit, Kambodja se ambassadeur te verjaag en sy eie terug te roep. Dit het ‘n oor-en-weer-geskietery deur [soldate van] beide lande ontketen.
Volgens die NRP-nuuskannaal het Thailand beweer Kambodja met vuurpyle afgevuur terwyl Kambodja vir Thailand van lugaanvalle beskuldig het.
LEES MEER: Military clashes erupt between Thailand and Cambodia
Thailand het 28 Julie ná vredesonderhandelinge op ‘n onmiddellike en onvoorwaardelike skietstilstand ooreengekom. Dit het gevolg nadat minstens 35 mense oor die kort tydperk in gevegte dood is en meer as 300 hul huise moes verlaat, berig The Gaurdian.
Die gevegte het Maandag (28 Julie) nog voortgeduur – ure voordat onderhandelinge sou plaasvind.

Eduan het met hul aankoms in Kambodja in ‘n videogreep op sosiale media vertel hoe die lughawe in Singapoer heeltemal leeg was, wat vreemd is vir daardie lughawe. Volgens Rico het Eduan vertel hoe die plaaslike inwoners van Thailand met hul aankoms daar aangesê is om pad te gee. “Hy sê hul lewens was nooit in gevaar nie, maar in sy WhatsApp-boodskappe aan ons het hy bang geklink,” voeg Kruger wel by.
Eduan het in ‘n boodskap verduidelik dat ‘n krygswet afgekondig is, wat duisende mense na veiliger dele laat vlug het. Eduan-hulle was op 25 Julie 20km weg van die konflik op die grens naby ‘n lodge in Thailand en was die enigste mense buiten die eienaar wat daar was. Kosvoorraad was wel ‘n probleem aangesien alle winkels gesluit was.”
Eduan woon en werk al 17 jaar lank in Amman, die hoofstad van Jordanië, vanwaar hy die handelsmerk Ensar Oud, ‘n eksklusiewe en duur parfuum, bestuur en hul produkte versprei. Die parfuumonderneming waar hy werk, koop ‘n spesifieke boom, genaamd die Aquilaria, in die Ooste. Dit kom onder meer in Thailand, Kambodja, Maleisië en Vietnam voor, verduidelik sy pa.
“Die bome is baie skaars,” voeg hy by. Die hout word tot pulp verwerk en dan gedistilleer om ‘n olie te verkry wat baie geld werd is. Volgens hom skei die boom ‘n swam af wat ‘n besonderse geur aan die boom se pulp en olie gee. “Sy woorde was ‘hulle kan nie omdraai sonder die olie nie, dit is te veel werd’.”
Eduan verduidelik hulle was gedurende die konflik aan twee dele van die grens. “Ons was eers by die “Koh Kong”-grens – reg op die grens – net toe dinge begin het en voordat ons geweet het daarvan. Ons was egter in Borai, omtrent 20 minute van die grens af, toe ons die nuus hoor.”
Die nuus van die geweld het soos ‘n veldbrand versprei terwyl alle inwoners op pad uit was. “Ek dink hulle het aanbeveel dat almal binne 50km tot 80km van die grens af moet vlug.”
Hy sê verder hulle het eers laat die aand van die krygswet, wat ingestel is, op pad na Borai in hul motor uitgevind. “Ons was [Maandag 28 Julie] in Trat op pad na Bangkok en net buite die gevaarsone toe die skietstilstand afgekondig is. Daarna is ons Kambodja toe, maar nie via die grens soos ons aanvanklik beplan het nie.”
Eduan het ná sy matriekjaar by HSS eers vir ‘n jaar in Engeland vertoef en daarna sy studies aan die Universiteit Stellenbosch begin. “Eduan het van kleintyd al ‘n belangstelling in die piramides, Egipte en farao’s gehad. Van sy eerste jaar op universiteit het hy private klasse in Arabies geneem.”
Ná sy studies in Stellenbosch het hy hom by ‘n Arabiese kollege in Yemen ingeskryf. Vandag praat, skryf en lees hy Arabies vlot, voeg Rico trots by. Met sy verblyf daar was hy volgens sy ouers gedurig aan die konflik daar blootgestel.
Hy het op 1 Augustus weer ‘n video op Facebook geplaas waarin hy almal se ondersteuning en gebede vir hul veiligheid bedank het. Hulle het op 5 Augustus veilig met die olie in Singapoer aangekom nadat hulle die vorige dag vanuit Kambodja vertrek het.






You must be logged in to post a comment.