Die rower se lyk word deur lede van die forensiese patologiedienste van die toneel af verwyder. Foto: Rasaad Adams

Drie van die vier mans wat Maandag (22 September) die Pep Stores-winkel in Wellington se Hoofstraat beroof het, sal Donderdag in die plaaslike landdroshof verskyn.

Paarl Post het Maandag berig dat die vierde verdagte ‘n paar honderd meter vanaf die winkel doodgeskiet is, na hy glo ‘n vuurwapen op die polisie gerig het.

LEES: Vermeende rower deur polisie in Wellington doodgeskiet

‘n Ooggetuie het Maandag op die toneel aan Paarl Post vertel dat die gewapende mans die winkel omstreeks 13:30 binnegestorm het.

Die klante en van die personeel is glo in een van die vertrekke aan die agterkant van die winkel toegesluit, vertel die ooggetuie.

Volgens haar was die polisie binne enkele minute nadat die mans by die winkel toegeslaan het, op die toneel, waarna ‘n skietery uitgebreek het.

Een verdagte is in Voorstraat, sowat 300 m van waar die Pep Stores-winkel geleë is, noodlottig gewond.

Wesley Twigg, ‘n provinsiale polisiewoordvoerder, het in ‘n verklaring gesê die polisie het inligting ontvang oor twee verdagte voertuie wat Maandagmiddag in die parkeerterrein van ‘n supermark gestaan het.

“Met hul aankoms op die toneel het die twee voertuie, ‘n silwer en ‘n swart Kia Picanto, weggejaag.

“Hulle het vier onbekende mans opgemerk wat in die rigting van die taxistaanplek gehardloop het en hulle te voet agternagesit.

“Een van die verdagtes het die polisiebeamptes met ‘n vuurwapen gedreig en is daarna noodlottig gewond toe die polisie op hom geskiet het,” sê Twigg.

Volgens Twigg is nog drie volwasse mans in hegtenis geneem.

Hy sê die polisie het op twee 9-mm-pistole met ammunisie asook ‘n plastieksak met selfone beslag gelê.

Die Wellington-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het die suksesvolle inhegtenisnemings verwelkom.

“Ons spreek ons opregte waardering uit teenoor die lede van die Wellington- polisie vir hul vinnige en doeltreffende optrede.

“Ons is veral dankbaar dat die polisie hul lewe op die spel geplaas het om die gemeenskap te beskerm en dat hul vinnige optrede moontlike verdere misdaad verhoed het.

“Hierdie is ‘n bewys van hul verbintenis tot die veiligheid van ons gemeenskap en ons sal aanhou om met wetstoepassingsagentskappe saam te werk om ‘n veilige en misdaadvrye omgewing vir almal te help verseker,” het Jarque Jacobs, die voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum, by navraag gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article