Die lewe van twee families het onherroeplik verander nadat Kristoff Abrahamse (35), Paul Julius (41) en Chandré Daniels (46) van Malmesbury verlede Saterdagaand (3 Oktober) in ‘n grubotsing in Bokomoweg dood is.
Swartland Gazette het verlede Dinsdag berig drie mense is volgens inligting in ‘n botsing, waarin twee ligte voertuie en ‘n vragmotor betrokke was, dood. ‘n Vierde persoon en die bestuurder van die ander voertuig – het die ongeluk oorleef.
Julius, Daniels en Abrahamse is Sondag (11 Oktober) finaal ter ruste gelê.
Gurny Daniels (47), Chandré se ouer broer, sê byna ‘n week ná die noodlottige botsing het hy nou vrede. “Ek wil nie namens almal praat nie, maar ek het afsluiting gekry. Dit was ‘n ongeluk. Dit is wat dit was.”
Tog dra hy as die oudste broer onder die sibbe swaar aan sy jongste broer se dood.
Chandré (46) se skoonsuster, Nadia, beskryf hom as ‘n lieflike mens. “Hy was die soort mens wat sy laaste sou gee om ander te help. En ek sê dit nie net omdat hy dood is nie – dit was werklik die geval”. Volgens haar het hy nie geskroom om haar te hulp te snel wanneer iets met haar motor fout was nie. Die feit dat hy ‘n motorelektrisiën was, was ‘n bonus.
Gurny en Nadia vertel hoe Chandré hom oor die jare as ‘n motorelektrisiën opgebou het. Hy het reeds op 14 aan elektriese toebehore begin torring – veral haardroërs. Nie lank daarna nie het hy onderwysers by die skool se voertuie herstel.
‘Vuil mechanic vol olie’
Hy sal onthou word as die “vuil mechanic vol olie met plakkies aan”, vertel Gurny, “maar Chandré was ook saggegeaard en emosioneel.”

Chandré laat ses kinders agter, van wie die jongste dogter agt en die oudste dogter 26 jaar oud is. Sy tweelingseuns Mark en Matthew was twee jaar gelede hul skool se topmatrikulante.
“Hy het vir sy kinders gelewe,” voeg Nadia by. “Ek weet nie hoe hulle sonder hom gaan klaarkom nie. Hy was hul alfa en omega en hulle was sy trots. Al ses kinders het die mooiste maniere en is ook saggegaard en stil soos hul pa. Hy was ‘n goeie pa.”
Gurny meen afgesien van die feit dat hulle broers was, was Chandré sy eerste maatjie. “Hy was daar van dag een af.”
Hulle sou die Saterdag van die ongeluk bymekaarkom om behoorlik op te vang. Ongelukkig moes Gurny weens werk kanselleer. “Ons het dit na dié Saterdag uitgestel. Nou begrawe ek hom.”
Chandré was volgens sy familie nie veel van ‘n plannemaker nie. “Hy was ‘n môre-sorg-vir-homself-soort mens”.
Sprake van ‘n werkswinkel bou was wel in die pyplyn nadat hy altyd van die huis afgewerk het.
“Hy was briljant. Die gemeenskap sal getuig daarvan.”
Talle gesinne gaan nou sukkel
By die neefs se onlangse roudiens het die familie gehoor talle huishoudings gaan moontlik nie deur die volgende maand kom nie noudat Chandré nie meer daar is nie.
“Ons het geweet hy was ‘n goeie mens. Hy was daar vir sy eie gesin, maar hy was ‘n mens vir die wêreld.”
Gurny, ‘n paramedikus, het hom na die toneel gehaas nadat ‘n kollega hulle in kennis gestel het. “Ek het self my eie broer uit die wrak gesny. My woorde was nog: “As ek dit vir ‘n duisend mense kon doen, kan ek dit vir my broer ook doen.
“Ek was dankbaar vir die geleentheid om hom self uit te haal. Dit was vir my genesend om daar te wees vir hom en hom ‘n laaste drukkie te gee. Ek dink ons het saam gehuil, al was hy nie meer met ons nie. Ek is nie ‘n emosionele man nie, maar ek het gehuil. Ek het vrede.”
Paul Julius (41), Chandré se neef, word deur talle beskryf as ‘n joviale mens wat altyd grappies gemaak het. Gurny voeg by hoe Paul, beter bekend as ”Paultjie”, geweet het hoe om ander se dag op te vrolik. “Ek dink hy het daardie gawe by sy ma geërf,” lag hy en sê hy het Paul nog nooit kwaan gesien nie. Paul, wat vir The Courier Guy gewerk het, laat sy jonger broer Errol en sy enigste seun agter. “Sy seun was ook sy trots,” voeg Gurny by. Beide Paul en Chandré se ouers is reeds oorlede. “Hul ma’s, Rona en Miranda (né Adonis) was hegte susters en baie na aan mekaar,” vertel Nadia. “Hulle is ‘n dag uit mekaar tydens Covid om verskillende redes oorlede.”
Goeie mens met sagte hart
Errol (35), die jonger broer van Paul, sê hy was ‘n baie goeie mens met ‘n sagte hart. “Hy was altyd bereid om ander te help, selfs al moes hy self swaarkry. Hy was ‘n regte mense-mens wat altyd grappies gemaak en mense laat lag het. Ek sal hom altyd onthou vir sy goeie hart, sy humorsin en die liefde wat hy vir sy seuntjie gehad het.”
Vir Errol lê sy broer se skielike afsterwe swaar op sy hart. “Ek sukkel nog om vrede te maak met sy skielike dood. Alles het so onverwags gebeur en dit is moeilik om te aanvaar dat hy nie meer hier is nie. Ons ouers is ook albei oorlede, dus het ons eintlik net mekaar gehad. Sy dood laat ‘n groot leemte in my lewe.”
Paul laat sy seun, familie en vriende wat hom baie liefgehad het, agter. “Hy sal altyd in ons harte bly.”
Kristoff Abrahamse (35), wat deel was van die Swartland-munisipaliteit se wetstoepassingsafdeling en een van die eenheid se K9-hanteerders, werk al sedert 1 Julie 2019 by die munisipaliteit. Hy was ‘n toegewyde lid van die wetstoepassingspan en sal baie gemis word.


Abrahamse, beter bekend as “Kribo”, laat ‘n groot leemte – nie net in sy werksplek nie, maar ook onder sy familie en vriende.




You must be logged in to post a comment.