VREDENBURG – Die verkiesing van ’n nuwe uitvoerende burgemeester tydens ’n spesiale raadsvergadering van die Saldanhabaai-munisipaliteit op 26 Februarie 2026 het groot drama en onsekerheid veroorsaak. Die vergadering is regstreeks op YouTube uitgesaai.
Marius Koen van die DA het Tyrone Williams van Good met net een stem gewen, maar die uitslag het onmiddellik debat en kritiek onder raadslede en inwoners uitgelok.

Die konflik het ontstaan toe ANC-raadslid Theresa Rossouw gesê het haar stembrief vir Williams het ‘n merk opgehad wat haar verhoed het om haar keuse korrek in te dien.
Rossouw sê sy het herhaaldelik vir ’n skoon stembrief versoek, maar haar versoek is deur die munisipale bestuurder, wat die stemproses gelei het, geweier. Sy vermoed dat daar moontlik “vuilspel” aan die gang was.
Volgens Rossouw sou die verkiesing moontlik ’n herstemmery vereis het indien haar stembrief aanvaar is. Sy beklemtoon dat ’n tweede bedorwe stembrief ook bygedra het tot die verwarring, hoewel dit uiteindelik as skoon verklaar is. “Ek het gevoel dat my stem nie behoorlik verteenwoordig is nie en dat die proses nie volledig deursigtig was nie,” sê Rossouw.
Williams stem saam dat die situasie ongelukkig is en sê dat hulle die uitslag moontlik deur regsaksie gaan betwis.
Hy sê die gemeenskap sou ’n herstemmery eerder verwelkom het om die werklike wil van die raad en inwoners korrek te reflekteer. “Ons is almal hier om die beste vir die gemeenskap te doen, en ek glo ’n herstemmery sou seker gemaak het dat almal se stemme geldig en regverdig hanteer is,” sê hy.
Baie inwoners het reeds hul teleurstelling uitgespreek. Hulle sê die huidige proses het onsekerheid geskep en dat ’n herstemmery die enigste manier sou wees om vertroue in die raad se besluitneming te herstel. Ander het beklemtoon dat die konflik die indruk wek van politieke verdeeldheid binne die munisipaliteit, en dat dit onnodig spanning in die gemeenskap veroorsaak.
Die pos het oopgegaan met die voormalige burgemeester, André Truter, se bedanking einde Januarie vanjaar.
Die drama is verder kompliseer deur verkeerde bewerings oor ’n junior munisipale amptenaar tydens die vergadering. Volgens Ethne Lawrence, kommunikasie- en openbare betrekkingebeampte van die munisipaliteit, het die amptenaar geen rol in die politieke stemproses gehad nie. “Daar is in die openbaar gesê dat ’n junior amptenaar ’n stembrief opgeskeur het. Hierdie bewering is verkeerd, ongegrond en teenstrydig met die gevestigde prosedures en gedrag van ons personeel,” sê Lawrence.
Sy beklemtoon dat munisipale personeel streng administratief optree en dat hul werk deur wetgewing, interne beleide en etiese standaarde gereguleer word. “Om ’n werknemer in die openbaar te beskuldig op grond van ongeverifieerde inligting is onvanpas en onbillik. Dit kan ernstige skade aan reputasie berokken aan iemand wat geen politieke rol het nie,” voeg Lawrence by.
Die Saldanhabaai-munisipaliteit het hul verbintenis tot ’n professionele, onpartydige administrasie en die beskerming van personeel se integriteit herbevestig. Lawrence het benadruk dat die munisipaliteit akkurate openbare inligting verskaf.
Die raad en die gemeenskap staan egter steeds voor ’n uitdaging om die vertroue in die politieke proses te herstel.
Inwoners en politieke waarnemers sê dat die hele gebeure rondom die spesiale raadsvergadering is ’n voorbeeld is van hoe ’n klein administratiewe fout, soos ’n bedorwe stembrief, ’n groot impak kan hê op die geloofwaardigheid van die munisipaliteit. “Die situasie het vir almal ’n waardevolle les geleer oor deursigtigheid en die noodsaaklikheid van streng prosedures tydens belangrike stemprosesse,” sê ’n plaaslike gemeenskapsleier.
Alhoewel die nuwe burgemeester amptelik aangestel is, sal die drama en die debat oor die geldigheid van die stemme waarskynlik nog lank die gesprek in Saldanhabaai beheers.
’n Herstemmery, volgens verskeie bronne, sou moontlik die enigste manier wees om die gemeenskapsvertroue ten volle te herstel en toekomstige politieke konflik te voorkom.
- Môre (Vrydag 27 Februarie) vind nog ‘n spesiale raadsvergadering plaas. Dié keer om die aangepaste begroting wat voor einde Februarie goedgekeur moet word.






You must be logged in to post a comment.